'N BARMHARTIGE GOD

David Wilkerson

“Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy is self goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas  6:35-36, my klem).

Dwarsdeur die Bybel is daar 'n kragtige tema wat lui: “Want die HERE jou God is 'n barmhartige God” (Deuteronomium 4:31). Hierdie tema van barmhartigheid (toegeeflikheid, deernis, vergifnis) is die kern van die Ou Testament. Ons lees dit weer en weer in Deuteronomium, Kronieke, Nehemia en die Psalms: “Die HERE jou God is genadig en barmhartig.” Net so sien ons dieselfde tema van barmhartigheid in al die Evangelies en dwarsdeur die Nuwe Testament.

'N OFFER VAN GROOT WAARDE

Toe God afgekyk het na die uitbreek van losbandigheid op die aarde, het Hy nie sy skepping verlaat nie. Hy het nie opgegee op hierdie sondige, goddelose, begeerte-verterende wêreld nie — en die Skrif sê vir ons iets van wat Sy barmhartigheid teenoor 'n sondige wêreld Hom gekos het. Hy het Sy eie Seun in ons midde gestuur en toe in Sy teer barmhartigheid, het die Vader Sy Seun aangebied as 'n offer en ons almal se ongeregtighede op Christus gelaai.

Dink aan die hoë koste van barmhartigheid wat Jesus betaal het. Die gewig van so 'n prys kan eenvoudig nie bereken word nie. Niemand kan Christus se pyn meet toe Hy die sondes van die wêreld op Homself geneem het nie.