Nie deur die swaard van die mens nie!

God se nuwe verbond met ons kan in een kragtige stelling saamgevat word: dit is sy onherroeplike belofte om Sy volk vanuit die heerskappy van die sonde te verlos - deur die krag van die Heilige Gees.

Hierdie nuwe verbond doen weg met al ons nikbeduidende pogings om God deur die vlees te behaag. Dit is die einde van al ons strewes om die sonde te oorwin, of dit deur deursetting, krag, beredenering of ander werke van die vlees is. Kortliks, God se nuwe verbond verwyder die druk van ons af - en plaas dit alles op Hom!

Deur hierdie verbond sê die Here "Ek sal nie langer om 'n godvresende hart vra nie. In plaas daarvan sal ek jou hart van klip verwyder en jou 'n nuwe hart gee, een wat na my verlang. Ek sal teweegbring dat jy deur die krag van my Gees beide begeer en doen wat Ek goedvind!

Eenvoudig gestel, die nuwe verbond is die einde van die "kan doen" mens. Dit is die mens in ons wat sê "Ek kan alles self vermag deur eie mag en krag. As ek maar net genoeg tyd in gebed en bybelstudie wy - as ek maar net my probleme deurdink - sal ek verandering in my lewe kan meebring."

Die nuwe verbond sê totsiens aan hierdie ou,"kan doen" mens - dit stel die "nuwe mens" bekend wat sê: "Ek kan niks deur my eie krag doen nie. Ek het nie die krag om godsvrugtige veranderinge in my lewe teweeg te bring nie. Maar ek kan alles vermag deur die Heilige Gees!"

Een van die belangrikste dinge wat ek uit my studie van die nuwe verbond geleer het, is dat dit die geheim is tot 'n oorwinnende lewe in die laaste dae. Soos die tyd vir Christus se wederkoms nader kom gaan die duiwel die vloedhekke van die hel teen God se volk open. Hy sal woeste, duiwelse magte soos wat die wêreld nog nie gesien het nie, loslaat.

Ons sien dit reeds binne die geledere van die Kerk. Satan het God se huis binne gedring met subtiele leuens, valse leerstellings, duiwelse leringe - en onoordeelkundige gelowiges eet dit vir soetkoek op! Op hierdie tydstip warrel menigvuldige bedrieglikhede en ketterye deur die Kerk. Ek vra u - hoe gaan gelowiges in sulke tye staande bly?

Die Here antwoord ons deur te belowe om die las op homself te neem. Hy verseker ons: "Moet nie bevrees wees nie. Laat die saak in My hande. Ek sal jou teen elke aanslag van die vyand bemagtig. Ek sal dit deur My nuwe verbond doen!"

Soos ek die nuwe verbond bestudeer het, het die glansryke waarhede daarvan in God se handelinge met Israel volgens die Ou Testament duidelik na vore gekom. Paulus verklaar: "Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het" (1 Korinthiërs 10:11). Ek het aangevoel die Here vra my: "David, wil jy die sleutels tot oorwinning hê? Wil jy weet hoe om sonde, die vlees en die duiwel te oorwin? Wil jy weet hoe om die stryd met die vyand te voer? Ondersoek My Ou Testament en leer van die voorbeelde daarin. Ek het almal vir jou aangeteken sodat jy die lesse van godsvrug kan leer!"

Paasnag was nie 'n enkele Israeliet in gevaar van die doodsengel wat deur Egipte getrek het nie. Elke man, vrou en kind van God was veilig en beskerm onder die bloeddekking wat aan die deurkoesyne van hul huise gesmeer was. Hierdie beeld van bewaring in die Ou Testament verteenwoording die beskermende krag van die bloed van ons Here oor sy kinders vandag. As Christene moet ons 'n gelowige, vertrouende mense wees, mense wie die bloed van Christus aan die deurkoesyne van ons harte gesmeer het.

Israel se geloof in die bloed van die geslagte lam het baie dinge in hulle lewe vermag. Nie alleen het dit hulle van die doodsengel beskerm nie, maar hulle ook uit Egipte geneem en hulle van gevangeskap onder Farao bevry. Daar was ook ander vyande waarvan Israel verlos moes word. Eweneens vandag, ons vertroue is in die bloed van Christus om meer as om saligheid vir die ewigheid te verkry. Dit behels ook vertroue in die krag van God om ons van elke vesting van die vyand te verlos.

Asseblief, moet my nie verkeerd verstaan nie. Indien u gered is - onder die bloed van Christus bedek is, beskerm is deur geloof in Sy werk vir u aan die kruis - dan is dit absoluut wonderlik. Maar wat van u voortdurende stryd met die mag van die sonde wat binne in u woed? Wat van u boesemgewoonte? Wat van die brullende leeu wat u wil verslind? Met watter krag sal u die stryd met hierdie vyande van u siel aansê?

Die feit bly staan: al is ons gered en beveilig deur die bloed van Christus, is ons steeds gewikkel 'n stryd teen die bose magte, sataniese kragte en duiwelse vestings. En ons kan aanspraak maak op die krag van God wat deur sy nuwe verbond aan ons beskikbaar is. Maar daardie krag word alleenlik deur geloof verkry!

Die profeet Jesaja het Israel gewaarsku dat daar geen moontlikheid van oorwinning is nie sou hulle probeer om hulle teenstanders met hul eie krag te beveg. Jesaja 31 skilder 'n volmaakte prentjie van die nutteloosheid van pogings om met eie menslike vermoë met die vyand slaags te raak. Ek glo hierdie hoofstuk versinnebeeld die ondoeltreffenheid van ons hedendagse pogings om begeertes, gewoontes en boesemsondes te oorwin deur op menslike idees en hulpmiddels staat te maak.

Teen die tyd dat Jesaja hierdie waarskuwingsboodskap geskryf het, het Koning Sanherib en die Assiriese leër reeds deur Juda getrek. Hulle het die meeste stede op pad oorwin en hulle plan was om Jerusalem te beleër. In Hebreeus beteken die woord 'Sanherib', "suksesvol", en 'Assirië', "sonde aan die toeneem". Saamgevoeg, beeld hierdie twee woorde 'n bose vyand uit wat baie suksesvol teen God se mense was.

Inderdaad, Assirië verteenwoordig elke sondige, duiwelse, wellustige gees wat teen ons kom. En Sanherib is die duiwel self, oortuig daarvan dat hy ons sal verslaan en ons tot wanhoop sal dryf. Ek glo God wil ons deur hierdie hoofstuk wys hoe die duiwel en sy bose hordes golwe van versoeking teen die kerk bring - met toenemende velheid en met groot sukses!

Hierdie hoofstuk is ook vir ons 'n voorbeeld van hoedanig sonde in die laaste dae sal toeneem. Die skrif sê dat die samelewing meer en meer boos sal word en die kerk met misleidings en duiwelse leerstellings oorval sal word. Ek glo ons sien dit nou reeds gebeur. Duiwelse menigtes het alle media en elke vorm van tegnologie geïnfiltreer, en ons kultuur word oorval met wellus, naaktheid en verdraaiings van alle soorte. Soos in Openbaring voorspel is, het Satan "... uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi." (Openbaring 12:15).

Hiskia was koning oor Israel ten tye van Sanherib en die Assiriërs se aanslag. Hy het hierdie groot leër wat die stad omring het, aanskou en oudergewoonte sy "kan doen" houding ingeneem. Die koning het geredeneer dat so bietjie tyd, bepeinsing en een of ander hulp van buite sal die Israeliete in staat stel om hulself uit hierdie skrikwekkende omstandighede te red. Hy het gesê: "Ons staar 'n oorweldigende situasie hier in die gesig. Assirië is 'n sterk vyand. Myns insiens het ons slegs 'n bietjie militêre hulp nodig. Ons sal waarskynlik hulle leër kan teë hou terwyl ons iemand soek om ons te help.

So het Hiskia 'n afvaardiging van ambassadeurs met geskenke van goud en silver na Egipte gestuur in 'n poging om 'n leër te huur om hulle te kom help. Hy het gedink dat met die Egiptiese perde, strydwaens en infantrie, Israel die Assiriërs sal kan afweer.

Nou ja, u mag dink dat Israel net 'n bietjie geloof te midde van hierdie omstandigheid kort gekom het. Maar God het hulle optrede prontuit 'n opstand genoem! Jesaja skryf: "Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die Here nie." (Jesaja 31:1). God sê aan hulle: "Julle het teen My in opstand gekom! Julle weet dat slegs Ek oorwinning kan gee. Tog het julle geweier om na my toe te kom!"

Hier verteenwoordig Israel die gelowige wat sy vertroue in die vlees plaas. Jesaja skryf: "Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie..." (Isaiah 31:3). Kortliks sê die profeet: "Julle dink julle kan deur julle eie krag julself van die vyand bevry. Julle dink dat oorwinning in julle eie krag, verstand en vermoë lê. Ag, julle vertrou bloot op vlees! Keer nou terug na die Here. Hy is julle enigste hoop op uitlewering!"

Soos Israel, wend vele Christene hulle vandag na iets wat mensgemaak is in 'n poging om die vlees te oorwin. 'n Sprekende voorbeeld is die talle self-help boeke wat tans op die rakke in Christelike boekwinkels gevind word. Letterlik duisend boeke belowe onfeilbare wyses om ons vlees te verbeter, om ons vlees te bevredig, om ons vlees te oorwin. Inderdaad, net waar ons gaan word ons vleeslike opsies tot al ons behoeftes aangebied. Kerke belowe gesalfde herlewingsvergaderings waar ons al ons geestelkike behoeftes deur gebede of 'n aanraking vervul kan word. Evangeliste bied kits bevryding, kits genesing, kits woorde van God.

Die waarheid is dat God vir Israel 'n geleentheid gegee het om Hom of die vlees te midde van hulle omstandigheid te kies. Hy het gesê: "Gaan voort en doen soos julle wil. Delf diep in die innerlike mens en diep al julle kragte en vermoëns op. Bestudeer julle boeke, beplan julle strategië, doen alles wat julle weet hoe om te doen. Julle sal egter steeds op die arm van die vlees steun! Niks wat julle probeer sal werk nie. Nie een van julle pogings sal vir julle enigsins een oomblik van oorwinning bring nie!"

Maarskalk Applewhite, die leier van die Heaven's Gate kultus wat in Maart 1997 massa selfmoord gepleeg het, het verwag om in 'n ruimtetuig na 'n "hoër vlak" van bestaan geneem te word. Ek vra u - hoekom sal iemand ooit so 'n fantasie glo? Ek glo daar was 'n baie tragiese onderliggende rede.

Hierdie man het as 'n Presbeteriaanse predikantseun grootgeword. As 'n volwassene het hy aktief in die kerk deelgeneem en hy was ook koormeester. Hy het in die huwelik getree, twee kinders gehad en is as 'n wonderlike familieman beskou deur almal wat hom geken het. Maar Applewhite het 'n probleem gehad wat nie wou weg gaan nie - 'n sterk homoseksuele drang.

Hy het met skuld-, vrees- en afkeuringsgevoelens gelewe en hierdie gevoelens het binne homself gewoed. Hy het dokters en psigiaters geraadpleeg, en sy drang bestempel as 'n "ondier" wat hom geheel en al beheer. Hy het hom ook in 'n hospitaal laat opneem in die hoop dat hy "genees" sou word. Hierdie man het alles probeer om hom van sy begeertes te bevry. Maar niks het verlossing gebring nie.

Jare later, nadat Applewhite sy gesin verlaat het, het hy 'n groep "The Overcomers" gestig. Hierdie groep het seksuele onthouding geleer en Applewhite het gehoop dat hierdie lewenstyl wat hul gepreek het, hom sou bevry. Dit het nooit gebeur nie. Een nuusberig het gemeld dat hy uiteindelik homselfs gekastreer het ten einde hierdie duiwel te ontset. Van die agt en dertig ander wat in die Heaven's Gate selfmoord gesterf het, het een derde hulle laat kastreer in 'n desperate poging om vryheid van die heerskappy van "sonde" te vind.

Die kultiese praktyke van Applewhite en die massa selfmoord wat hy orkestreer het mag ons afstootlik vind. Maar, jammerlik, voer menigte Christene vandag ook verlore stryde teen lewensbeheerde gewoontes en luste. Sonde voer heerskappy oor talle in die kerk, selfs daardie wat huil en pleit vir verlossing. Hulle uitroep is hard en duidelik: "Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?" (Romeine 7:24) ".maar wat ek haat, dit doen ek" (vers 15).

Hoe meer ek God se woord bestudeer hoe duideliker word dit vir my: All menslike strewes om van sonde verlos te word, is gedoem tot mislukking. En God sal ons keer op keer verdrukking laat ondervind totdat ons ten volle oortuig is dat ons alle pogings van die vlees moet afsterf.

Toe Israel probeer het om hulle sterk vyand met menslike krag te verslaan, het God onmiddelik die poging veroordeel: ".dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle te gronde." (Jesaja 31:3). God se woord verklaar in sterk, duidelike taal dat alle oorwinning van Hom alleen afhang. Slegs Hy het die mag om ons van ons vyande te red.

U mag 'n goddelike wil hê, 'n grondige morele agtergrond, 'n onbesoedelde verstand. Inderdaad, u mag een van die reinste mense wees wat op hierdie aarde rondloop. Maar nie een van hierdie dinge is 'n doeltreffende wapen wanneer die mag van die hel beveg moet word nie. Die bybel sê dat nie een van u menslike gawes of vermoëns ooit teen die duiwel sal werk nie. U sal altyd deur u eie pogings faal!

Sou u te midde van 'n oorweldigende stryd wees, moet u die woord wat God aan Sagaria gegee het, leer. ".Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare" (Sagaria 4:6). U oorwinning sal nooit deur die swaard van die mens geskied nie - nie eens u eie swaard nie!

Jesaja skryf: "En Assur sal val deur die swaard, nie van 'n man nie; en die swaard, nie van 'n mens nie, sal hom verteer; en hy sal voor die swaard vlug, en sy jong manne sal dienspligtig word." (Jesaja 31:8). Die profeet sê dat die Assiriërs beslis met die swaard verslaan sal word. Maar met watter soort swaard sal dit geskied anders as dié van Israel?

In die boek van Openbaring meld die apostel Johannes 'n heilige swaard van die Here: "En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan." (Openbaring 19:15). Johannes praat hier van Christus en sê: "'n Deurborende oorwinnende swaard sal uit die mond van die Here uitkom!"

Deur hierdie swaard met Christus se mond te assosieer, sê Johannes dat ons doeltereffende wapen in die stryd teen ons vyande die stem van die Here is. Dit is inderdaad die einste beeld wat Jesaja gebruik om te beskryf hoe die Here die Assiriërs tot 'n val sal bring: "Want vir die stem van die Here sal Assur verskrik wees; met die stok sal hy slaan." (Jesaja 30:31).

Jesaja sê: "U God beloof om namens u te veg. Hy sal sy stem laat hoor en u vyande verjaag!" "En die Here sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van 'n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels" (vers 30).

Hierna gebruik Jesaja die beeld van voëls om God se beskermende krag oor sy mense uit te beeld: "Soos voëls wat fladder, so sal die Here van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry" (Jesaja 31:5). Die Hebreeuse betekenis van hierdie vers is: "Soos die henne om hulle kuikens fladder, so sal Jehova, God van die leërskare, sy vlerke oor Jerusalem sprei."

God sê aan Israel: "As julle teen die aanslag van die vyand beskerm wil wees, kruip onder my vlerke weg. Ek sal julle bewaar, toegemaak soos 'n hen haar kuikens bedek. Julle hoef nie meer in vrees vir julle vyande te lewe nie!"

Kom ek vra u: Is u tans in 'n groot stryd gewikkel? Kyk u 'n vyand in die oë wat vir u te sterk is? Indien wel, hoedanig verwag u om rein te bly, getrou, in die beeld van Christus, terwyl ander om u na links en na regs uitsak? Hoe gaan u u wellus en versoeking oorwin wanneer Satan soos 'n brullende leeu teen u opstaan?

God vra doodeenvoudig dat u u swaard neerlê - en dat u op Hom vertrou om sy swaard namens u op te neem. Hy wil u op daardie punt kry waar u sê: "Here, ek weet die stryd is nie meer myne nie. Ek het al telkemale gefaal. Nou staan ek voor U in loutere geloof. Help my. Red my van hierdie oorweldigende vyande!"

Egipte het nooit Israel se versoek vir hulp beantwoord nie. Daardie eens magtige nasie het 'n gebroke riet geword. Intussen het Sanherib en die Assiriese leër Jerusalem omsingel. Op daardie tydstip het Hiskia besluit: "Ons gaan nie hierdie keer op die arm van die vlees steun nie. Ons gaan dit op God se manier doen!"

Die koning het onmiddelik homself verootmoedig en God in gebed aangeroep: "En toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur en hom met 'n roukleed bedek en in die huis van die Here gegaan" (Jesaja 37:1). Hiskia het bely: "Here, ek self het niks om aan te bied nie behalwe my geloof. Ek kan nie Sanherib met veg nie. Ek is hulpeloos, my eie krag is nietig. Here, van U alleen kan my krag kom. Dus, wat nou gedoen? Ons vyande het ons omsingel. Gee ons asseblief U aanwysing!".

Hiskia het geweet dat Jesaja God se leiding sou ken. Hy het toe 'n afgevaardigde na die profeet gestuur. Hierdie manne het vir Jesaja gesê: ".want die kinders het tot by die geboorte gekom, maar daar is geen krag om te baar nie." ["Ons is soos vrouens wat in die kraam is maar nie die krag daarvoor het nie." .. uit die nuwe vertaling] (vers 3). Anders gestel: "Hierdie keer wil ons alles soos God bepaal, doen. Maar jy moet weet dat ons uitermate swak is. Ons verdediging is uitgeput, geen krag is meer oor nie. Wat moet ons doen?"

Jesaja het geweet wat God verlang. Die profeet het gesê: ".Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, . en Ek sal hom (Sanherib) in sy land deur die swaard laat val" (verse 6-7). God sê: "Jou vyand is nou my vyand - omrede jy die stryd aan my oorgelaat! Indien enige iemand teen jou praat, jou kwaad aandoen of jou mishandel is dit 'n aanval teen My. En ek sal met daardie vyand afreken, of hy menslik of duiwels is!"

"Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet nie en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opwerp nie" (vers 33). God sê: "Ander mag om jou val maar dit beteken niks nie. Jy staan met my in verbond. En ek het beloof om stryd te voer teen elke vyand wat jou aanval!"

Na my mening het God 'n wonderlike humorsin - Hy het slegs een engel gestuur om die hele Assiriese leër op die vlug te laat slaan. Die skrif sê: "Toe die engel van die Here uitgetrek en in die laer van Assirië honderd vyf en tagtig duidend man verslaan. En toe hulle die more vroeg hul klaarmaak - was dit almal dooie liggame" (vers 36).

Dit moes 'n verbasende gesig gewees het. Daardie oggend toe die Assiriërs wakker word lê 185 000 van hulle krygsmakkers dood - en nie 'n elke merk was aan enige een van hulle te vinde nie. En dit alles het geskied, eenvoudig omrede die Israeliete hulle verootmoedig het en die Here gesoek het!

Die Bybel vertel ons dat die Assiriërs vinnig die hase pad uit Juda uit gekies het: "En Sanherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek." (vers 37). Nie net is Israel se vyande verstrooi nie maar God het ook verseker dat hulle vernietig is. Die skrif vertel ons dat kort daarna Sanherib deur sy twee seuns doodgemaak is terwyl hy in die tempel van sy afgod aanbid het (sien vers 38).

Wat 'n wonderlike beeld het God vir ons van sy mag gegee om ons van ons vyande in die vlees te verlos. Die vyand mag pyle van vuur na ons skiet maar hulle sal ons nie tref nie. Satan mag ons luiddrugtig aanval met 'n groot leër van wellus en versoeking maar op die ou end sal hy omdraai en weghardloop. God het verklaar: "Ek sal elke kind van my wat vas in my glo sodanig verdedig dat hy sy swaard kan neerlê!"

Geliefde heilige, die Here spoor u aan: "Klou aan my temidde van jou stryd. Jou oorwinning is slegs 'n saak van geloof in God se krag en gewilligheid om jou te verlos. Kom na My toe en stort jou siel uit sodra die vyand jou oorweldig het. Soek My met jou hele hart en Ek sal die stryd namens jou aanvoer. Ek sal jou beskerm ingevolge My verbond met jou. Jou aandeel is slegs om jou voor my te verootmoedig, waarlik in die beloftes van My verbond te glo en My aangesig te soek. Dan sal jy my leiding ontvang. En jy sal sien hoe jou vyande op die vlug slaan. Die enigste weg na 'n volkome oorwinning is om deur jou krisis standvastig te bly glo!"

Die stryd is nooit ons s'n nie. Dit is altyd die Here s'n. Geloof en geloof alleen in God se beloftes sal u van verval weerhou, in u 'n wil om reg te doen plaas - dit is die weg na roemryke vryheid.