MOENIE ‘N LEUEN GLO NIE

David Wilkerson

Afgodedienaars lewe in misleiding – en glo dat ‘n leuen die waarheid is!

“Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdeling wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg – hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee” (Esegiël 14:7).

Hierdie gedeelte van die Skrif beteken, “Omdat julle verhard is in julle sonde, met geen begeerte om dit te laat staan en julle te bekeer nie, sal elke woord wat julle van nou af hoor julle in julle sonde versterk.”

Ons sien ‘n beeld hiervan deur Koning Agab, wat waarskynlik die mees afgodiese koning in die geskiedenis van Israel was. En op daardie stadium, het hy homself verbind met Koning Jósafat om saam teen Ramot-Gilead te gaan oorlog voer.

 “En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Gilead? En die een het so gesê, en die ander weer so. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so” (1 Koning 22:20-22).

Met die gevolg, vierhonderd profete het voor Agab gestaan en hom aangemoedig om voort te gaan met die aanval. Kan jy jou die toneel voorstel? Daar het ‘n horde vleiende manne gestaan en almal het woorde gespreek wat Agab se afgodery gevoed het. En al daardie vierhonderd stemme het vir hom gelieg en hom versterk in sy sonde.

Wat ‘n verskriklike tragedie! Agab kon God se stem nie hoor nie, weens die afgode wat in sy hart gewortel was. Daarom het God hom ‘n sterk misleiding gestuur – een wat hom sou vernietig.

“...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie...daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Thessalonicense 2:10-11).