'n Ander, Jesus, 'n Ander Gees, 'n Ander Evangelie

David Wilkerson

‘n Tyd gelede, het ‘n bedienaar ons kantoor geskakel, baie ontsteld. Hy het gesê hy verkondig heiligheid en die gekruisigde lewe in sy kerk, en dit het geklink of hy ‘n ware herdershart gehad het. Toe het hy gesê dat sommige van sy lidmate een of ander spesiale seminaar bygewoon het – en hulle het huistoe gekom, gereed om sy gemeente te verlaat.

Hulle het vir hom gesê, “God het ons by ‘n nuwe openbaring gebring wat ons lewens verander het. Ons het dinge gehoor wat ons nog nooit tevore gehoor het nie.  Ons het gedink ons was voorheen gered, maar nou weet ons dat ons nie was nie. Alles wat ons oor die eindtye geglo het, was verkeerd. Ons het nuwe waarheid gesien.

“Pastoor, jy en jou kerk is verkeerd. Julle mense is nie eens gered nie! Julle dink julle verkondig heiligheid, maar ons het ontdek wat ware heiligheid is. Ons het iets nuuts gevind.

Vandag, woon dieselfde groep mense nie eens meer ‘n kerk by nie, omdat hulle niemand kan vind om hulle “dieper” te neem nie. In plaas daarvan, word hulle gevoed deur sekere bandopnames.

Hulle pastoor het iets vir my vertel wat ek vanaf kerke dwarsdeur die land gehoor het. Hy het gesê, “Wat gaan aan? Daar is so baie nuwe, vreemde leerstellinge, so baie leraars met nuwe ‘openbaring.’ En dit lyk of almal ‘n aantal Skrifgedeeltes het om dit te ondersteun. Niemand onderskei wat van God af en wat van Satan af is nie, wat dwaasheid en wat geregtigheid is nie. Ons mense raak verward.”

Hy was so reg! Nuwe doktrienes, nuwe openbarings en nuwe evangelies spruit oral uit amper op ‘n daaglikse basis. En dit gaan baie erger word. Die Bybel waarsku duidelik dat in die laaste dae vreemde doktrienes sal ontstaan – en ‘n ander Jesus, ‘n ander Gees, ‘n ander evangelie verkondig!

Die apostel Paulus het die ouderlinge van die kerk by Efése byeengeroep en sy laaste woorde aan hierdie geliefde heiliges was: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29-30).

Die hele tyd toe Paulus die kerke wat hy gestig het, bedien het, het hy ‘n vrees gehad wat tot sy sterwensdag sou duur. Dit is ‘n vrees wat elke ware herder binne-in hom moet hê, en dit was nooit uit Paulus se gedagtes uit nie (“Onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” [Handelinge 20:31]). Dit was die vrees dat valse leraars sou inkom om te mislei.

Paulus het vir die Korinthiërs gesê, “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid” (2 Korinthiërs 11:2).

Hy het egter nie gepraat van iemand wat sy skape steel nie. Hy het nie gesê, “Haai, daardie skape is myne! Ek is hulle leraar – hulle is onder my gesag” nie. Nee, Paulus was eerder verontwaardig en gedink dat een of ander leraar tussen sy dissipels en hulle toewyding aan Jesus sou kom: “Want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Korinthiërs 11:2).

Paulus het gesê hy het een doel, een begeerte – en dit is dieselfde begeerte wat alle ware herders moet hê: om te staan voor die regterstoel van Christus en elke geestelike kind rein, onbevlek, heilig en regverdig, gewortel en gegrond in die Woord voor te stel aan Hom. Dit is om hulle te sien staan voor Sy troon met ‘n vertroue, wetend dat jy vir hulle die hele raad van God gegee het... dat hulle nie deur elke wind en golf van lering rondgegooi was nie, nie mislei was deur leerstellinge van duiwels nie...dat hulle deur elke toets en beproewing gekom het met die Woord van God diep in hulle harte!

Geliefde, my grootste blydskap in die hemel – saam met Paulus en elke ware bedienaar van God – sal wees om te hoor hoe elkeen van julle name deur die Here uitgeroep word, jou voor Hom te sien staan, oorvloedig in toewyding en nederigheid, en Hom vir jou te hoor sê, “Wel gedaan, goeie en getroue dienskneg!”

Dít is waarlik een begeerte van my hart. En dit is waarom ek met vuur en ywer preek. As Paulus lewend was vandag en vanaf die kansel van Times Square Kerk gepreek het, sou hy elke keer wat hy gepreek het, dieselfde ding in trane vir ons sê: “Wees gewaarsku! ‘n Aanval kom! Vals leraars en vals leerstelling sal julle van alle kante bombardeer. Dit sal julle voorstel aan ‘n ander Christus. Dit sal nie van die Heilige Gees af wees nie, maar van ‘n ander gees. En dit sal nie die ware evangelie wees nie – dit sal ‘n ander wees.”

Paulus het ‘n vrees, wat hy oor hulle gehad het, bely: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3). Paulus het geweet dat die Korinthiërs té vatbaar was vir vals leraars. Hy het in wese gesê, “Julle is té oop, té gewillig om te luister, té angstig om iets nuuts te hoor!”

So dikwels, sal ‘n goedhartige, standvastige Christen een of ander bandopname vir my gee en sê, “Jy móét hierna luister. Die boodskap is ongelooflik kragtig! Almal praat daaroor.” Dan luister ek. En dit klink baie goed – gesalf, nuut en vars. Maar dan begin die Gees binne-in my te roer.

Gebeur dit ooit met jou? Terwyl jy luister, voel jy ‘n ongemaklikheid – so, jy wag en jy hou aan luister. Jy sê, “Ek hoor nog niks verkeerd nie. Maar iets klink nie reg nie.” En as jy aanhou luister, is dit skielik daar – misleiding. Ernstige, totale misleiding – skrikwekkende kettery! Onskriftuurlike interpretasies, fantasiedrome, die mens se eie idee’s, asof ‘n geheimenis ontsluit word. Maar dit stem nie ooreen met God se Woord nie.

Paulus was verwonderd oor hoe maklik sommige van die Galásiërs mislei was: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die wat bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees” (Galásiërs 1:6-8).

Paulus het gesê, “Moenie so beleefd en ordentlik daaroor wees nie. As dit nie die evangelie is wat julle van my gehoor het nie, is dit nie van God nie. Dit is vervloek, verrot, dodelik. Dit is ernstige sake, en dit sal vir jou moeilikheid gee as jy daarin vasgevang word. So, moet dit nie ligtelik opneem nie. Moenie dit verdra nie, en moenie gaaf daaroor wees nie. Laat die een wat dit verkondig, vervloek wees!”

Dit maak nie saak of ‘n engel verskyn en vir jou sê die boodskap is van God nie. Dit maak nie saak as jy en jou vriende “onderskei” dat dit reg is nie. Die Bybel maak dit duidelik: As dit nie in ooreenstemming is met Paulus se evangelie nie, is dit van Satan, “vervloek.”

Hoe sal ons dan weet wat die ware evangelie is, en wat vervloek is?

Laat my eerstens sê dat selfs die mees demoniese vals leraars begin met waarskuwings teen ‘n vals leerstelling. Hulle waarsku hard en duidelik teen om vasgevang te word in iets nie wat nie soos Christus is nie. Amper alle vals leraars wat ek al gehoor het, vaar die ergste uit teen vals lering, en gaan dan voort om te verkondig dit  wat vals is. Hulle spandeer baie tyd om hulle hoorders te oortuig dat hulle nie soos vals leraars is nie – maar maak hulle egter gereed om hulle boodskap te hoor.

Doktriene is nie noodwendig reg, bloot omdat die leraar heilig, goed, vroom en opreg vookom nie. Dwarsdeur die geskiedenis was die kettery wat die meeste skade gedoen het, verkondig deur mans wat beskou is as goed en opreg. Dít maak vals leerstellinge selfs meer gevaarlik. Talle Christene al het gesê, “Maar hy is so ‘n goeie man, so nugter, so opreg, so liefdevol.” ‘n Christus-gesentreerde leraar sal inderdaad heilig, nugter en opreg wees – maar die duiwel se “engele van die lig” sal ook so voorkom. Hulle sal kom as boodskappers van geregtigheid, waarheid en openbaring.

Paulus sê Satan probeer om ons te mislei, net soos hy Eva in die tuin mislei het. Hy gebruik dieselfde lis, dieselfde misleiding: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak” (2 Korinthiërs 11:3).

Niks het sedertdien verander nie! Die vals evangelie wat Satan aan Eva bekendgestel het, is dieselfde evangelie wat hy vandag bevorder – en alle vals evangelies het dieselfde eienskappe in gemeen. God het nie hierdie belangrike saak aan raaiwerk oorgelaat nie. Hy het dit baie duidelik gemaak, en daar is absolute leidrade waarvoor mens op die uitkyk moet wees, wat die leraar as vals sal openbaar:

1. Enige lering wat die vrees van God ondermyn, is vervloek – van die duiwel!

Alle vals leraars het hierdie een boodskap in gemeen: Ontspan, God kan nie hard wees nie. Hy sal jou nie skade doen nie – Hy het jou lief. ‘n Liefdevolle god wil hê jy moet die lewe geniet.” Die vyand se truuk is om jou weg te lei van die ontsagwekkende eerbied en vrees van ‘n heilige God wat sonde oordeel. ‘n Vals leerstelling het een doel – om die vrees van God binne-in jou te ondermyn.

Slegs die magtige, absolute vrees van God het Adam en Eva daarvan weerhou om Hom ongehoorsaam te wees. Dit was nie hulle liefde vir God, of hulle daaglikse gemeenskap nie. Dit was die volgende: “En die HERE God het aan die mense bevel gegee en gesê...van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Génesis 2:16-17).

Maar Satan het met ‘n mooi boodskap gekom: “Julle sal gewis nie sterwe nie” (Génesis 3:4). Dit was ‘n totale verdraaiing van waarheid – ‘n ander evangelie! Dit was egter presies wat Eva wou hoor. Jy sien, iets binne-in haar het God se gebod weerstaan. Die Here se verbod het te veel na ’n juk gelyk, en sy het daaronder geskaaf.

Satan het geweet dit was binne-in Eva, en hy het onmiddellik begin om die vrees van God binne-in haar te ondermyn: Het God regtig so gesê? God is nie só nie. Jy het die verkeerde konsep van Hom. Dink jy Hy sal jy jou wysheid en kennis ontsê as Hy self Wysheid en Kennis is? Watter soort God dink jy is Hy? Jy sal sekerlik nie sterwe nie!”

Jy mag onder sterk prediking sit wat klink soos ‘n swaar juk. Jy mag daaronder skaaf en sê, “Ek hou nie daarvan nie!” Maar moenie mislei word nie: Dit is die presiese dinge wat vir jou vryheid, vrede en blydskap sal bring. Jy roep egter steeds van binne af uit, “Ek kan God nie op hierdie manier dien nie. Ek wil vryheid hê!”

Daar is ‘n lering tans in die rondte in die charismatiese beweging oor ’n nuwe vryheid. Dit sê, “Kom en sing en roep en spreek in tale – en gaan dat uit en lewe soos die duiwel!” Dit is nie vryheid nie. Dit is Satan wat sê, “Jy sal nie sterf nie. God is nie hardvogtig nie. Hy is te liefdevol, te barmhartig. “Satan het ‘n evangelie gevind wat die begeerte van Eva se vlees gepas het – en hy sal ‘n evangelie vind om die gehoor van rustelose Christene te streel!

Ek hoor van goddelike, gebroke jong pastore wat afgedank word by hulle kerke of wat bedank. Hulle verkondig heiligheid en die vrees van God aan die tieners, maar die herders en ouers kla dat hulle die jongmense onder slawerny bring: “Ons wil nie hê jy moet daardie dinge aan ons kinders verkondig nie.” Hierdie tieners (sommige van hulle predikers se kinders) lewe in algehele rebellie. Hulle is oneerbiedig, draai ‘n rat voor die oë van hulle ouers en smag na die wêreld. En die boodskappe oor heiligheid en die vrees van God ontstel hierdie kinders, omdat hulle dit nog nooit tevore gehoor het nie.

Ons het ‘n hele geslag grootgemaak wat totaal sonder die vrees van God is. Hulle weet niks van oordeel nie. Hulle het nog altyd gekry wat hulle wou hê. Hulle sê, “Ons wil ruk-en-pluk,” en hulle ouers sê, “Moenie hulle ontstel nie. Bring ruk-en-pluk in die kerk in en gee dit Christelike lirieke.” Of, “hulle gaan in elk geval seks hê, so kom ons gee vir hulle beskerming.”

Hierdie jongmense het nog nooit die vrees van God geken nie, omdat herders en ouers maak asof God die groot paaier in die hemel is. Slegs ‘n handjievol Christen jongmense wandel vandag in heiligheid. Waarom? Omdat herders te swak is om die evangelie vanaf die kansel te preek – en omdat ouers dubbele lewens ly, en hulle kinders weet dit!

Sommige Christene het vir my geskryf, “Broer Dave, jy preek so hard. Preek jy so die hele tyd in jou kerk? Aanvaar die mense dit?”

My antwoord is die volgende: Ons is geroep om die Woord met soveel krag en gesag te verkondig dat dit ‘n voortdurende vrees van God in elke hoorder sal inboesem. Diegene wat nie hulle troetelsondes laat staan nie, sal nie bly nie, want hulle sal te veel aanstoot neem. Hulle sal hulle ore toemaak vir die waarheid en sal leraars gaan soek volgens hulle eie begeerlikhede (sien 2 Timótheüs 4:1-4).

God se Woord sê, “Deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6). Hier is wat ek glo ‘n ware evangelie boodskap binne-in ons moet vorm:

1. ’n Haat vir sonde wat geen verskonings of alibi’s toelaat nie

2. ’n Oortuiging van sonde oor alle geestelike luiheid en kompromie.

3. ’n Innerlike wete dat God ons sonde nie oorsien nie.

4. ’n Oortuiging dat ons sal maai wat ons saai.

5. ’n Heilige vrees van God.

6. ’n Vertroue dat Hy ons sal verlos van elke sonde wat ons haat en weerstaan.

Is jy onseker of nie ten volle oortuig van die noodsaaklikheid om in die vrees van God te wandel nie? Om dit eens en vir altyd uit te klaar, kyk na Jesaja 11:1-3. Hierdie gedeelte profeteer van die Een op wie die Gees van die Here sou rus – Een aan wie ‘n “welgevalle aan die vrees van die Here” gegee sou word. Hierdie gedeelte praat van Jesus! En as Jesus wat in die vrees van die Vader gewandel het Hom daarin verbly het, hoeveel te meer moet ons nie ook nie!

Wees versigtig vir enige boodskap wat oortuiging van sonde afbreek, wat ‘n gees van nie-waaksaamheid produseer, wat jou saggies gerusstel en fluister, “Alles is wel.” Alle soortgelyke susmiddels is valse evangelies!

2.Wees versigtig vir enige evangelie wat jou aflei van doelgerigte toewyding aan Jesus Christus.

Paulus waarsku ons plegtig dat Satan homself sal verander in ‘n engel van die lig – dat hy sy eie vals leraars sal oprig en dat almal van hulle sal voorgee hulle is dienaars van geregtigheid.

Lig verteenwoordig waarheid, evangelie en openbaring. Satan sal kom en die lieflike naam van Jesus gebruik, en hy sal selfs die uitverkorenes probeer mislei: “Wat hulleself verander in apostels van Christus” (2 Korinthiërs 11:13). Dink aan die verskrikking van so iets! Om die laaste dae deur te gaan onder die mag van vals apostels, leerstellinge van die duiwel aan te hang en onder die beheer van ‘n valse gees te wees.

Hoe kan so iets gebeur? Hoe kan iemand sit onder hierdie soort verdraaide evangelie wat Paulus beskryf en dit nie weet nie? Daar is slegs een manier – om te weier om begeertes te laat staan en voort te gaan om in blatante ongehoorsaamheid te wandel. Begeertes is die magneet wat ‘n persoon trek na vals apostels. Ek kan jou belowe, as jy aan jou begeertes vasklou, sal jy onder vals leerstellings verval. Dit is onafwendbaar – jy sal dit vind en dit sal jou vind. En jy sal so blind wees dat jy dit nie sal weet nie.

In die 18de eeu, was ‘n ander evangelie bekendgestel, genaamd antinomianisme, wat beteken “anti-wet.” Hierdie evangelie is steeds met ons vandag, en dit is sterker as ooit. Dit ondermyn die vrees van God deur te suggereer dat wanneer jy eers glo, jy kan sondig sonder om ooit veroordeel te word, omdat Jesus dit alles bedek het.

Dr. Tobins Crisp was een van die leraars van hierdie nuwe leerstelling wat dwarsdeur Duitsland versprei het. Sy proponente het Jesus se naam spreekwoordelik gebruik:

“Daar word baie gepraat oor genade en om die hart te ondersoek, maar gee vir my Christus! Ek soek nie beloftes nie, maar Christus! Ek soek nie heiligmaking nie, maar Christus! Moenie praat van bepeinsing of plig nie – vertel vir my van Christus!”

Dit klink na suiwer toewyding aan Christus – ‘n evangelie met Jesus as middelpunt. Maar Jesus self sê vir ons dat nie almal wat sê, “Here, Here,” Sy koninkryk sal binnegaan nie. Nie almal wat die Naam van Jesus gebruik, sal die ware evangelie verkondig nie.

Die leerstelling van antinomianisme word steeds vandag verkondig, en die charismatiese beweging val daarvoor, hoek, lyn en sinker. Luister na die res van hierdie leerstelling:

“’n Gelowige mag verseker wees van vergifnis sodra hy een sonde pleeg, selfs owerspel of moord. God word nie langer mishaag nie al sondig ‘n gelowige wel dikwels. Daar is geen sonde wat ‘n gelowige kan doen wat Hom enige skade kan aandoen nie – daarom is daar geen rede om sonde te vrees nie. Sonde is dood en boesem geen meer vrees in nie. As ons vir gelowiges sou sê hulle moet heilig wandel en goeie werke vir God doen of anders sal God kwaad wees vir hulle, sal ons die Skrif misbruik. Ons lieg dan in God se gesig. God het alles deur Christus gedoen – daar is niks om te vrees nie!”

Dit is asof die Christen wat hierdie leerstelling aanhang, in een of ander donker put sit en wag dat Jesus kom. Hulle sê, “Here, U weet waar ek is. As U my liefhet, kom trek my hier uit.” Nee! Die Bybel beveel ons om die duiwel te weerstaan, en hy sal van jou af wegvlug!

Ons het gemaak dat Christene lyk soos ‘n klomp hulpelose kreupeles – met geen krag of gesag nie, gebind deur sondige gewoontes en wagtend op ‘n wonderbaarlike verlossing. Daar is geen heilige roering teen sonde en geen vrees van God nie.

3.Daar kan geen toewyding aan Christus wees sonder ‘n heilige wandel nie

Dit is hoe alle leerstellinge beoordeel moet word: Verander dit jou na die gelykenis van Jesus Christus? Jy kan nie ‘n evangelie suiwer noem bloot omdat die leraar teen sonde preek, of omdat dikwels na Christus verwys word nie. Die New Age beweging praat baie van die Christus Gees.

Ek hoor dwalende predikers die naam van Jesus oor ‘n mikrofoon skreeu en uitvaar teen homoseksualiteit, dwelms en die sondes van die samelewing. Maar hoe langer ek luister, hoe meer besef ek: Hierdie man is nie werklik gebroke nie. Sy boodskappe is nie oortuigend nie. Hy praat van iemand anders se sonde, nie sy eie nie.

Sulke predikers vermaak die skare en sweep entoesiasme op. Hulle het geen ware oortuiging, geen verterende begeerte om die mense te verander na die beeld van Christus nie. Christene hou daarvan om na sulke byeenkomste te gaan waar hulle ‘n prediker hoor praat oor die afwesigheid van gebed in skole. Miskien sal hy iets sê van gierigheid, hoogmoed en owerspel, die dinge wat in ons eie harte is. Maar dan kom die sussende, gerusstellende woord. En wanneer die vertroue eers gewen is, word die vrees van God ondermyn.

Daar is een seker toets vir ware heiligheid prediking. Dit word gevind in 2 Timótheüs 2:19: “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Ek voel, soos Paulus moes gevoel het, ‘n harverskeurende uitroep om God se mense te waarsku oor wat kom. Daar is ernstige teologiese oorloë wat voorlê. Die hele charismatiese beweging sal in verskillende kampe verdeeld word en elkeen sal verenig agter hulle leerstellinge, leraars en boeke, en mekaar van misleiding en vals profesie beskuldig. En almal sal glo hulle verdedig die geloof!

Hulle sal nie teen die duiwel stry nie, omdat hulle te besig sal wees om mekaar ketters te noem. Dit sal ‘n tyd van groot verwarrring wees en ongeleerde Christene sal nie weet wie om te glo nie.

Geliefde, ek wil die ware vyand beveg. En daardie vyand is op die strate – en in ons eie harte! Ek gaan nie oor profesie stry nie. Ek wil saam met enige broer of suster staan wat in die vrees van God wandel en wie se hart oorgegee is aan suiwer toewyding aan Jesus Christus.

Ons moet ons oë afhaal van leraars en evangeliste, en studente word van God se Woord. “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timótheüs 2:15). Moenie soek na ‘n “beproefde” herder of evangelis nie. Jy sal van die een mens na die ander gaan, en hulle sal jou almal teleurstel, totdat jy op die ou end hoop verloor. Haal jou oë af van alle predikers en plaas dit op Jesus Christus!

4. Die ware evangelie is besorg oor jou hart – want daaruit spruit die oospronge van die lewe!

Die Fariseërs het ‘n sommige van die dissipels gesien brood eet met ongewaste hande, en toe “het hulle dit afgekeur” (Markus 7:2). “Want die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense” (Markus 7:3).

Hierdie mans het Jesus gevra waarom Sy dissipels nie in hierdie soort “heiligheid” gewandel het nie. Hulle s’n was egter slegs ‘n seremoniële tradisie. Dit was alles uiterlik en het slegs te doen met die handelinge van die vlees. Jesus het hulle geantwoord, “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my af” (Markus 7:6). Jesus het in wese gesê, “Julle lering is alles tevergeefs. Dit verander nie julle harte nie. Dit is alles vertoon, woorde, skynheilige dade!”

Hy sê vir ons hierdeur, “As ‘n evangelie My niks anders as lippediens gee en nie deel met die hart nie, moenie tyd daarmee verspil nie. Ware leerstelling moet by die oorspronge van die hart uitkom.” Jesus het die probleem met alle valse evangelies geopenbaar: Dit bereik nie dit wat die mens besoedel nie – dit oortuig of verander nie die hart nie. Dit bied ‘n vorm van goddelikheid, met geen hart nie. “Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak” (Matthéüs 15:18).

Paulus het gesê, “Jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep” (2 Timótheüs 2:22). Moenie my vertel van die wonderwerke in jou kerk nie – die lofprysing en aanbidding, of hoe goed die herder preek nie. Nee – vertel vir my van ‘n volk wat God aanroep uit ‘n rein hart! Vertel vir my dat, hoewel hulle nog nie volmaak is nie, hulle aangemoedig word in daardie rigting. Hulle laat toe dat God hulle harte ondersoek en beproef, om hulle sondige gesindhede te openbaar.

Dit is die ware evangelie van Jesus. Dit is ‘n evangelie wat die hart oortuig van sonde, met die hart deel en die hart verander! Oortuig dit jou van daardie innerlike sondes? Bose gedagtes? Owerspel? Hoerery? Moord? Diefstal? Gierigheid? Boosheid? Hoogmoed? Dwaasheid?

Indien nie, kry dan ‘n ander kerk met mense waar jou hart geopenbaar, geskud – en verander word tot eer van God!