Dit Mag Lyk Asof Ek Omsingel Is

Gary Wilkerson

Om Volkome Op God te Steun as Jou Vertroue

Toe Dawid Psalm 3 geskryf het, het hy 'n dramatiese en verwoestende tyd in sy lewe beleef. Oorweldig deur ondraaglike beproewinge, het hy met angs uitgeroep: “O Here, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan ​​teen my op” (Psalm 3:2, AFR53).

Vir Dawid, was dit nie net 'n interne krisis nie. Sy reaksie was nie om sy sondes te betreur soos hy in ander psalms gedoen het nie. Hy het 'n ernstige, eksterne krisis gehad. Miskien word die pynlikste aspek van daardie krisis geopenbaar in hierdie psalm se opskrif: "'n Psalm van Dawid toe hy gevlug het vir sy seun Absalom."

’n Staatsgreep was besig om in die koninkryk plaas te vind, ’n gewelddadige opstand wat nie deur een of ander ambisieuse generaal gelei is nie, maar deur Dawid se eie seun. Alles wat vir Dawid dierbaar was, was op die spel: die toekoms van God se volk, Dawid se familie, trouens, sy lewe.

Gevolglik, het Dawid 'n psalm daaroor geskryf, 'n openbare verklaring van wat besig was om te gebeur. Eerlikwaar, ek vind dit verstommend. As herder word ek geroep om kwesbaar te wees voor die mense wat ek bedien, maar as ek as pa praat, wil ek nie hê my gesin se konflikte moet in die openbare oog wees nie. Byna almal wat ek ken, sal sulke dinge agter geslote deure wil hou, maar hier het David geskryf oor iets wat sekerlik openbare skande sou bring.

Eintlik het David geen ander keuse gehad as om openlik te wees nie. Almal in die koninkryk het gesien wat gebeur en was verplig om kant te kies. Ek glo een rede waarom die Bybel hierdie pynlike scenario opgeteken het, is om ons te beveel om net so eerlik en openlik met God te wees as wat Dawid was. Hy het geweet die Here is waardig om te vertrou, ongeag ons omstandighede en hy het God vertrou vir ‘n regverdige uitkoms.

As jy Jesus met jou verdrukkings vertrou, is die einde van die storie altyd anders as die huidige hoofstuk wat jy leef.

Hierdie psalm van Dawid het 'n bekommerde begin. Teen die einde, is Dawid se stem egter vol hoop, vrede en geloof, alles tot God se eer en verheerliking.

Dawid se seun, Absalom, het 'n lang gekoesterde wrok teen sy vader gehad. Wat begin het as 'n klein opstand onder Absalom, het begin momentum kry. Die seun het 'n massiewe burgermag teen sy pa versamel, vasbeslote om hom omver te werp.

Toe die opstand begin het, was Dawid gedwing om van die geveg te vlug. Hy het onder die bedekking van die nag uit die stad geglip, terwyl hy geween en gekla het oor alles wat gebeur het. Miskien het jy al sulke nagte beleef. Jy het geween oor dit wat gelyk het na 'n gebroke belofte van God. Jou probleme het jou so oorweldig dat jy soos Dawid uitgeroep het: “O HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan ​​teen my op” (Psalm 3:2, AFR53). Terwyl ons die eerste drie verse lees, kom die woord "baie" twee keer voor. Om dit eenvoudig te stel, Dawid se probleme het toegeneem bo sy vermoë om dit te kan hanteer. Die meeste van ons hanteer een probleem op 'n slag goed, maar wanneer ons probleme toeneem, kom ons in die versoeking om te vlug, bang om oorweldig en verpletter te word. Die toenemende teenstand saai verwoesting in ons gedagtes, wat soveel onsekerheid veroorsaak dat ons verbeelding op hol gaan met skrikwekkende scenario's. Ons verloor alle geestelike selfvertroue en dink: “Ek sal nooit hiervan ontsnap nie. Dit gaan my lewe vernietig.”

Dawid het uitgeroep: “Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie” (Psalm 3:3).

Blykbaar was die gerugte op straat aangaande Dawid dat hy heeltemal verlore was, buite enige hoop op redding. Hierdie stemme was so intens dat Dawid dit begin glo het. Die stem van die vyand het dus nie meer net van buite af gekom nie maar van binne-in Dawid self.

Was jy al ooit in hierdie posisie? Die druk waaronder jy verkeer, beide intern en ekstern, was so groot dat jy self die slegte verslag oor jou begin glo. Jy dink: “Almal is reg, ek het dit oor myself gebring. Ek het myself uit God se redding gehaal. Die enigste ding wat ek nou kan doen, is om te vlug. Op ’n stadium kon ek dalk sterk gestaan ​​en baklei het, maar my enigste keuse is nou om te vlug.”

Vriend, dit is presies waar Satan jou wil hê. Hy stuur vyand na vyand om jou te omsingel sodat jy te midde van die geveg hoop moet verloor. Jy raak vasgevang in soveel wanhoop dat jy nie meer God vertrou om jou van jou probleme te red nie.

Skielik het Dawid sy fokus verskuif van die “baie” wat hom omring het na die Een. Selfs terwyl hy omring was deur veroordelende stemme, insluitend sy eie, het Dawid 'n kragtige belofte van God onthou. “Maar U, HERE, is 'n skild wat my beskut” (Psalm 3:4). Tot op hierdie stadium, was sy gebed een van wanhoop, maar in vers 4 sien ons dinge begin verander. Sy fokus is nie meer op die “baie” nie. Nou gaan dit oor "U, o HERE." Dawid moedig homself aan om by God in te dring, met die wete dat die Here alleen sy skild is. Hy sê in wese, “Vader, maak nie saak uit hoeveel rigtings die vyand mag kom nie, U is my beskerming. U bedek my, nie net op hierdie oomblik nie, maar altyd, in alle omstandighede.”

Dawid se verklaring herinner my aan Jesus se versoeking in die woestyn. Die duiwel het Christus van alle kante af aangeval met drie ernstige versoekings toe Jesus op sy swakste was. Christus het elke aanslag teëgestaan ​​en op die krag van sy Vader se Woord gestaan. Daarom het Hy later getuig: “[Satan] het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Kortliks, God se krag om sy Seun te beskerm, het Satan uit elke rigting verdryf.

Hy doen dieselfde vir ons. Dawid het dit geweet en in werklikheid gesê: “Ek het gedink ek is omring deur vyande wat gereed was om my te oorwin. Nou sien ek dat dit eintlik daardie vyande is wat omsingel is! Here, U beskerm my nie net nie, maar U jaag ook my vyande op die vlug.”

Hierdie openbaring het Dawid se gees opgehef. “…U, HERE, is…my eer en die Een wat my hoof ophef” (Psalm 3:4). Dawid se selftwyfel het verdwyn, wat altyd die gevolg is wanneer God sy heerlikheid aan ons bekend maak. Ons word daaraan herinner dat Hy alleen die sleutels tot ons lewe hou. Om dit te weet, herstel ons selfvertroue, wat ons van selftwyfel ontneem. Ons gedagte is nie meer: "Miskien verdien ek niks van God nie", en in plaas daarvan besef ons: "Ek sal nie uitgedryf of afgeskeep word nie. Hy is my skild, my eer, die Een wat my hoof ophef!”

Dawid se uitroep van aanbidding het sy vyande laat skrik.

Dawid het nie meer strydwaens of soldate as sy vyande gehad nie. Wat hy wel gehad het, was 'n hernieude vertroue in God se krag.

So, wat het volgende gebeur? Dawid sê vir ons: “Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak” (Psalm 3:6). Praat van selfvertroue! Daar is geen groter bewys van selfvertroue as om lekker te slaap nie. Miskien hou jou probleme en beproewinge jou in die nag wakker. Dawid se getuienis in hierdie psalm spoor jou aan om weer op God se goedheid te vertrou. Al voel jy oorweldig, hou Hy jou uitkoms in sy hand en dit is nuus wat 'n goeie nag se slaap sal verskaf.

Dawid voeg kragtig by: "Ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my" (Psalm 3:6). Dawid het nie net fisies wakker geword nie; diep in sy hart het hy weer ontwaak tot 'n kennis van God se ondersteunende krag.

Ek glo dat Dawid op daardie oomblik alles onthou het wat God vir hom gedoen het, en onthou het dat die Here die onderhouer van sy lewe was. As 'n herderseun het Dawid teen leeus en bere geveg. Hy het die verskriklike reus Goliat doodgemaak. Hy het sy leër gelei om magtige vyande te verslaan. Die herinnering aan al hierdie dinge moes Dawid met 'n nuwe lewenskrag verkwik het en hy het getuig: "Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom my teen my gereed staan nie" (Psalm 3:7).

Toe Dawid die stad verlaat het, het die koninkryk wat God hom gegee het, nie meer verlore gelyk nie.

Absalom het 12 000 manskappe teen Dawid opgerig, maar God se belofte sou nie toelaat dat dit die einde van die verhaal wees nie. Dawid het vol vertroue gebid: “Staan op, HERE! Verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan... Die heil behoort aan die HERE; laat U seën wees op u volk!” (Psalm 3:8-9).

God se belofte het Dawid se hoop vernuwe ten spyte van al sy omstandighede. Vriend, laat Dawid se vertroue joune wees deur die wonderlike woorde van hierdie psalm. Ons geloof is nie gebaseer op uiterlike nie, maar op God se beloftes en dit is goeie nuus. Dawid het sy lewe in God se hande geplaas. Mag sy getuienis jou eie wees: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon” (Psalm 4:9). Amen!