Gebed Wat God Behaag

David Wilkerson (1931-2011)

Ons Diepste Behoeftes Word Deur Sy Begeerte Aangespreek

Ek glo dat die kerk nooit die belangrikheid van gebed sal begryp nie totdat ons een fundamentele waarheid verstaan. Eenvoudig gestel, gebed is nie net vir ons eie voordeel of verligting nie, maar eerder vir die behae van die Here.

Ons gaan dikwels na die Here toe om ons probleme en smarte by Hom af te pak en nuwe krag vir ons volgende stryd te kry. Natuurlik is dit Skriftuurlik om dit te doen; ons word genooi om met vrymoedigheid na God se troon van genade te gaan om genade en hulp in ons tyd van nood te kry. Hy het vir ons gesê om al ons bekommernisse op Hom te werp, maar ons gebede is nie volmaak of behaaglik vir die Here as ons nie God se behoefte verstaan nie.

Ons belangrikste doel met gebed is altyd om behaaglike gemeenskap met die Here te hê

God begeer intimiteit en gemeenskap met ons in ons gebedslewe. Hy het immers reeds voorsiening gemaak vir ons daaglikse behoeftes. “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie... Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:25-26, AFR53). “Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:32-33).

God sê vir ons: “Wanneer jy in My teenwoordigheid kom, fokus jou aandag daarop om gemeenskap met My te hê – om My te leer ken. Moenie toelaat dat jou fokus op materiële dinge is nie. Ek weet wat jy nodig het. Jy hoef eintlik nie eers te vra nie – Ek sal vir alles sorg! Laat ons behaaglike gemeenskap geniet!”

Bid jy meestal uit pligsgevoel? Is dit meer ‘n plig as ‘n plesier? Min Christene betree God se teenwoordigheid met blydskap bloot vir die plesier van sy gemeenskap. Wanneer ons met ‘n dierbare geliefde hier op aarde kuier, dink ons daaraan as werk? Nee, dit is vir ons ‘n plesier.

Dawid het gesê: “Hy het my gered, omdat Hy ‘n behae in my gehad het” (Psalm 18:20). Het ons op ons beurt ‘n behae in Hom? Die Bybel sê vir ons dat die Here ons behae moet wees. “En verlustig jou in die HERE, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4).

Miskien het jy volle vertroue in jou behae van die Here en jou liefde vir Hom. Jy het geleer om na Hom te gaan net vir die plesier van sy geselskap. In jou wonderlike tye van intimiteit met Hom, lig Hy al jou laste, oorstroom Hy jou siel met vrede en verseker jou van sy liefde.

Is dit die einddoel van gebed? Is dit om ons ekstase te gee, om vir ons rus en vrede te beskik? Nee, daar is baie meer aan hierdie saak van gebed op ‘n wyse wat God behaag.

As ons gaan bid op ‘n manier wat die Here behaag, moet ons leer om “deur te bid.”

“Deurbid” is ‘n term wat deur die vroeë evangeliekerke gebruik is. Vir sommige, het dit beteken om op jou knieë te wees totdat jy verseker was dat jy ‘n antwoord van God gehad het. Vir ander, het dit beteken om voortdurend terug te kom na die Here totdat jy ‘n antwoord in hand gehad het.

Dit is moontlik om jou in God se teenwoordigheid te verbly vir ure op ‘n tyd – jou behoeftes aangespreek en jou hart volkome versadig – maar wat gebeur egter nadat jy daardie heilige plek van intieme gemeenskap verlaat het? Jy staan dalk van jou knieë af op net om terug te gaan na ‘n verpletterende situasie wat nie verander het nie. Jy sien, die duiwel wag daar vir jou, gereed om dieselfde probleme en leegheid op jou te werp. Wat help dit om ‘n tikkie heerlikheid op die bergtop te smaak as dit jou nie deur jou stryd dra nie?

Ek glo “deurbid” beteken die volgende: Die krag en sterkte en bemoediging wat jy van die Here ontvang terwyl jy met Hom afsonder, moet jou dra deur die beproewings wat voorlê. Dit gaan nie daaroor om antwoorde te kry nie. Die oorwinning wat jy in die binnekamer kry, moet vir jou oorwinning op die slagveld gee.

Hoeveel van ons het met gebed na die Here gegaan, die laste in ons harte voor Hom neergewerp en nadat ons uit die put uitgelig was, was ons blydskap herstel en ons geloof versterk? Die eerste ding wat Hy vir ons sê in ons tyd saam met Hom is: “Moenie bang wees nie. Ek is met jou.” Hy kalmeer ons gees en bring vir ons rus en vrede. Ons gaan uit sy teenwoordigheid uit en voel sterk, gereed om die goeie stryd van die geloof te stry.

Baie van ons raak egter moedeloos wanneer ons omstandighede nie verander ná tye van gebed nie. Ons glo God vir ‘n verandering en telkens gee Hy dit. Kere wanneer Hy dit nie doen nie, kan ons egter van ‘n wonderlike bergtop belewenis reguit in die stryd ingaan waar ons klaaglik misluk.

Geliefde, gebed is nie afgehandel nie – dit is nie “volmaak” of deurgebid nie – todat dit jou dra tot aan die ander kant van jou beproewing. Ons het nie “deurgebid” nie totdat ons “deurgeleef” het nie, wat beteken ons het ons beproewings verdra met die krag wat ons uit God se teenwoordigheid ontvang het.

God is ten volle van voorneme dat dit wat ons van Hom ontvang in gebed, ons ten volle sal toerus met alles wat ons nodig het vir ons stryd. So, hoe kan ons dit behou? Wat kan ons doen om ons gebed deur te sien tot ‘n triomfantlike einde?

Ek bid voortdurend hieroor omdat menigte Christene oral so erg ly. Ons bediening ontvang briewe van so baie wat so erg eensaamheid beleef dat hulle skaars hulleself deur ‘n dag kan dra. Ander ly as gevolg van allerhande huweliks- en gesinsprobleme. Herders se harte is gebroke oor al die lydende mense in hulle gemeentes. Wat kan kosbare heiliges doen om hulle gebede deur te bid?

Daar is twee dinge wat ons almal moet doen.

Die eerste manier hoe ons leer om deur te bid, is om te luister.

Die Skrif maak dit duidelik dat die Here met elkeen van ons wil praat: “En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor sê: Dit is die weg, wandel daarop! Wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21).

Ek het gehoor van ‘n klein dogtertjie wat besig was om aan leukemia te sterf. Terwyl sy nader aan die dood gekom het, het sy gesukkel met die gedagte van sterf. Een oggend toe haar ma in haar kamer kom, het die dogtertjie van blydskap gestraal. “Wat het met jou gebeur?” het haar ma gevra.

Die dogtertjie het geantwoord, “’n Engel het na my gekom en vir my gesê dat ek op reis gaan. God het gekom en my hand gevat en saam met my deur ‘n pragtige tuin gestap. Hy het vir my gesê: ‘Jy kom môre hiernatoe om saam met My te wees.’”

God het met daardie kindjie gepraat – en het al die hartseer en vrees uit haar hart uitgehaal. Toe sy die volgende dag gegaan het om saam met Hom te wees, het sy volkome vrede gehad.

Glo jy dat wanneer jy intiem met Jesus is, sal Hy vir jou blywende vrede vir jou beproewing gee, maak nie saak wat die uiteinde is nie? Sommige Christene glo nie dat God sulke dinge doen nie, maar Jesus sê: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Johannes 10:27).

Daar is geen ander pad deur jou beproewing nie, behalwe om alleen by Jesus uit te kom en te roep: “Here, U is die enigste Een op hierdie aarde wat my kan help. Net U ken die pad deur hierdie beproewing. Ek gaan hier bly totdat U vir my leiding gee, of dit nou iets is waarvoor U my krag gee om te doen, of iets wat U self gaan doen. Ek gaan aanhou na U toe kom, totdat U tot my hart spreek.”

Vriend, terwyl hierdie volharding nodig is, is daar nog iets wat nodig is om ons gebede deur te dra in die komende beproewings.

Die tweede ding wat nodig is om “deur te bid” is om algehele vertroue in God se Woord te hê.

Christus is die Lewende Woord van God. En wanneer jy met Hom in gebed afsonder, sal die Heilige Gees jou altyd lei na God se geopenbaarde Woord. Hy sal jou geloof opbou deur jou te voed uit die Bybel terwyl jy in jou binnekamer is!

Ons word beveel: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel... Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly... en neem... die swaard van die Gees – dit is die woord van God” (Efésiërs 6:11,13,17).

Op hierdie oomblik, is daar baie Christene wat hierdie boodskap lees en eenvoudig net ‘n woord van die Here moet ontvang. Niemand op aarde kan hulle help nie. Daar is maar net een manier vir hulle om deur hulle beproewing te kom en dit is om in Christus se teenwoordigheid te bly, totdat hulle van Hom hoor. Hy moet hulle verseker van die pad daardeur, miskien deur ‘n Bybelgedeelte.

Dit gesê, daar is geen rede vir jou om bekommerd te wees oor jou beproewing nie. God is getrou om te reageer op al jou versoeke, behoeftes waarvan Hy reeds weet en is gretig om jou te behaag.

Vader, plaas in almal van ons ‘n hart wat maklik deur u teenwoordigheid bekoor word. Help ons om deur ons beproewings te bid totdat dit volledig afgehandel is, om aandagtig te luister na u Gees tydens ons afgesonderde tyd van gemeenskap met U en om al ons vertroue in U geopenbaarde Woord te plaas. Op hierdie manier, sal ons weet dat ons gebede U behaag. Amen!