MOENIE JOUSELF MET ANDER VERGELYK NIE

David Wilkerson

“Maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam” (1 Korinthiërs 1:27).

God kies steeds die swakkes om Sy krag te vertoon. Het jy al ooit nietig, swak en nutteloos vir God gevoel? Het jy al ooit gekyk na ander wat so sterk, so volmaak gelyk het en aan jouself gedink as te sondig, te dom om deur God gebruik te word? Moenie vergelyk nie! God verlang nie geestelike reuse nie, maar Hy soek liewer gewone heiliges met kinderlike geloof wat alle vertroue in die vlees verloor het.

God sal die sterkes en wyses beskaam deur as Sy instrumente te salf, diegene wat beskou word as swak en dwaas. Die Here sal diegene, wat leun op die arm van die vlees vermy – hulle wat op hul talente, hul kennis, hul agtergrond en hul familie-reputasie vertrou. Hy sal die gebrokenes van hart, die swakkes en die wat moeg is oprig. Hy sal oor hulle giet ‘n gees van lof en ‘n doop van liefde. Hy sal vir hulle Sy grootheid, Sy getrouheid en Sy verbonde wys en hulle sal sterk word in die Here en in die krag van Sy mag.

Voel jy jy word getrek na ‘n hernude geloof en vertroue in God? As dit so is, wees dankbaar! Dit is die roeping van Jesus Christus die Here. Kyk na sommige van God se groot en kosbare beloftes aan ons:

“o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders. U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge” (Psalm 31:20-21).

 “Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:9-10).