Moenie vir Isébel Vlug Nie

David Wilkerson

God beplan vir elke gelowige om in volle beheer van sy of haar lewe te wees – deur die krag en mag van die Heilige Gees! Die Bybel maak dit duidelik dat ons wandel deur die Here gerig moet word. Dawid getuig, “Op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie” (sien Psalm 22:5).

Jou lewe is egter nie onder beheer as jy geviktimiseer word deur ‘n gees van vrees, wellus, neerslagtigheid of depressie nie. As jy heeltyd gebombardeer word met gevoelens van waardeloosheid of gedagtes van moedverloor – is jou lewe nie onder beheer nie!

Indien enige van hierdie dinge jou beskryf, bid ek dat die Heilige Gees hierdie boodskap sal gebruik om jou siel in besit te neem – en ‘n bietjie baklei in jou terug te sit. God wil hê jy moet opstaan teen die duiwel – om al die terreine wat jy aan hom oorgegee het, terug te neem!

Ek wil vir jou wys hoe een van die magtigste, goddelikste mans in die hele Bybel beheer van sy lewe verloor het vir ‘n seisoen – en hoe hy beheer teruggekry het. Dit is die storie van Elia.

God het hierdie magtige kryger beveel om die 450 priesters van Baäl en die 400 profete van Astarte byeen te roep op die piek van Berg Karmel. God sou ‘n tweestryd hou – ‘n kragmeting met die duiwel! Dit het alles gegaan oor wie aanbidding waardig was – die heidense gode, of Jehova God.

Jy onthou dat Heilige Gees vuur neergedaal het uit die hemel en die offer op Elia se altaar verteer het en die twaalf kruike water opgelek het. Toe die draadsitter-gelowiges dit gesien het, het hulle op hulle aangesigte neergeval en die Here aanbid!

Toe het ‘n heilige woede oor hierdie mense gekom – omdat hulle bedrieg was! Hulle blootstelling aan die nikswerd afgodery het hulle in slawerny gevange gehou. Daarom het hulle daardie 850 heidense priesters geneem en hulle almal doodgeslaan!

In die tussentyd, het Elia vir Koning Agab gesê, “Maak gereed vir reën!” En die profeet het met die berg opgeklim en ‘n magtige donderstorm afgebid wat die droogte beëindig het. Toe het die Gees van God op hom neergedaal – en Elia het vir Agab se strydwa weggehardloop vir sestien myl ver, terug na die paleis in Jisreël toe!

Die Skrif sê, “Maar die hand van die HERE was oor Elia” (1 Konings 18:46). Geen man kon inderdaad dit alles doen sonder dat die Gees van God magtig op hom gerus het nie.

Elia se eie persoonlike stryd het begin by die poort van Jisreël!

Toe Elia by Jisreël gekom het, het hy buite die stadspoort gestop en wou nie ingaan nie. Hy verteenwoordig waar baie van ons tans is – buite die poorte van goddeloosheid, afgesonder van sonde, buite bereik van alle vyande.

Tot op hierdie punt, was Elia heel in beheer van sy lewe. Hy was opgebou, vreesloos, ywerig vir God en het afgodery gehaat. Sy gebede het geseëvier – nie een van sy woorde het op die grond geval nie. En God het hom pas op die grootste wyse van sy hele bediening gebruik. Elia het op man-alleen die magte van die hel geskud!

Ons weet nie wat Elia gedink toe hy buite die stad se poort gesit het nie. Maar ons weet wel hy “...was ‘n mens net soos ons” (Jakobus 5:17). Hy was ten volle mens, ten spyte van dit wat hy pas verrig het.

Ek glo Elia het ernstig verwag dat God die werk wat Hy begin het sou afhandel – om alle afgodery in die land te vernietig! Hy het waarskynlik gedink, “Miskien sal daardie regverdiges wat die vuur sien neerdaal het, opstaan en Isébel uit haar paleis uitgooi. Sy is sekerlik bang. Sy is waarskynlik op hierdie oomblik besig om haar tasse te pak en ‘n rytuig te ontbied.

“Daar kan opstote in die strate wees. En die mense gaan ‘n profetiese stem nodig hê wanneer alles uitbars. Ek moet hier wees!”

Terwyl hy buite die stad in afwagting gewag het vir God se optrede, het Elia baie belangrik gevoel, baie nodig – en magtig in God. Maar, geliefde, jy kan iets beleef soos Elia op die Berg Karmel –vestings afbreek, oorwin in gebed, siele red uit Satan se kloue en tog dadelik daarna ‘n groot val beleef!

Die kwesbaarste punt in jou lewe as ‘n Christen is pas nadat jy ‘n magtige oorwinning beleef het. Talle herders, evangeliste en gemeentelede wat magtig deur God gelei is, het geval omdat hulle roekeloos en selfvoldaan in hulle uur van mag geword het. Hulle het gedink hulle het by ‘n plek in God gekom waar hulle verhewe is bo aanvalle – dat hulle enigiets kan hanteer sonder enige moeite.

Maar ‘n woedende duiwel het ingesluip by die eerste teken van hulle selfvoldaanheid. Hy het ‘n geestelike trots in hulle gedagtes ingespuit – en hulle het geval omdat hulle nie voorbereid was nie!

Dieselfde trots was in Elia! Die ware inhoud van sy hart het later na vore gekom toe hy in ‘n grot op Berg Horeb geskuil het:

“En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek het u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (1 Konings 19:10). Elia het in wese gesê, “Ek is enig in my soort. Ek is die enigste een van oor is in Israel wat vir U veg!”

Daar is twee oorloë in hierdie storie!

Die stryd op Berg Karmel was nie tussen Elia en Isébel nie – dit was tussen God en die duiwel! Elia was vol van God se gees, en Isébel was beset deur Satan. Dit was ‘n stryd tussen die magte van die hel en God se verenigde liggaam op aarde!

Dit is die soort oorlogvoering waarin die meeste van ons huidiglik gewikkel is. Dit is ‘n oorlog oor sedes, tussen die kerk van Jesus Christus en die werkers van ongeregtigheid – aborsioniste, dwelmsmouse, pronkende homoseksuele, pornograwe en goddelose politici.

Ons sien egter in Elia se storie ‘n persoonlike stryd ontvou. Hierdie een is tussen die duiwel – en Elia alleen! Satan sê in wese, “Ek mag die stryd vir die kerk verloor het. Maar ek stel my visier in op God se man!”

Isébel verteenwoordig Satan in hierdie storie. Alles wat sy gedoen het, was deur die duiwel gelei. Sy was sy werktuig om verwarring, wanorde en onrus na Israel te bring. Luister na hoe God se Woord haar beskryf:

“Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel. Wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer...En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie” (Openbaring 2:19-22).

Isébel is ‘n tipe van die duiwel – ‘n deugniet, onbekeerbaar. Sy verteenwoordig ‘n verleidende gees wat op hierdie oomblik aan die werk is in die wêreld en begeer om ‘n mengsel in God se huis in te bring. Die gees se doel is om die kerk te beroof van alle heilige aanbidding wat aan die Vader gegee word. Dit poog om gelowiges weg te lei daarvan om God te aanbid uit ‘n rein hart!

“En Agab het Isébel meegedeel alles wat Elia gedoen het, ja, alles – hoe hy al die profete met die swaard gedood het” (1 Koning 19:1). Isébel het geluister toe Agab vertel het hoe die bonatuurlike vuur op Elia se altaar geval het... hoe die mense op die grond neergeval het in verwondering en die vrees van God...en hoe hulle 450 van haar Baäl priesters en die 400 profete van Astarte doodgemaak het!

Skielik het Isébel se gesig rooi van woede geword. (Dit was die duiwel wat in haar opgestaan het!) Sy het gesê, “Ek het miskien al my priesters verloor. Ek het miskien die toegeneëntheid en aanbidding, wat ek van die volk van God verwag, verloor. Dit is ‘n verlammende slag; vir al my planne.

“Maar nou gaan ek agter Elia aan! Ek fokus al my aandag op hierdie dienaar van God wat soveel verwoesting in my koninkryk gesaai het. Ek gee nie om wat anders gebeur nie – ek gaan hierdie man kry!”

Op hierdie stadium, sit Elia buite die stad, bemoei hom met God se sake, onberispelik, seëvierend, nie ‘n onheilige gedagte by hom nie. Toe skielik, skynbaar van nêrens af nie, verskyn ‘n boodskapper van Satan met ‘n boodskap uit die hel! “Daarop stuur Isébel ‘n boodskapper na Elia om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen – sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle” (1 Konings 19:2).

Satan het gedreig: “Elia, jy is so goed as dood! Jy het te ver gegaan – en nou is die stryd tussen jou en my. Dit is verby met jou – jy is ‘n dooie man!”

Geliefde, God het hierdie persoonlike uitdaging toegelaat vir ‘n rede! En dit is dieselfde rede waarom elke goddelike, toegewyde gelowige dieselfde stryd moet beleef!

Jy sien, dit is een ding om op te staan teen die werkers van ongeregtigheid. Wanneer jy die magte van goddeloosheid sien werk in Amerika – regters haal God se naam uit die skole uit, dokters maak baba’s dood, lesbiërs preek vanaf die kerkkansels – jy weet Satan werk teen die hele liggaam van Christus. En dit is ‘n verenigde stryd.

Dit is egter ‘n heel ander saak wanneer jy van aangesig tot aangesig kom met ‘n woedende duiwel – en hy daarop uit is om jou persoonlik by te kom! Hy kom agter jou aan as ‘n individu, omdat jy ‘n impak op die koninkryk van God maak – jy het die hel geskud!

Dit was ‘n leuen dat Isébel Elia sou doodmaak!

Die duiwel gebruik leuens en vrees om beheer van gelowiges se lewens te neem. En hy het dit met Elia gedoen!

Eerstens, Isébel het haar eed gesweer voor gode wat reeds onbloot is as magteloos. Elia het niks te vrees gehad van daardie gode nie. Verder, God het ‘n muur van vuur rondom Elia geplaas; Hy het Sy dienaar omring met strydwaens van vuur en ‘n leërskare van engele. Die profeet was nie in enige gevaar nie!

Maar Elia het nie aan daardie strydwaens gedink nie. Ook het hy nie gedink aan die God wat by hom was op Berg Karmel– die Een wat hom ook kon help deur sy persoonlike stryd nie.

Nee – Elia het paniekerig geword! Die Skrif sê, “...toe... het hy homself klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan” (1 Konings 19:3). In net ‘n paar uur, het hy van dapperheid, versekerdheid en gesag gegaan – na vrees, wanhoop en verwarring!

Jy moet verstaan, die duiwel kon Elia nie doodmaak nie. Slegs God hou die sleutels tot lewe en dood. En buitendien, Satan wou nie Elia doodmaak nie – omdat hy geweet het die dood sou hom net dryf tot binne-in God se teenwoordigheid en buite sy bereik!

Nietemin, net vier-en-twintig uur na Elia se groot oorwinning, het die profeet in die woestyn onder ‘n besembos gesit en kla, “Ek het genoeg gehad! Ek kan dit nie meer hanteer nie. Ek wil sterf!” “Maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe” (1 Konings 19:4).

Ek vra jou – sit jy onder ‘n besembos! Is jy uitgeput, verward, jou lewe buite beheer? Is alle krag weg – is alle oorwinnings vinnig besig om te verdwyn, met vrees en wanhoop wat intree? Het jy al ooit gesê, “Genoeg, Here – ek wil sterf!”

Jeremia het dieselfde groot stryd beleef!

Die profeet Jeremia was nóg ‘n heilige man van God. Hy was regverdig, onberispelik, sonder ‘n onrein smet in sy lewe. Hierdie man het so in beheer geklink:

“Maar die HERE is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie... Sing tot eer van die HERE, prys die HERE! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die land van die kwaaddoeners verlos” (Jeremia 20:11-13).

Dit klink soos ‘n man wat vol geloof en oorwinning is. Skielik hoor ons egter die gekreun van ‘n verwarde, moedelose, afgemete profeet! Jeremia klink asof hy ook onder die besembos sit:

“Vervloek is die dag waarop ek gebore is; laat die dag waarop my moeder my gebaar het, nie geseënd wees nie. Vervloek is die man wat aan my vader berig gebring en gesê het: Vir jou is ‘n seun gebore – waardeur hy hom grootliks verbly het...laat dié man wees soos die stede wat die HERE omgekeer het sonder dat dit Hom berou...omdat hy my nie gedood het van die moederskoot af, sodat my moeder my graf geword het en haar skoot vir ewig swanger gebly het nie” (Jeremia 20:14-17).

Hierdie heilige man van God het in wese gesê, “Waarom het hulle my nie doodgemaak toe ek gebore is nie? As ek tog maar in die baarmoeder gesterf het!” Wat het gemaak dat sy gesindheid so vinnig verander het?

Die duiwel het direk teen hom gekom – deur Pashur, die hoofopsigter, wat hom geslaan het en in die tronk gegooi het!

Jeremia was verward: “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal spot met my” (Jeremia 20:7). Hy het in wese gesê, “Ek moet U wil doen, Here, omdat U sterker is as ek. Maar wanneer U my beveel om te profeteer, word niks waar nie! Almal spot my!”

Dierbare heilige, ek vra jou – wandel jy heilig en regverdig voor God? Is jou hart ingestel om Hom te gehoorsaam en lief te hê? Is jy honger vir God – wandel jy volgens Sy krag met al die lig wat aan jou gegee is?

Laat my jou waarsku – dit is moontlik vir jou om ‘n seisoen te beleef waarin dinge buite beheer raak! Die vyand sal teen jou kom in jou tyd van grootste seën – weens dit wat jy aan sy koninkryk doen!

Ons almal weet dat verslaafdes, alkoholiste en goddelose mense hulle lewe buite beheer leef. Maar baie goddelike mense gaan ook deur seisoene waar hulle vir die duiwel wegvlug met hulle lewens buite beheer. Min van ons, kan in werklikheid saam met Nehemia sê: “Sal ‘n man soos ek vlug?...Ek sal nie ingaan [vlug] nie” (Nehemia 6:11). Die meeste van ons het reeds gevlug, soos Elia!

Miskien word jy tans aangeval – en sit jy onder die besembos, verbysterd en verward. Jy sê in jou hart, “Here, ek het genoeg gehad. Neem my huistoe!”

Dierbare heilige van God, ek wil vir jou wys hoe om beheer van jou lewe van die duiwel af terug te kry – hoe om die grond wat jy aan hom verloor het terug te eis!

Hier is drie dinge wat die Heilige Gees tot my hart gespreek het oor hierdie saak:

1. Jy moet in gedagte hou dat God met jou is – selfs wanneer jy vlug!

God is met jou tydens elke aanval van die vyand. Hy verlaat of begewe jou nooit nie! Elia was in die uiterste wanhoop – heeltemal verward, bevrees en op moedverloor se vlakte. Maar God het na hom gekyk in sy neerslagtigheid en vir hom ‘n persoonlike engel gestuur – om vir hom ‘n hoofbediende en kok te wees!

Die Skrif sê: “Daarop gaan lê hy en raak onder ‘n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ‘n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ‘n broodkoek op ‘n warm klippe gebak, en ‘n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.”

“En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop” (1 Konings 19:6-8). Is jy al ooit bedien met ‘n maaltyd so voedsaam dat dit veertig dae lank gehou het? Dit moes ‘n wonderlike maaltyd gewees het!

Hier is wat ek glo die Here vir die engel gesê het voor Hy hom na Elia gestuur het:

“Wees geduldig met hom! Hy ly, is verward en vol vrae. Hy dink hy wil sterf, maar hy wil eintlik leef. Hy voel nutteloos, aan die einde van homself. Maar Ek het hom steeds lief! Ek het nog baie meer werk vir hom om te doen in My koninkryk.

“Binnekort gaan ek sy gees wakker maak. Maar in die tussentyd, voed hom goed – verkwik hom! En sê vir hom die reis is te lank vir hom. Hy sal dit nie maak sonder om die kos te eet wat Ek voorsien nie!”

Dank God die engel het dit vir Elia gesê! Dit is waar – die reis is te lank vir almal van ons! Ons kan dit nie hanteer nie. Dit is waarom God vir ons hierdie Woord gegee het – en dit is beter as enige engel! Hy sê, “Gaan na My Woord – eet en drink. Daar sal jy al die krag kry wat jy nodig het om deur hierdie beproewing te gaan!”

2. Terugneem van beheer vereis om te luister na die Here se sagte, kalm stem!

Die stem van die Gees sal vir jou dieselfde vraag vra wat Hy vir Elia gevra het: “Wat maak jy hier, Elia?” (1 Konings 19:9).

God het in wese vir sy dienaar gevra, “Hoe lank sal jy toelaat dat die duiwel vir jou lieg? Wanneer gaan jy wakker word en sê, ‘Genoeg van hierdie dwaasheid!’ Dit is tyd om ‘n stand in te neem, om terug te veg – om beheer oor te neem!”

Miskien sê die Here nou vir jou dieselfde ding: “Waarom kruip jy hier weg, lewe jy in hierdie vrees en depressie? Hoe lank sal jy dit laat voortgaan? Jy hoef nie te vrees nie – Ek het jou nooit verlaat nie. Staan op! Jou werk vir My is nie klaar nie. Kom uit hierdie grot van droefheid en skuld uit!”

God moes hierdie vraag twee keer vir Elia vra. Eers het Elia geantwoord dat sy heiligheid en ywer hom in die moeilikheid gekry het: “Here, hulle het al U profete doodgemaak. Ek is die enigste een wat oor is – en hulle probeer my doodmaak!”

Maar God het hierdie vraag weer gevra – omdat Elia nie die volle waarheid gepraat het nie! Jy sien, God was agter iets aan wat diep in Elia se hart was – die ware rede waarom sy gees en siel moedeloos was. Dit was die volgende:

“God, U het die duiwel my laat bykom! U het hom my laat teister, my blydskap weggeneem, vrees by my ingeboesem. En ek het nie sulke behandeling verdien nie! Ek leef heilig, gehoorsaam en doen alles wat U vra. Na al my gebede, preke en gehoorsaamheid, het ek beland in die grootste stryd van my lewe!”

Beskryf dit jou gees ook? Jy het jou bes probeer om God se wil en werk te doen, vir Jesus jou hele hart en al jou energie gegee – en tog het jy onder die aanval van die duiwel deurgeloop!

Die Here kom nou na jou toe en vra, “Waarom is jy so neerslagtig – waarom so paniekerig? Laat ons by die kern hiervan uitkom. Wat is die ware probleem agter dit alles?” Hy wil hê jy moet erken wat werklik in jou hart is: “God, ek het nie regtig hierdie aanval van die vyand verdien, terwyl ek so hard probeer het om U te behaag nie!”

Miskien het jy reeds jou hart op hierdie manier voor God uitgestort. Maar het jy vir Hom die res van wat diep in jou hart is, vertel:

“Ek is moeg van al die lesse, Here! Ek wil nie meer leer nie. Ek is hier, bloot om U wil te doen – om oorwinnigs vir U te behaal, om siele te red. Laat my net dit doen en dan huistoe gaan na die hemel toe!”

Geliefde, dit is die hele kwessie, die hele probleem: Ons is moeg om God se weë te leer! Ons dink, “Is daar nooit ‘n tyd waarin ek kan terugsit en weet die duiwel is verslaan nie? Sal my oorloë nooit opbou nie?”

Nee – God het ‘n ander plan! En dit is: “Wanneer jy leer hoe om die duiwel te weerstaan, sal hy van jou af wegvlug!” (sien Jakobus 4:7).

Jy mag sê, “Ek weet dit reeds!” Maar talle Christene dink om die duiwel te weerstaan, beteken om hom te skel – te skree en hom te probeer bangmaak. Maar dit het geen effek nie!

God praat hier van iets heeltemal anders. Hy sê in wese, “Hoe sal jy leer om Satan te weerstaan, totdat Ek hom teen jou laat kom, brullend en dreigend? Hy is nie ‘n versinsel van jou verbeelding nie – hy is ‘n werklike duiwel! En jy moet leer om hom teestand te gee!”

Professionele slanghanteerders – diegene wat gif trek uit ratelslange vir medisinale doeleindes – kry hulle opleiding deur reguit in die slangkuil in te gaan. Dit is die enigste manier waarop hulle ontslae kan raak van hulle vrees. En dit is die enigste manier om te leer van slangmaniere en hoe hulle beweeg en optree.

Geliefde, God wil jou in die slangkuil inneem – om van aangesig tot aangesig met die duiwel te staan! Hy wil hê jy moet die vyand se vernuftige leuens en gebrul hoor, sodat jy kan leer hoe om hom teë te staan. Hy – wil jou leer om vas te staan – om stil al Satan se leë geratel te weerstaan!

Die Skrif sê van Migael die aartsengel: “Maar toe Migael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou” (Judas 9). Migael het sonder vrees in wese gesê: “Ek het nie tyd om speletjies met jou te speel nie, duiwel, ek het werk om te doen. Die Here sal met jou afreken!”

3. Jy sal beheer terugkry wanneer jy begin verstaan waarom God toegelaat het dat jy so ‘n persoonlike, pynlike stryd verduur!

Eerstens, God laat jou beproewing toe omdat Hy jou “duiwelbestand” wil maak! Dit beteken nie dat jy nie weer aangeval sal word nie. Maar jy sal geleer wees om te bly staan! Dit is alles deel van Sy voorbereiding van jou vir groter diens, groter salwing en toenemende bruikbaarheid in Sy koninkryk.

Verder, die Here probeer om jou te versterk teen die Satan se planne. Hy rig ‘n liggaam van gelowiges op wat teen die duiwel te staan gekom het, wat teen hom versterk is – en wat sy planne ken en nie bang is vir hom nie! God sê in wese, “Wanneer jy verstaan waarom jy hierdeur gaan, sal jy al die grond wat jy verloor het, kan terugneem. Jy sal weer in beheer wees – deur die krag van die Heilige Gees!”

Toe Elia se beproewing verby was, sou hy nooit weer vlug nie. Hy het nou ‘n sin van rigting gehad – hy was gerus in sy gees. Jy sien, God was op die punt om hom te stuur na nasies om konings, leiers en profete op te rig!

God het vir hom gesê: “Gaan terug op jou pad na die woestyd van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram...En Jehu...as koning oor Israel...en Elisah...moet jy salf as profeet in jou plek” (1 Konings 19:15-16). Elia was ‘n nuwe salwingskrag gegee. Hy was weer in beheer!

“Hy het toe daarvandaan weggegaan” (1 Konings 19:19). Elia het uit die grot uitgekom om God se wil te doen! Hy hoef nie’n rivier van trane te gestort het nie. Nee – hy het bloot die Woord van die Here gehoor!

Geliefde, die enigste houvas wat die duiwel oor jou kan hê, is vrees. En jy moet dit in geloof afskud! Jy moet sê, “Ek gaan nie ten gronde nie. God gaan my ‘n nuwe salwing uit die hemel gee – Hy gaan my gebruik!”

Glo jy dat God nie klaar is met jou nie – dat Hy jou leer en oplei vir beter dinge? Hy wil met jou praat in jou grot van mismoedigheid. Hy wil vir jou sê wat om te doen en waarheen om te gaan – en Hy wil jou uitbring!

So, staan uit jou wanhopigheid op – skud die slawerny van vrees en depressie af! Gaan uit jou grot uit. Jy sal ontdek dat die oomblik wat jy opstaan en uitstap, die salwing sal vloei! Amen!