MOENIE VREES WANNEER DIE HEMEL STIL LYK NIE

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus was pas gekruisig en begrawe toe Petrus en die ander dissipels besluit het om byeen te kom. Hulle was vergader agter ‘n geslote deur, en het vir hulle lewens gevrees toe hulle hierdie opwindende woorde gehoor het: “Hy leef!”

Skielik, het Jesus deur die geslote deur geloop in sy opgestane liggaam en vir hulle gesê, “Vrede vir julle” (Johannes 20:19). Hy het in wese gesê, “Vrees nie! Dit is Ek, julle Here.” Nou, sê vir my, as jy in daardie kamer was, sou jy nie sê dit was die mees asemrowende gesig wat jy ooit kon aanskou nie? Sou jy nie oortuig wees dat jy nooit weer sou twyfel nie?

Wat het egter gevolg op hierdie grootste van alle geestelike hoogtes? “Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang” (Johannes 21:3). Ses van die dissipels het Petrus na die meer gevolg en in der waarheid teruggekeer na hulle lewens as vissermanne. Waarom? Wat het gebeur met die groot bediening waarvoor God hulle geroep het?

Hierdie manne het in ‘n diepe droefheid verval weens iets waaroor Jesus hulle gewaarsku het: “’n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie...En julle sal bedroef wees” (Johannes 16:19-20). Christus het geweet hierdie toegewyde volgelinge sou ‘n baie neerslagtige periode deurgaan nadat Hy teruggekeer na die hemel; hulle sou oorweldig word deur sy fisieke afwesigheid in hulle lewens. Selfs al het Hy belowe Hy sou by hulle wees (sien Matthéüs 28:20), het dit gelyk of Hy hulle verlaat het en hulle dit op hulle eie moes maak.

Het jy al ooit ‘n droë tydperk beleef waarin jy gevoel het asof God jou alleen gelaat het? Jy kon God se stem duidelik hoor en jou gemeenskap met Hom was wonderlik. Toe, eendag, word jy wakker en die hemele het soos koper gevoel.

Geliefde, wanneer dit gebeur, moenie angstig word nie! Petrus gee vir ons raad, “Verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolgings onder julle wat tot julle beproewing dien...maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees” (1 Petrus 4:12-13). Trouens, selfs al lyk dit nie so nie, as jy op droë grond is, is jy op jou pad na groter dinge in jou lewe.