Om Die Heerlikheid Van God Te Sien En Die Effek Daarvan!

Die Skrif maak dit duidelik dat dit vir elke ware navolger van Jesus moontlik is om die heerlikheid van God te sien en te verstaan. Inderdaad openbaar ons Heer sy heerlikheid aan almal wat dit ywerig soek. Verder glo ek dat die openbaring van God se heerlikheid sy mense voorberei vir die gevaarlike dae wat voorlê. Paulus sê dat hierdie openbaring " .magtig is om julle op te bou en julle 'n erfdeel te gee onder die geheiligdes" (Hand 20:32).

In teenstelling met die idee van sommige Christene, is die heerlikheid van God nie een of ander fisiese manifestasie nie. Dit is nie 'n ekstatiese gevoel wat jou oorval nie. Dit is ook nie 'n soort bonatuurlike aura of engelagtige lig nie. Eenvoudig gestel, God se heerlikheid is 'n openbaring van sy natuur en eienskappe!

Die Here self het sy heerlikheid in die Bybel gedefinieer. Daarom wanneer ons bid "Here, wys my U heerlikheid," bid ons eintlik "Vader, wys vir my wie U is." En wanneer die Here ons wel 'n openbaring van sy heerlikheid gee, is dit 'n openbaring van hoe Hy wil hê ons Hom moet ken.

Moses se ondervinding met die heerlikheid van God demonstreer hierdie waarheid. Die Here het Moses gestuur om Israel te red sonder om hom 'n volle openbaring te gee van wie die God van Israel is. Die Here het slegs vir hom gesê, "Gaan, en sê EK IS het jou gestuur." Maar hy het geen verduideliking gegee van wie "EK IS" was nie.

Ek glo dit is hoekom Moses uitgeroep het, "[Here], Ek smeek U, laat my tog U heerlikheid sien" (Exodus 33:18). Moses het 'n knaende honger en dors gehad om te weet wie die groot EK IS was - om te weet waaroor sy natuur en karakter alles gegaan het.

En die Here het Moses se gebed beantwoord. Eerstens het Hy Moses beveel om homself in die rotsskeur weg te steek. Tog, terwyl Moses op die verskyning van die heerlikheid van God gewag het, het hy geen donderweer, weerlig of aardbewings gesien nie. God se heerlikheid het egter na hom in 'n eenvoudige openbaring gekom:

"Die Here het by hom verbygegaan en het aangekondig dat die Here, die Here God, genadig en barmhartig, lankmoedig en oorvloedig in goedheid en waarheid is, genade aan duisende gee en vergifnis van sonde en ongeregtigheid..." (Exodus 34:6-7).

God openbaar slegs sy mag of heerlikheid met 'n doel. So, wat was Sy doel hier? Dit was seker tog nie om aan Moses 'n oomblik van ekstase te gee nie. En dit was nie om aan hom 'n nalatingskap te gee om aan sy kinders en kleinkinders te vertel nie.

Nee - God het Moses toegelaat om sy heerlikheid te sien sodat hy deur die aanskouing daarvan verander kon word! En dieselfde geld vir ons vandag. God openbaar sy heerlikheid aan ons, sodat wanneer ons dit sien, ons daardeur verander kan word na sy eie beeld!

Vandag, is Jesus Christus die geopenbaarde beeld van wie God is. Toe ons Here vlees geword het, was Hy die volle openbaring van die hemelse Vader se guns, genade, goedheid en gereedheid om te vergewe. God het alles van sy natuur en karakter in Jesus geplaas en die openbaring van sy heerlikheid is nou bedoel om ons na die beeld van Christus te verander!

Die apostel Paulus het die doel en effek daarvan om God se heerlikheid te sien goed verstaan. Hy het dit gesien as die krag om die aanskouer te verander - om 'n omwenteling in die lewe van elke volgeling van Christus te weeg te bring. "En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is" (2 Korinthiërs 3:18).

Paulus sê vir ons, "Wanneer u hierdie openbaring van God se heerlikheid kry - van sy liefde, goedheid, genade, lankmoedigheid, en gereedheid om te vergewe -- maak die Heilige Gees u oë voortdurend oop om die aspekte van sy natuur en karakter raak te sien. God sal Homself altyd toenemend aan u openbaar op die manier wat Hy aan u bekend wil wees!"

Paulus sê dan in 'n nog sterker toon: "Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van sy heerlikheid van sy erfdeel onder heiliges is" (Efésiërs 1:17-18).

Geliefdes, God wil aan ons sê, "Moses het my heerlikheid verstaan en nou wil Ek hê dat jy dit verstaan. Ek wil jou oë deur my Gees oopmaak sodat ek jou kan wys wie Ek is. Ek is nie net 'n God van wraak en oordeel nie. My natuur is liefde!"

"Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God." (3:17-19).

Paulus sê aan ons, "Laat hierdie openbaring van God se heerlikheid so werklik in u word sodat u gewortel en gegrond daarin word. Hou aan om dit te soek, te studeer, op te eis, toe te pas in jou lewe - totdat die visie van Christus se heerlikheid vanuit u voortkom! Soos u in die woord bly, en die openbaring van sy heerlikheid soek, sal u verander word. En u sal aanhou verander van heerlikheid tot heerlikheid!"

"Aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus..." (vers 21).

Toe Moses die openbaring van God se heerlikheid gesien het - sy goedheid, liefde, omgee, genade en vergifnis - het hy dadelik op sy knieë geval en aanbid. "Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval [in aanbidding]" (Exodus 34:8).

Die openbaring van God se natuur het hierdie man oorweldig. Hy het gesien hoe genadig, lankmoedig en geduldig God is met sy kinders - insluitende die hardkoppiges, die afgodedienaars en die wat Hom leed aangedoen het. Moses was so ontroer deur hierdie openbaring dat hy van agter die rots uitgehardloop het en aanbid het!

Dit is belangrik om te sien dat dit die eerste keer wat melding gemaak word dat Moses aanbid. Voor hierdie openbaring, vind ons dat Moses bid en intree, ween en by die God van Israel pleit, en van aangesig tot aangesig met Hom praat. Ons hoor hom die lof van God besing aan die oorwinningskant van die Rooi See. Ons hoor hom die Here aanroep by die bitter water van Mara. En ons hoor sy desperate roep tot God by Rafidim, toe die volk gereed was om hom te stenig omdat hy nie water voorsien het nie. Maar dit is die eerste keer dat "Moses aanbid."

Ek glo dat hierdie een versie ons baie van die kerk van vandag vertel. Dit sê dat 'n Christen ywerig kan bid sonder om ooit regtig te aanbid. Inderdaad, dit is selfs moontlik om 'n gebed soldaat en intersessor te wees en steeds nie 'n aanbidder van God te wees nie. Jy kan vir jou ongeredde kinders pleit, vir die behoeftes van die hele kerk bid, heilig en nederig daarin wees om God se las toe soek - en tog nooit regtig God waarlik aanbid nie!

Ek wil egter by al die definisies van wat dit beteken om te aanbid byvoeg nie. Daar is alreeds te veel boeke gepubliseer oor die verskeie tegnieke van aanbidding. Maar in kort wil ek graag dit sê: aanbidding kan nie aangeleer word nie! Dit is 'n spontane uitbarsting - die werk van 'n hart wat alreeds oorweldig is deur die openbaring van God se heerlikheid en sy ongelooflike liefde vir ons.

Aanbidding is 'n reaksie van dankbaarheid. Dit erken dat ons reeds lank terug deur ons sonde vernietig moes gewees het, dat ons die oordeel en volle wraak van God vir al ons tekortkominge en foute moes ontvang - maar in plaas daarvan het God na ons gekom met die magtige openbaring, "Ek het jou steeds lief!"

Op hierdie punt het Moses nie langer vir die sondige Israel gepleit nie. En hy het die Here nie vir leiding gevra nie. Hy het nie uitgeroep vir 'n wonderwerk van verlossing nie, of vir krag nie, of vir wysheid nie. Hy was verwonderd oor die heerlikheid van God!

Moses kon aanbid selfs al was hy nie vol hoop vir Israel nie. Hy het geweet dat die volk weer sou terugval - dat hulle die goue afgode van Egipte weggesteek het. Selfs al het Moses God oorgehaal om hulle te spaar na hulle afgodery met die goue kalf, moes hy seker gedink het, "Hoe sal ek ooit hierdie volk bymekaar hou? Hoeveel langer sal God met hulle geheime wellus en murmurering uithou? Wanneer gaan sy geduld ophou?"

Dit mag wees dat Moses se smekinge namens Israel meer medelye getoon het as wat God se gevoel teenoor die volk was. Maar die waarheid is dat dit nie God se plan was om hierdie volk te vernietig nie. Hy het alreeds al sy beloftes vir hulle in gedagte gehad.

Nee, hierdie was 'n "genade toets" vir Moses. Die Here het aan sy dienaar gevra, "Hoe gaan jy My aan die volk voorstel? Sal dit net wees as 'n wraakgierige God vol oordeel? Nee - Ek is genadig, lankmoedig, altyd gereed om my volk te vergewe!"

Hierin was die openbaring! En dit het Moses se hart gerus gestel. Inderdaad, terwyl hy besig was om te aanbid, het hy die heerlikheid wat God aan hom geopenbaar het begin opeis en toe-eien: "God se genade sal ons deursien. Hy is lankmoedig en sal ons vergewe. Watter heerlikheid is dit nie! Watter troos, watter hoop!"

Dadelik het Moses begin bid, "Here, U het gesê dat U die tekortkominge en oortredinge van duisende sal vergewe. Wel, hier is daardie duisende voor U. Ons is almal hardkoppig en het genade nodig. So, Here, wees ons genadig en vergewe ons baie sondes!" (sien Exodus 34:9).

Hierdie gedeelte bewys onweerlegbaar dat die openbaring van God se heerlikheid 'n integrale deel van aanbidding is!

Die openbaring van God se heerlikheid moet die fontein wees van al ons aanbidding. Ons moet gereeld hierdie heerlikheid opeis en getuig, "Here, ek weet dat U heilig en regverdig is en dat U nie sonde oorsien nie. Maar ek het ook U heerlikheid gesien en weet dat U nie daarop uit is om my te vernietig nie.

"U veroordeel my nie in my worstelinge nie. In teendeel, U wys my hoe liefdevol en lankmoedig U is teenoor my. Ek weet dat ek verwerping verdien. Ek het U so dikwels gefaal, ek moes geheel en al opsy geskuif wees. Maar U het aan my geopenbaar dat U genadig, barmhartig en teerhartig is!"

Met tye gedurende my jare in die bediening was ek oorweldig deur vyande wat teen my opgestaan het. In daardie tye het ek die dissipline van die Here soos 'n lat op my rug gevoel. Ek onthou een periode in besonder toe ek van alle kante af beswadder was. Ander predikers het aan my gevra, "David, ek hoor sulke twyfelagtige dinge van jou. Is dit alles waar? Kom al hierdie dinge van die duiwel of is dit God wat probeer om met jou te praat?"

Selfs daardie vraag het my gekrenk! Na 'n rukkie was ek totaal oorweldig deur die emosionele pyn daarvan. Ek het fisies siek geword van die aanhoudende stryd. Op 'n stadium kon ek skaars die feit dat ek moes kerk toe gaan en preek in die gesig kyk.

Een oggend moes my vrou my letterlik uit my stoel in die studeerkamer uitlig. Halfpad kerk toe het ek vir haar gesê dat ek nie kan aangaan nie. Ek kon nie nog 'n persoon in die diens in die oë kyk terwyl ek gewonder het of ek 'n skynheilige was nie. Uiteindelik het ek uitgeroep, "Here, wat het ek gedoen om dit te verdien? Waar is my sonde?"

Toe het God my eendag na hierdie gebed van Jeremia gelei: "Tugtig my, Here, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie" (Jeremia 10:24).

Hierdie woorde van Jeremia het my daaglikse gebed geword gedurende daardie hele tyd van beproewing: "Here, kasty my en oordeel my as U moet. Maar asseblief - moet dit nie in U woede doen nie! As ek nog een toornige woord hoor, sal dit my vernietig. Ek sal tot niks gebring word. Moet my asseblief nie tot stof reduseer nie. Here, ek is laag genoeg!"

Wanneer ek ook al hierdie gebed gebid het, het die Here my geantwoord, "David, as Ek kies om jou te korrigeer, is dit omdat ek jou liefhet. Hierdie toets gaan glad nie oor my oordeel nie. Ek is barmhartig en genadig, liefdevol en lankmoedig teenoor jou. Nou, staan stil en sien my heerlikheid!" Hierdie kennis van sy heerlikheid het my deurgedra na 'n plek van totale rus. God het my van alle kante gesuiwer.

Geliefde, wanneer jy eers die openbaring van God se heerlikheid het, sal sy nooit weer bang wees dat Hy jou in sy toorn sal korrigeer nie. Hy dra sy lat in 'n teer, liefdevolle hand. Hy sal ons tugtig, maar net in genadige medelye. Hy sal ons nooit skade aandoen of verwerp nie. Sal dit nie ons harte soos Moses s'n laat versag voor Hom in aanbidding nie?

Verder, God openbaar sy heerlikheid in Christus sodat ons dit kan! Dit is ons toegewyste reg, en dit is bedoel om opgeëis te word. Wanneer Paulus sê, "Ek verwerp nie die genade van God nie..." (Galasiërs 2:21), bedoel hy, "Ek sal nie God se genade verydel deur dit te verwerp nie!"

Hulle wat God waarlik aanbid eis die beste van God se seëninge en beloftes op, Hulle sien die heerlikheid van sy liefde in Christus - en hulle gryp daardie heerlikheid vas sodat hulle vermoeide siele genees en tevrede gestel kan word!

"Sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek. " (Exodus 34:35).

'n Persoon se voorkoms is die uiterlike uitdrukking van wat in sy hart is. En Moses se gesig het slegs die heerlikheid van God in sy siel weerspieël!

Voorheen was Moses in die teenwoordigheid van die Here vir veertig dae sonder 'n verandering in sy voorkoms. Op daardie tydstip het hy van God se teenwoordigheid af gekom om te gaan deel met Israel se afgodery met die goue kalf. Niemand het 'n gloeiende teenwoordigheid op hom gesien nie. Maar later, toe die openbaring van God se heerlikheid 'n werklikheid vir hom geword het, het dit Moses se gelaat verander!

U kan in God se teenwoordigheid wee so lank as wat u wil. Maar dit is 'n ander saak om sy totale heerlikheid in jou geopenbaar te sien. Paulus het gesê, "...toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig..." (Galasiërs 1:15-16).

Paulus sê, "Ek het in my baie meer as 'n leerstelling wat iemand uitgedink het, meer as net kop kennis van Christus. Ek het die openbaring van wie Christus is - 'n openbaring van sy barmhartigheid, genade en liefde. En hierdie openbaring het die bron van alles wat ek is en doen geword. Dit is die wese van my bestaan!"

Die openbaring van God se heerlikheid is inderdaad wonderbaar. Tog het baie hierdie openbaring verander na 'n lisensie vir sonde. Judas beskryf mense "...wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën" (Judas 4).

Volgens Paulus sondig hierdie mense sodat "genade kan toeneem." Hulle sê in wese dat, "As God Homself so graag deur genade en vergifnis wil openbaar, gaan ek elke geleentheid gebruik om te sondig en Hom laat aanhou om my lief te hê sodat sy genade kan vloei. Wat 'n getuienis sal dit tog nie vir die wêreld wees nie. Ek sal 'n voorwerp wees van al daardie liefde wat van die hemel af kom!"

Sulke mense is maklik om raak te sien. Hulle voorkoms gee hulle weg. Jesaja praat van Israeliete wat "...sy oë vol heerlikheid te trotseer. Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle..." (Jesaja 3:8-9). Die profeet het met ander woorde gesê, "Julle sonde getuig teen jou in hoe jy lyk. Wat in jou hart is word openbaar in jou voorkoms!"

Aan die ander kant, selfs die slegste sondaars kan jou vertel wanneer jy "by Jesus was." Hoe kan hulle sê? Jy lyk na niemand anders as Jesus vir hulle! Hulle sê, "Jy is anders. Jy gedra jouself met nederige sekerheid. En niks van jou blyk om weggesteek te wees nie. Jy het nie 'n donker kol in jou oë nie, geen geheimsinnigheid nie. Dit lyk nie of jy enige wrokke of bitterheid ronddra nie. As jy sou, sou ek dit geweet het. Jou lewe is 'n oop boek!"

Sonde, egter, het 'n sekere voorkoms. Geen glimlag kan dit toesmeer nie. En sy stem klink na leegheid - die eggo van klinkende koperinstrumente, 'n luidende simbaal.

Maar hulle wat die heerlikheid van die Here toe-eien word elke dag verander. Hulle voorkoms word meer en meer soos die van Jesus!

Die glansrykheid wat vanaf Moses se gesig en hart uitgestraal het, was die resultaat van die aanskouing van slegs 'n klein bietjie van die volheid van God se natuur.

Nogtans, toe die Israeliete die verandering in Moses se voorkoms gesien het, het hulle geweet dat hy 'n bonatuurlike ervaring gehad het. Sy suster, broer en die ander het uitgeroep, "Hierdie man was van aangesig tot aangesig met God!"

Vandag het ons iets baie meer glorieryk as wat Moses gehad het. Ons raak en hanteer werklik God se heerlikheid. "Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaan die Woord van die lewe" (1 Johannes 1:1).

Johannes sê hier, "God het die volheid van sy heerlikheid aan ons geopenbaar in Christus. Ons het sy heerlikheid in 'n persoon gesien. En ons het met Hom gepraat. Ons het Hom selfs aangeraak!"

Vandag sien ons nie net die heerlikheid van God nie - maar dit bly nou in ons! Sy heerlikheid skyn vanuit ons harte: "Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn - dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. " (2 Korinthiërs 4:6).

Paulus sê hier dat, "Jesus Christus, God in die vlees, verteenwoordig alles wat God is. En omdat ons weet God is goedheid, liefde, genade, barmhartigheid en lankmoedigheid, kan ons ook seker wees dat dit die natuur van Christus is. Aangesien Jesus in ons harte woon, weet ons dat die heerlikheid van God nie maar iewers in die heelal is nie. Nee - die volheid van sy heerlikheid is in ons, deur die teenwoordigheid van Christus!"

"Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn " (Titus 2:11). Wie is hierdie genade? Dit is Jesus Christus - vol genade, goedheid en liefde!

" en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe " (vers 12). Paulus vertel hier vir ons dat, "Hierdie genade wat in jou bly is die openbaring van Christus se goedheid. En as jy in Hom sal bly, sal sy openbaring jou leer om heilig te lewe! Dit sal aan jou barmhartigheid, genade, teerheid en vergifnis leer!"

Wanneer ons hierdie openbaring van God se heerlikheid ontvang, kan ons nie in ons nie aangaan op ons ou manier van mense behandel nie. Dit moet alles verander!

Paulus waarsku duidelik, "As die Here aan jou gewys het hoe teer, goed en liefdevol Hy teenoor jou is, beter jy dieselfde karakter van God aan ander openbaar.." "Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu moet van julle verwyder word, saam met alles boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het " (Efesiërs 4:31-32).

God sê aan ons deur Paulus, "Julle het my heerlikheid gesien julle ken my natuur en my karakter - dat Ek barmhartig, genadig, lankmoedig en gereed is om te vergewe. Nou wil Ek het dat julle aan ander moet weergee wie Ek is!"

Selfs Moses het op 'n keer 'n wanvoorstelling van hierdie openbaring van God se heerlikheid aan die volk weergegee - hy het ongeduldig met Israel geword oor hulle ongehoorsaamheid - en hy het die rots woedend met sy staf geslaan om te sê, "Julle hardkoppige klomp rebelle!"

God het dit nie goed ontvang nie. Wanneer Hy eenkeer sy heerlikheid aan jou openbaar het - sy goedheid, barmhartigheid en genade - sal Sy geduld nie jou wanvoorstelling van sy heerlikheid aan ander verdra nie. Moses het daardie heerlikheid van God verkeerd aan Israel voorgestel. En, met die gevolg dat Moses - een van die nederigste, goddelikste figure in die Ou Testament - uit die volheid van God gehou is. Hy was nie toegelaat om die beloofde land binne te gaan nie!

Ons vind nog 'n illustrasie hiervan in een van Jesus se gelykenisse. Hy praat van 'n slaaf wat deur sy heer 'n groot skuld vergewe is. Die heer het hierdie man ongelooflike goedheid, genade en vergifnis getoon. Tog was die slaaf skaars vergewe toe hy 'n man raakloop wat hom 'n klein bietjie geskuld het - en hy het sy skuldenaar begin wurg totdat hy alles betaal het. Dieselfde man wat groot liefde en vergifnis ervaar het, het op sy beurt geen genade betoon nie!

Jesus sê in hierdie gelykenis, "Jy stel die liefde van God verkeerd voor! Hy het jou sy ongelooflike heerlikheid laat smaak deur sy goedheid en vergifnis van jou sondes. Tog, nou dat jy sy heerlikheid gesien het, stel jy dit verkeerd aan die wêreld voor!"

Dit word opgesom in Paulus se bevel, "Wees genadig teenoor ander, net soos Hy genade aan jou bewys het." Die woord "genade" hier kom hier van die Griekse woord vir "ellende" ("misericordia"). Die volle betekenis van hierdie woord is, "om die ellende van iemand anders ter harte te neem, met die doel om hom troos en verligting te gee." Om genadig te wees beteken om iets aan iemand anders se seerkry te doen!

Dit is net wat ons Here vir ons doen. Hoeveel keer het Jesus nie ons ellende en lyding op Hom geneem, en ons troos, rus en vergifnis gegee nie? Hoe dikwels het Hy nie jou trane afgevee en 'n met 'n sagte woord tot jou gespreek toe jy dit nie verdien het nie? Hy doen dit keer op keer op keer!

Ek vra u dan - hoe kan u dit nie in u hart vind om iemand anders se ellende en lyding aan te vat as u weet dat hy seerkry nie? Die Griekse woord vir "goedheid" het sy wortels in twee woorde: "godspraak" en "sagte aanraking." Het u godspraak van hoop vir u broers en susters in Christus, en bied jy julle 'n woord van hoop van die Here met die sagte aanraking van vertroosting? Volgens die Bybel is al wat u moet doen om aan ander godspraak van liefde te bring is om 'n voorstelling aan hulle te wees van wie Jesus is!

Die woord "medelye" beteken "om aangeraak en geaffekteer te word deur die lyding van ander en vasberade te wees om iets daaraan te doen." Dit beteken nie dat u iemand in sonde nader en vir hom sê, "Ek het 'n woord uit die hemel aan jou, broer. Jy het sonde in jou lewe!"

As dit so is, weet hy dit in elk geval al klaar. En hy sal jou waarskynlik antwoord met Jeremia se uitroep: "Asseblief, moenie met my deel in woede nie, want jy sal my reduseer tot niks. Ek is al klaar laag genoeg gedaal. Moet my nie verder reduseer nie!"

As u 'n openbaring van God se heerlikheid gehad het, weet u wat dit beteken om sy liefde, genade en vergifnis te smaak. En u word verander deur daardie heerlikheid. Nou, sê Jesus, neem daardie heerlikheid en skyn dit op die wêreld rondom u. Dit is tyd om in liefde te handel, net soos u Here gedurigdeur vir u doen!