NOODSAAKLIKHEDE VIR VOLHARDENDE GEBED

Jim Cymbala

Vir ‘n gelowige om met vrymoedigheid van die Here te vra en te ontvang, moet hy die wette van gebed volg wat neergelê is deur die Vader. Hierdie riglyne word verspreid deur die bladsye van die Skrif gevind en gehoorsaamheid daaraan open die kanale van die Vader se gewillige hand na ons eie hande wat uitgestrek is in nood.

Eerstens, nader God in en deur die Naam van Jesus. Ons bring ons pleidooi op die basis van wat Christus vir ons gedoen het eerder as op ons eie verdienste, omdat ons niks het nie. Dit mag vernederend wees om heeltyd te erken dat ons hulpelose sondaars is, gered deur genade, maar slegs hierdie pad sal lei na ‘n gebedverhorende God.

Tweedens, ‘n persoon wat bid, moet glo. Die Bybel maak dit duidelik dat wanneer ons vra, moet ons “in die geloof bid, sonder om te twyfel.” ‘n Twyfelende, dubbelhartige mens “moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-8).

Die derde riglyn handel oor die toestand van ons harte. Die apostel Johannes spreek die kwessie op hierdie manier aan: “As ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:21-22).

‘n Skoon gewete en ‘n rein hart is absolute noodsaaklikhede vir oorredende gebed. Ek kan nie met vrymoedigheid vir God vra vir verhoring wanneer ek vashou aan die sondes wat sy Seun aan die kruis van Gólgota vasgespyker het nie. Dit is onmoontlik om te lewe met ongeregtigheid en die Here se guns tegelykertyd te geniet.

“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Johannes 5:14-15). God begeer ‘n gesindheid van vrymoedigheid – versekering – wanneer ons na Hom kom met gebed.

Ek moedig jou aan om God te nader soos ‘n kind ‘n vader nader wat hy weet hom onvoorwaardelik liefhet – geen terugdeinsing of vrees vir verwerping nie. “In [Christus] wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efésiërs 3:12).

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.