God Sal Jou Deur Die Moeilike Tye Dra

David Wilkerson (1931-2011)

Gerusstelling oor Vinnig-Bewegende Globale Gebeure

Gelowiges oral wonder: “Is ons in die heel laaste jare van die menslike geskiedenis? Enige gedagte oor daardie onderwerp is blote bespiegeling. Een ding is egter seker: Wêreldgebeure versnel.

Volgens wat Jesaja gesien het, is die aarde nie oppad na vernuwing nie, maar na totale vernietiging. “Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan die wankel, die aarde word geheel en al geskud. Die aarde waggel geheel en al soos ‘n dronkaard en swaai heen en weer soos ‘n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie” (Jesaja 24:19-20, AFR53).

Wanneer sulke tye aanbreek, wat sal met die ware volgelinge van Jesus gebeur? As die wêreld toenemend slegter word totdat Jesaja se profesie vervul word – as ons deur ondenkbare rampe moet gaan – hoe sal God vir ons sorg?

Net soos die Here ons tot in die fynste besonderhede waarsku oor die swaarkry wat voorlê, sal Hy ook aan ons openbaar hoe Hy ons sal beskerm.

Ons God het ‘n bepaalde plan. Dit is eenvoudig, maar so vas soos die heelal self. Sy plan kan in een sin opgesom word: Hy sal ons deur alles dra deur die krag van sy voorafbepaalde woord.

Ons gaan bewaar word deur die gesproke woord van God. Dit is ‘n woord van verlossing wat van die grondlegging van die wêreld aangekondig is. Hierdie plan is inderdaad iets wat God bepaal het voor die wêreld was.

Ons God word nooit onverhoeds betrap nie; niks verras Hom nie. Hy het ‘n plan gehad om ons te bewaar lank voor daar nasies, weermagte, oorloë, depressies, plae en geweld was: “Terwyl Hy voorafbepaalde tye... vasgestel het” (Handelinge 17:26). God het al hierdie dinge vooruitgesien en Hy het ‘n woord van bewaring, wat so ewig en onwrikbaar soos sy eie karakter is, gespreek. “Dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde... deur die woord van God...maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van oordeel” (2 Petrus 3:5,7).

Tot daardie tyd, hou Jesus Christus alle dinge in stand deur die krag van sy woord. “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Hebreërs 1:3).

Jy sien, Jesus het ‘n onderhoudende woord vir alle skepsels gespreek. Toe Hy na die aarde gekom het as ‘n man van drie-en-dertig jaar oud, was alle skepsels onderhou deur die ewige woord wat Hy eens aan die begin gespreek het. Slegs op sy bevel het hierdie kragte verander en ‘n nuwe orde gehoorsaam. Toe Jesus se dissipels gesien het hoe Hy die see laat bedaar, het hulle gesê, “En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir ‘n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?” (Matthéüs 8:27).

So seker as wat Hy alle dinge deur die krag van Sy woord geskep het, het die Here ‘n ewige woord gespreek om al Sy kinders te bewaar.

Jarelank, het ek gewonder oor die volle betekenis van die Here se woorde, “dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan” (Deuteronómium 8:3). Nou weet ek.

Moses het hierdie woorde tot die Israeliete gespreek om hulle aan God se getrouheid te herinner. Die betekenis daarvan is: “Die Here het toegelaat dat julle honger ervaar. Hy het julle verneder deur julle by ‘n plek te bring waar alle menslike briljantheid nutteloos is. As God nie bonatuurlik vir julle gesorg het nie, sou julle gesterf het. Die kwessie was nie voedsel nie, maar eerder vertroue in Hom. Die Here, wat die wêreld in wording gespreek het, het ‘n woord van bewaring vir julle. Al Sy woorde is julle s’n deur geloof.”

Toe Israel in die woestyn was, het God ‘n nuwe ding vir hulle gedoen. Hy het die woorde gespreek, “Laat daar manna wees. Laat hulle wonder wat dit is.” Hy het iets nuuts gemaak.

Israel kon sy owerstes en leiers byeengeroep het om strategië en planne uit te dink oor hoe God hulle sou voed en vir hulle sorg. Maar niemand sou ooit kon dink dat God die grond met klein, wit, ronde saadjies sou bedek nie, ‘n nuwe soort voedsel wat die mensdom nog nooit voorheen gesien of geproe het nie.

Wil jy weet hoe God jou in moeilike tye sal bewaar? Hy sal dit doen deur, indien nodig, ‘n nuwe woord te spreek, deur alles wat jy nodig het te skep deur die krag van Sy woord. Al wat God nodig gehad het om te doen, was om die woord “manna” te spreek en ‘n hele geslag Israeliete was bewaar.

Jesus het dieselfde woord gebruik toe Satan Hom versoek het om ‘n klip in brood te verander om Sy hongerpyne te stil. Christus het geantwoord: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4).

Toe Jesus honger en dors in die woestyn was, was Sy hart rustig, want Hy het geweet dat die Vader ‘n woord gespreek het dat Hy veilig was. Sy sending was van die grondlegging van die wêreld af gespreek en geen wapen teen daardie sending sou iets kon uitrig nie. Hy het die Vader vertrou om Hom op God se eie manier te bewaar, deur die krag van Sy woord.

Baie Christene probeer dink hoe God vir sy kinders sal sorg wanneer die wêreld se vernietiging in volle sterkte kom.

Sommige Christene beplan om hulleself in die berge of in die woestyn af te sonder. Jesus het vir ons ‘n ander plan: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?” (Matthéüs 6:31).

Ons hemelse Vader weet wat ons nodig het en Hy het gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Hoor jy Jesus se belofte hier? Hy sal ons alles gee wat ons nodig het. Christus se voorafbepaalde woord was in die hemel bepaal lank voor een van ons gebore was.

Ek glo dat God ‘n sekere begeerte vir sy kinders het in hierdie moeilike tye. Dit is om ons ‘n onwrikbare oortuiging te gee dat Hy ons van die mag van die bose sal bewaar. God probeer baie hard om ons te vul met vertroosting en vrede. Hy het gesweer dat Sy woord blywend en ewig vir ons is.

“Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van Sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Hebreërs 6:17-19).

Is jou siel deur vrees gebind of in hoop geanker?

Geniet jy groot vertroosting gegrond op die wete dat God nie kan lieg nie en dat sy Woord vooruitgaan om jou in goddelose tye te bewaar?  Neem tyd om die hele Psalm 91 te lees. Jy sal vind dat die ewige woord van God eens en vir altyd verlos het. Dit is deur ‘n God gegee wat nie kan lieg nie. Hoewel dit deur die outydse psalmdigter gespreek was, is dit waar vir elke geslag sedertdien en veral vir ons.

Beskou ook hierdie woord uit Openbaring: “Ná hierdie dinge het ek gesien...’n groot menigte wat niemand kon tel nie...het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het julle gekom?... En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9,13-14).

Hierdie gelowiges het “uitgekom” en daar was ‘n groot menigte. Hulle het ingegaan, maar hulle het uitgekom. Nie net het hulle groot lyding verduur nie, maar hulle het daar uitgekom terwyl hulle ‘n baie spesiale getuienis uitgeroep het: “Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid!” (Openbaring 7:12).

Hierdie mense het nie “net oorleef” nie. Hulle het oorwin. Hulle gesing van die Een wat hulle uitgebring het. God het Homself aan hulle op elke manier bewys. Hulle het geleer om Hom dag en nag te dien,” wat beteken deur hulle donkerste tye sowel as deur hulle mees geseënde tye.

God is nie geïnteresseerd om ons net fisies met voedsel, water en skuiling te bewaar nie. Dit is nie ‘n groot oorwinning in Sy oë nie. Die oorwinnaars wat in Openbaring 7 beskryf word, het in die slegte tye oorwin omdat die volle Woord van God vir hulle lewend geword het. Hulle het Sy sterk arm en Sy heerlikheid en wysheid tot die einde gehad. Elke woord uit Sy mond het waar geword – en hulle het Hom daarvoor geprys met danksegging.

Dink daaraan, geen wanhoop, vrees of onderwerping aan sataniese dreigemente nie. Hierdie oorwinnaars het gewas, in wit geklee en triomferend uitgekom, en net so sal sy kinders vandag. Wees daarom bemoedig. Sy voorafbepaalde Woord sê dit maak nie saak waardeur ons gaan nie, ons kom daaruit. Halleluja!