NUTTELOSE STREWING

David Wilkerson

Ons kan almal sê, “Ek is verlos deur die bloed van my Verlosser, maar ek het nog nie alles ten volle bereik nie.” Ons besing lof en juig tot ons God en tog hou baie van ons aan om te strewe om Hom te behaag.

Jy mag nou en dan ‘n oorwinning behaal en dan goed voel daaroor. Jy sê vir jouself, “Ek het dit reggekry. Ek het geweet as ek my hart en verstand daarop instel, sal ek die oorwinning behaal.” Jy is geneig om trots te voel oor dit wat jy bereik het en dan rondgaan en ander wat nie seëvier nie, oordeel.

Toe ek jonger was en oorwinning oor iets wou hê, sou ek myself oortuig, “Ek gaan dit regkry, al maak dit my dood.” En dit het gevoel asof dit my amper wou doodmaak! ‘n Maand of twee sou verbygaan en ek sou dink, “Daardie hebsugtige gedagtes is nou weg. Ek is vry!” Maar dit was altyd net ‘n gedeeltelike oorwinning en moedeloosheid het ingetree.

“O, God,” sou ek uitroep, “Ek het U gesmeek om my te verlos, maar U het nie. Hierdie gevoelens is steeds binne-in my.” En dan sou ek God blameer.

Wat was besig om te gebeur? Ek was so besig om in die vlees te strewe om regverdig te wees dat ek my begrip van ware geregtigheid verloor het – die enigste geregtigheid aanvaarbaar vir die Vader – is dié van Sy Seun, Jesus. Wanneer ons voor die Vader staan, aanvaar Hy ons slegs deur Christus, deur Sy geregtigheid en oorwinning. 

Jy mag moontlik wonder, “Wat moet ek doen?” Eerstens, weier om na die duiwel se leuens te luister. Tweedens, staan op jou geestelike voete en begin verklaar, “Deur geloof in die bloed van Jesus, ontvang ek die geregtigheid van Christus.” Jubel dan!

“In wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kolossense 1:14). Verlossing beteken eenvoudig “vrygemaak” en ons is vrygemaak deur Jesus se kosbare bloed. Ons kan alle beskuldigings teëstaan en sê, “Satan, jy het my vir die laaste keer beskuldig. My Bybel sê ek word verlos omdat ek glo in wat Jesus vir my gedoen het aan die kruis.”