Waarom God Wag om Ons Gebede te Verhoor

David Wilkerson (1931-2011)

Deur Swaarkry Leer Hy Ons die Dieptes van Sy Liefde

In Jesaja 29 het die profeet Jesaja vol trane voor God se volk in Jerusalem gestaan ​​terwyl hy 'n vreesaanjaende boodskap oorgedra het. Hy het gesê dat 'n groot en vernederende toets van geloof op hulle gewag het. Hulle sou almal eendag wakker word, oor die stadsmure uitkyk en 'n wrede vyand rondom hulle sien: die Assiriese leër.

Die stad van God sou beleër word. Die Assiriërs sou grondwalle buite die stadspoorte bou om oor die mure te klim. Hulle voetsoldate sou dag en nag die stad met stormramme stamp.

Gedurende hierdie tyd, sou God se volk gedryf word na 'n plek van gekerm en geklaag asof in 'n vuuroond. Hulle sou wonder of hul nood ooit tot ‘n einde sou kom. Jesaja het gesê die beproewing sou so swaar word dat God se volk heeltemal deur die stryd gebreek sou word; hulle sou sonder fisiese krag gelaat word behalwe om te fluister. “Dan sal jy diep uit die grond spreek, en op dowwe toon sal jou woord uit die stof voortkom; en jou stem sal uit die grond opkom soos dié van die gees van ‘n afgestorwene, en uit die stof sal jou woord piep” (Jesaja 29:4, AFR53).

Hierdie profetiese waarskuwing klink vir my baie bekend. Dit beskryf wat die Nuwe Testament sê baie Christene sal beleef. Ons word gewaarsku dat in die laaste dae, God se kinders deur groot geestelike beproewings sal gaan.

Ek glo nie daar was ooit 'n tyd soos die huidige met soveel toegewyde Christene wêreldwyd wat so verskriklik beproef word nie. God laat toe dat sy kinders deur vuur gelouter word en baie gaan deur die beproewing van hul lewens.

Jesaja se harde profesie het ingesluit dat God sy volk wonderbaarlik en getrou betyds sou verlos.

Jesaja het sy profesie afgesluit deur die volk groot beloftes van oorwinning en bevryding te gee. Trouens, die aankondiging van weë word gevolg deur beloftes.

“Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur. Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van ‘n verterende vuur. En soos ‘n droom, ‘n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Áriël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak. En soos ‘n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en – sy siel is leeg; en soos ‘n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en – hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion” (Jesaja 29:5-8).

Wat 'n kragtige visie van God wat vir sy volk ingryp. Jesaja sê: “Wanneer jy dink dit is hopeloos en jy kan nie nog ’n tree verder gaan nie, sal die Here skielik soos ‘n woeste storm inkom en jou vyande verras. Hy sal hulle laer besoek en hulle planne tot niet maak. God sal jou uit die put van wanhoop uithaal en jou sy volle seën gee.”

Dit is fenomenale beloftes. Soos die mense van Jerusalem, word ons ook gewaarsku teen vurige beproewings en 'n vyand wat oorlog teen ons sal voer. Ons sal vervolg en belaster word, swaarkry en lyding beleef ter wille van Christus. Trouens, ware aanbidders sal meer as enigiemand anders ly. Hoe nader jy aan Jesus lewe en hoe meer jy smag na Hom, hoe meer sal jy beproef en versoek word. Satan is vasbeslote om alles wat heilig en regverdig is te verwoes, daarom het hy 'n groot aanval geloods om almal wat die suiwer lig van Christus verteenwoordig, swart te smeer, moedeloos te maak en skade aan te doen.

Ons moenie verras wees oor vyandige aanvalle nie. Maak nie saak hoe moeilik ons ​​situasie of hoe onstuimig die storm is nie, God belowe dat Hy 'n vasgestelde tyd het om in te gryp en volkome verlossing te gee. Jy sien, die doel van lyding en beproewings is dat God ons na 'n lieflike plek van rus kan neem en binne-in ons die natuur van Christus, die skoonheid van Jesus kan skep.

Baie Christene skryf vir ons en sê: “My beproewing hou net nie op nie. Wanneer sal dit ooit ophou?”

Moenie dink dat jou beproewing, hoe lank dit ook al duur, iets ongewoon is nie. Die apostel Petrus skryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikhei met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

Jesus vertel 'n gelykenis waarin ‘n vrou daarin volhard het om dag en nag vir geregtigheid te smeek. Uiteindelik het die regter reg aan haar gedoen om die eenvoudige rede dat sy hom aanhoudend gepla het. Jesus gebruik hierdie illustrasie om vir ons te wys wat Hy vir ons sal doen as ons Hom vertrou. “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle sal reg doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7-8). Jesus verseker ons, “Maak seker jy verstaan ​​dat die Here jou stryd sal stry. Hy sal dit alles vir jou doen. Hou dus vas aan jou geloof.”

Christus self was die vervulling van die beloftes wat aan die profete gegee is. Hulle het 'n dag vooruit gesien wanneer 'n Verlosser, die Messias, uit die hemel sou neerdaal om God se volk van elke moontlike vyand te red. “Soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af – redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat...dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe” (Lukas 1:70-71, 74-75).

Die Here sê vir ons: “Maak nie saak wie dit is wat teen jou kom nie, Ek sal jou van hulle almal verlos. Jy kan al jou dae in vrede leef en in My rus.”

God se voorsiening is vir baie Christene nie nie genoeg omdat hulle sy werk op hulle skedule wil sien plaasvind.

God het vir ons sy Heilige Gees gegee as ons Trooster, Leraar en Leidsman. Hy het vir ons groot en kosbare beloftes gegee waardeur ons deelgenote gemaak word van sy goddelike natuur. Maar selfs met hierdie fenomenale beloftes sal ons eerder onmiddellike resultate deur ons eie hand sien.

Ek glo die moeilikste ding vir 'n kind van God om te doen, is niks! Dit is uiters moeilik om stil te staan ​​en op die Here te wag om op te tree, om te kyk hoe dinge erger raak, om te sien hoe jou vyande nie veroordeel word nie en om nie wraak te neem nie. Dit vat alles binne-in ons om die drang om iets te doen stil te maak.

Jesaja het vir die volk gesê: “En daarom sal die HERE met ongeduld daaro wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is ‘n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag” (Jesaja 30:18).

Hierdie vers sê alles. Dit is onmoontlik om God ten volle voor die mensdom te verheerlik, behalwe deur volle vertroue in Hom te toon. Selfs al begeer die Here om met genade en verlossing te kom, sal Hy wag om te verhoor.

God sê in wese vir ons, "So jy dink jy het My nie nou nodig nie, want jy is so besig om alles self te doen. Ek het 'n plan om my genade aan jou te betoon, maar op die oomblik toets Ek jou om te sien of jy sal omdraai en in My sal rus. Ek sal wag totdat jy al jou menslike inspanning en selfvertroue uitgeput het.”

Ek vra jou, teenoor wie praat jy jou hart uit? Wie hoor van al jou probleme? God sê: “Ek sal wag dat jy na My toe terugkeer. Ek sal wag totdat jy verstaan ​​en glo dat Ek jou genadig sal wees. Roep na My en Ek sal my woord nakom.” In die Skrif sê die psalmdigter: “Jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou” (Jesaja 30:19).

Wat 'n wonderlike belofte voeg die Here volgende by; al kry ons dalk swaar, sal ons liefdevol deur Hom geleer word. “Die HERE gee julle wel brood van benoudheid en water van berdruktheid, maar jou leraars sal hulel nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!  wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).

Die Gees van Jesus sal ons lei. Hy sal ons kosbare lesse leer en ons sal weet hoekom ons beproef word. Daar sal geen duisternis of misleiding meer wees nie. Hy sal ons duidelike leiding gee.

Dierbare heilige, God se plan is dat jy geseën sal word en voorspoedig sal wees in die Gees van Christus, tot sy verheerliking. Hy sal al jou vyande verstrooi, en deur sy hand sal jy die brood van vermeerdering geniet. Halleluja!