'N FEESMAAL NUTTIG TERWYL JOU VYAND MOET TOEKYK

David Wilkerson (1931-2011)

“U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teenstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor” (Psalm 23:5).

Van al die wonderlike beloftes wat God aan ons in hierdie psalm gee, is hierdie een van die mees wonderlikes. Hy sê Hy gaan vir ons ‘n tafel dek, heerlike disse daarop neersit en ons dan bedien met ‘n feesmaal. En Hy doen dit alles voor ons vyande.

Die woord tafel in hierdie vers beteken “onthaal” – ‘n groot tafel vol kos, ‘n massiewe feesmaal. En daar is net een gas by hierdie maaltyd – jy! God doen hierdie wonderlike werk vir elke individu wat Jesus liefhet en homself by sy Naam noem.

Terwyl God jou feesmaal voorberei en jou bedien, laat Hy jou vyande op die rand van die toneel sit en kyk na alles wat gebeur. Hulle sien dat die Here self jou tafel dek met kos, jou na jou sitplek begelei en jou bedien. Dan kyk hulle hoe jy jou siel met die hemel se heerlike kos vul. Ek sê vir jou, geen demoniese mag, insluitend die duiwel self, kan ooit hierdie soort liefde, genade en barmhartigheid verstaan nie.

Jesus sê vir ons dat die Vader dit vir al sy kinders doen: “Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien” (Lukas 12:37).

Terwyl jy begin smul aan die heerlike voedsel wat God vir jou voorsien het, buig die Here af en fluister in jou oor, “Jy hoef nie oor enige van hierdie vyande bekommerd te wees nie. Hulle kan niks aan jou doen nie.”

Met hierdie wonderlike versekering in jou hart, kan jy sing, “En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my...ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE” (Psalm 27:6).