MOENIE PANIEKERIG WORD NIE

David Wilkerson (1931-2011)

Die Here is baie geduldig met sy kinders. Trouens, Hy nooi ons uit, “Bring julle regsaak voor, sê die HERE” (Jesaja 41:21), wat beteken dit is reg om oomblikke te hê waartydens jy vrae vra. Ons mag dalk een of ander skielike, verskriklike nuus kry – die dood van ‘n geliefde, ‘n hangende egskeiding van ‘n seun of dogter, ontrouheid van ‘n maat. In sulke oomblikke, stuur God sy Heilige Gees om vir ons vertroosting te bring, ons lyding te verlig en ons harte gerus te stel. Ons Here voel elke steek van lyding, vrees en paniek wat ons tref.

God sien elke besonderheid van jou krisis raak en Hy sien al die lewensprobleme wat jou verdruk. Diegene wat bid en op Hom wag met kalm geloof, is nooit in werklike gevaar nie. Trouens, Hy ken jou angstige gedagtes, maar tog is sy opdrag aan jou só waar: “Moenie paniekerig raak of voor My uithardloop nie. Jy moet niks anders doen nie as bid – en vertrou op My. Ek eer almal wat hulle vertroue in My stel.”

Beskou hierdie woorde wat God aan sy kerk gegee het, “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons” (Psalm 62:8). “Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild” (Psalm 115:11). “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

Ongeloof is dodelik, sy gevolge tragies. Ons beleef rampspoedige gevolge as ons onsself uit ons beproewing probeer haal in plaas daarvan om God te vertrou om ons deur te dra. Jesus het gekom om ons kettings van wettiesheid te breek en ons van ons boeie te verlos. Maar eers moet ons ons sonde erken. Wanneer ons ons ongeloof bely en dan ons toekoms, ons vryheid en ons verlossing heeltemal in Jesus se sorg te plaas, sal Hy betyds opdaag! Ons werk is om niks te doen nie – behalwe om Hom te vertrou!