Moet Nooit van Christus Afvallig Raak Nie

Gary Wilkerson

Die Een Ding Wat Nodig is om Staande te bly in Hierdie Tye

Deur die hele Nuwe Testament word vir ons gesê dat daar in hierdie laaste dae 'n groot afvalligheid sal plaasvind. Jesus het gesê dat selfs sommige toegewyde diensknegte – “as dit moontlik was, ook die uitverkorenes” (Matthéüs 24:24, AFR53) – dalk van die geloof afvallig sal raak.

Dit laat 'n duidelike vraag ontstaan ​​vir elke ernstige Christen wat in hierdie gevaarlike tye leef. Wat kan ons geloof wegneem en wat verg dit om daaraan vas te hou?

Die skrywer van Hebreërs spreek hierdie vraag reguit aan. Hy doen dit deur 'n Ou-Testamentiese gedeelte aan te haal wat fokus op die wankelende geloof van die Israeliete onder Moses.

“Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag, as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar hulle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie” (Hebreërs 3:7-11).

Nadat hy hierdie gedeelte aangehaal het, rig die skrywer 'n duidelike waarskuwing aan Nuwe-Testamentiese gelowiges. “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 7:12).

Die skrywer van Hebreërs gee ons nie net 'n voorbeeld van swak of wankelende geloof nie. Hy waarsku ons: “Pas op om nie toe te laat dat 'n bose, ongelowige hart jou geloof oorwin nie. Ja, dit kan met jou gebeur.”

Wat bedoel die skrywer hiermee? Is dit werklik moontlik vir Christene in die laaste dae om onder God se toorn te kom soos die Ou Testamentiese Israeliete gedoen het? Ook, hoe is dit vir ons moontlik om nie in God se rus, wat deur Christus vir ons verkry is, in te gaan nie? Beteken dit dat ons tot by die eindstreep moet sukkel as ons hoop om dit tot in die hemel te maak?

Hierdie gedeelte klink so negatief dat dit vir genade-geleide gelowiges verwarrend kan wees. Tog is daar die glorieryke belofte in hierdie hoofstuk ingebed waarna elke sukkelende Christen smag om te hoor.

Dikwels lees ons die Bybel asof ons steeds onder die wet is in plaas van om te fokus op wat Jesus vir ons gedoen het in die Nuwe Verbond van sy genade.

Wanneer ons waarskuwings soos die een in Hebreërs hoor, is ons eerste impuls om te sê: "Ek moet my lewe heraanpas." Ons het 'n refleksreaksie en implementeer 'n selfbeheersde poging om God te behaag. Tog is hierdie reaksie in stryd met die allesomvattende werk wat Jesus reeds vir ons verrig het.

Sy goeie nuus is in werklikheid so kragtig dat dit ons menslike begrip te bowe gaan. Die evangelie van Christus is so bevrydend, wesenlik, vernietigend vir ons ewewig en ondermynend vir ons vlees dat ons eenvoudig nie die greep daarvan kan ontsnap nie. Die goeie nuus kom in al die hoekies en gaatjies van ons wese in en uit ons eens donker skeure spring vryheid, blydskap en oorvloedige lewe. Vriende, dit is 'n werklikheid wat ons nooit op ons eie sou kon bereik nie.

Omdat ons mense is, is ons egter geneig om die krag van Christus se genade in ons lewens te vergeet. Martin Luther het gesê dat hy elke dag die evangelie van genade aan homself moes verkondig, want hy het dit elke dag vergeet. Deesdae is Christene so vas in hul patrone en gewoontes van dink – altyd in gebreke om “beter te doen” – dat dit geen wonder is nie dat so baie lewenslange gelowiges uitgeput is as gevolg van hul pogings en dan uiteindelik die geloof verlaat. Om volgens 'n innerlike kode van wetsonderhouding eerder as deur lewegewende genade te leef, blyk vir 'n rukkie te werk, maar dit is 'n dwaling wat net vir só lank volgehou kan word. Menigte gelowiges word moeg en moedeloos en gee uiteindelik heeltemal tou op.

Vir diegene wie se geloof nog ongeskonde is, lees Hebreërs 3 en kom tot die gevolgtrekking: “As ek nie beter doen nie, sal ek op die ou end nie lewe nie. Die boodskap van hierdie gedeelte is duidelik: ek moet dit regkry.”

Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Trouens, sulke denke openbaar 'n gebrek aan geloof. Dit is 'n mentaliteit wat sê: "Ek moet ..." Nee! Deur sy Nuwe Verbond genade het God die tafels omgedraai om te sê: "Dit is omdat Ek lewe dat julle sal lewe." Dit is Jesus se letterlike woorde. “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eer, ook deur My lewe” (Johannes 6:57). Hierdie vers gaan oor meer as die ewige lewe. Ons voed op Christus vir oorvloedige lewe.

Jeremia spreek die vraag van afvalligheid aan deur te profeteer oor die Nuwe Verbond wat sou kom.

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit” (Jeremía 31:31). Met hierdie vers begin Jeremia die einste dilemma aanspreek wat in Hebreërs 3 bespreek word. Dit lei na een van my mees geliefde skrifgedeeltes, wat wys hoe die glorieryke Nuwe Verbond die dringende vraag sal oplos van hoe ons geloof staande bly.

“Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste gee en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:33-34, my beklemtonings).

Wat Jeremia hier profeteer, het die Israeliete verstom. God het gesê sy wet gaan verander, van buite sy volk wees – van kliptafels en menslike leraars af – na bestaan ​​in elke mens se hart. Daar sou nie meer selfgedrewe pogings tot wetsonderhouding wees nie, geen blote kopkennis van God se weë nie; met die Gees van God wat in ons woon, leef en beweeg ons nou in sy krag, vry van alle vrees.

As ons struikel, wend ons ons nie na Moses se wet om ons te gryp en ons te skud deur te sê: "Julle voldoen nie, so julle moet beter doen!" Christus gryp ons eerder vas en sê: “Moenie in hierdie mislukking vasgevang raak nie. Neem my transformerende genade in besit! Moenie probeer om jou pad uit jou stryd te beur nie. Ek is by jou te midde daarvan. Neem my genade in besit vir al die krag wat jy nodig het. My genade sal jou met lewe bemagtig!”

Geen hoeveelheid menslike krag kan vir ons die lewegewende krag van die hemel gee nie. Martin Luther het gesê die enigste ding wat hy by God se redding gevoeg het, was sy eie sonde en onwilligheid. God doen dit regtig alles, nie net regverdigmaking en verlossing van sonde nie, maar ook heiligmaking deur ons hele lewe heen, wat ons voortdurend heilig maak.

Een frase openbaar hoe Jeremia se profesie vervul sou word.

"Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping..." (Hebreërs 3:1, my beklemtoning). Ons roeping is nie een wat aardsgebonde is nie. Dit word in die hemelse ryk gevorm. Daarom moet ons staatmaak op die krag van die hemel om dit te vervul.

Die volgende frase in hierdie vers wys hoe hierdie krag na ons toe kom. “Let op...Jesus …” (Hebreërs 3:1). Daar, in twee woorde, is die vervulling van die Nuwe Verbond. Die skrywer van Hebreërs sê: “Met die oog op alles wat ek aan julle voorgelê het – met die oog op moeilike tye en ’n groot afvalligheid – is daar maar een saak vir julle om op te let: Jesus.”

Die skrywer beskryf dan die rolle wat Jesus vir ons aangeneemhet, “...die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis” (Hebreërs 3:1). Jesus se titels sê vir ons dat Hy gekom het om 'n taak te verrig en Hy het nie daarin misluk nie. Aan die kruis het Christus alles vir ons bereik wat ons nodig het vir oorvloedige lewe: verlossing van sonde, regverdigmaking en voortdurende heiligmaking. Dit is die wonderlike hemelse werk van ons Hoëpriester

Is jou huwelik onder skoot? Is jou finansiële toekoms onstabiel? Het jy 'n ernstige stryd teen sonde? Is jy moedeloos van al hierdie gevegsfronte in jou lewe? Stuur hulle jou geloof tot op die uiterste? Is jy bang om jou geloof te verloor en afvallig te raak? Van Jeremia tot Hebreërs, sê God se Woord dat daar een ding is om te doen: Let op jou Hoëpriester.

Eintlik sê Hebreërs vir ons daar is iets bykomends wat jy kan doen. Dieselfde hoofstuk sê vir ons: “As ons net die vrymoedigheid...van die hoop...vashou” (Hebreërs 3:6). Ons plaas ons vertroue op die volmaakte, voltooide werk van ons Hoëpriester. Hierdie vertroue is nie een of ander swak, flou hoop nie, maar is iets waarin ons kan roem. “...en ons roem in ons hoop” (Hebreërs 3:6).

Vriend, hier is hoe om vas te hou aan jou geloof in onstabiele tye. Eerstens, let op Jesus. Tweedens, hou vas aan jou vertroue in Hom. As jy dit doen, sal jy deur ander gevra word hoe jy so rustig kan wees in onstuimige tye. Jy sal gedring word om te roem, “Dit is alles Jesus. Doen jouself ’n guns en let op Hom.” Amen