Moeg om soos ‘n Muil te wees

“Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil jou raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie” (Psalm 32:8-9).

In hierdie twee kort verse kry ons die duidelike uitspraak in die hele Skrif in verband met leiding. Vers 8 is ‘n heerlike belofte aan ons, ‘n fondament waarop ons groot geloof kan bou. Hierdie fondament is Sy gewilligheid om ons oral waar ons gaan te lei!

As jy die hele psalm lees, kom jy agter dat hierdie belofte aan sekere mense gegee is – hulle wie se sonde bedek is, en in wie daar geen bedrog is nie, op wie die Here se hand is, wie godvresend is, en bid in ‘n tyd wanneer hulle verhoor sal word; wat weggesteek is vir moeilikheid en wat liedere van verlossing sing.

Tog sê die Woord van God dat ‘n mens so ‘n gelowige kan wees – wat al die geestelike seëninge van ‘n kind van God geniet – en tog ‘n onverstandige muil kan wees as dit kom by die onderwerping aan God se wil en leiding. God sê van Israel, “Veertig jaar het ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie” (Psalm 95:10).

Dink aan wat God sê: “Na 40 lange jare waarin hulle my tere leiding en wonderlike uitredding ontvang het, het hulle nog nie die geringste idee van hoe Ek werk nie! Hulle probeer nooit my beginsels van leiding verstaan nie. Vir hulle is my optrede net ‘n reeks van onverwante gebeurtenisse, niks meer as deure wat oopgaan en ontsnappings in krississe nie.”

Persoonlik is ek moeg daarvan om net ‘n halsstarige muil te wees sonder enige idee van die beginsels van God se leiding! Ek wil nie hê God moet vir my sê: “Ja, Dawid was vergewe. Hy het sy bedrog laat staan en my hand was op hom. Hy het gebid en ek het hom uit moeilikheid gered, elke keer. Ek het hom op wonderlike maniere gelei. Maar in sy hart het hy nooit kennis gemaak met die vaste patroon van my optrede nie!”

Geliefdes, moenie die Here dwing om hard op te tree nie. Moenie soos die muil wees wat nie verstaan nie. God wil nie bevele aan ons blaf en ons dwing om te doen wat Hy sê nie.

God wil mense hê wat Hom goed genoeg ken, om sy geringste aanduiding te gehoorsaam!

Stel jou voor hoedat koning Dawid en sy kapteine en raadgewers bymekaar kom, met die vyand net om die draai. Die manne se oë is vasgenaal op Dawid se gesig terwyl hulle dophou, afwagtend. Al wat hulle nodig het, is ‘n knik van sy kop, of ‘n beweging van sy oë, en hulle sal weet wat hy wil hê sonder ‘n woord. Hy kan hulle met sy oë lei!

Die meeste gelowiges spandeer nie genoeg tyd in God se teenwoordigheid om Hom so te ken nie. Inteendeel hulle doen hulle werk, maar weet nooit wat hulle Kaptein wil hê dat hulle moet doen nie. Dan moet hulle op die harde manier leer. Die Here kom na hulle toe met ‘n stang en moet hulle in ‘n hoek druk om hulle te beteul.

Gelowiges, God sal ons veel liewer met sy oë lei as met ‘n stang en teuel. Maar party van ons het op hierdie oomblik ‘n stang in die bek!

Die term “lei en raadgee” wys dat God ‘n uiterste doel met ons het, - en dit is nie om ons vir 40 jaar in sirkels te laat loop nie. Die Here se leiding aan Israel in die woestyn, of dit deur ‘n woord, of ‘n oorwinning of ‘n uitredding gekom het, was op ‘n enkele doel gerig – om God se volk op ‘n plek van beloofde rus in Hom te bring.

Die Israeliete was muilkoppige kinders, wat nooit verder as die huidige krisis gekyk het nie. Hulle was te self-gesentreerd om God met hulle toekoms te vertrou. Al wat hulle wou hê was ‘n vinnige, maklike uitweg uit hulle probleme. Hulle het niks geleer van die bonatuurlike plan wat hulle van slawedom tot op die rand van die Beloofde Land geneem het nie. God se wonderlike uitinge van liefde was vermors op hulle want hulle het geweier om hulle geloof op sy verlossing te bou.

Geen probleem of krisis wat oor ons pad kom is ooit ‘n verrassing vir God nie, want Hy sien die geheel. Sy oog is op ons van geboorte tot die laaste asemtog. Hyself is die begin en die einde.

”Want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel. Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel. Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels: die Here alleen het hom gelei en daar was geen vreemde god by hom nie” (Deuteronomium 32:9-12).

Die woorde “appel van sy oog” verwys hier na die weerkaatste beeld in die pupil van die oog. As jy in iemand se oë kyk, sal jy daar in die middel van die pupil ‘n weerkaatsing van jouself sien.

Dink nou wat die Woord van God sê: “Hy het hom bewaar soos die appel van sy oog.” Dit beteken dat jy en ek, te alle tye, in die middel van God se oog is. Ons is die onophoudelike weerkaatsing in sy oog, want sy oog kyk nooit weg van ons af nie!

Dit is die vaste rots fondasie van die wyse waarop God ons lei. “Want so sê die Here van die leërskare … wie julle aanraak, raak sy oogappel aan” (Sagaria 2:8). Met ander woorde, enigiemand wat God se volk aanraak, steek sy vinger in God se oog!

Voordat enige moeilikheid jou pad gekruis het, het God dit sien kom. Hy was nie onkant betrap toe jy jou werk verloor het nie, of skielik siek geword het nie. “Kyk, die oog van die Here is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Psalm 33:18). “sy oog sien allerhande kosbare dinge” (Job 28:10). “Die oë van die Here is op die regverdiges” (Psalm 34:15).

Glo jy regtig dat God sy oog op jou het en alles sien wat met jou gebeur? Glo jy dat Hy die toekoms ken – jou toekoms? As dit so is, hoe kan jy dink Hy sal jou in die steek laat of toelaat dat die vyand oor jou triomfeer?

Ek kan nie eers begin om die grootheid van God te verduidelik wat elkeen van sy kinders in die appel van sy oog hou nie. Tog beloof sy Woord presies dit: “Ek lei jou met my Oog. Ja, daar is ‘n wêreld vol gelowiges in groot nood. Maar jy moet met jou hele hart glo dat jy – ja, jy – die appel van my Oog is!”

U kan saam met Dawid sê: “Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels” (Psalm 17:8).

God se eerste doel is om die vaste vertroue van sy kinders te verkry. Die tweede is om verhoog en ge-eer te word voor die bose. Jy kan verseker wees dat sy leiding hierdie twee doelstellings voor oë het.

God wil hê dat ons vertroue op Hom so vas sal wees, dat ons nie van een krisis na die volgende sal gaan nie. Dikwels as ons om leiding bid, is dit in ‘n gesindheid van: “God, red my uit die gemors. Ek het nou ‘n wonderwerk nodig!”

Ons behandel ons geseënde Heiland sonder respek as ons oorweldig word deur ons moeilikhede en probleme. Tog neem dit nie lank nie of ons is oortuig dat ons hedendaagse Job-figure is en dat die duiwel ons wil vernietig – dat God ons toets of probeer suiwer.

Geliefde, terwyl jy dit lees, kan jy die probleem die hoof bied en glo dat die Here meer wil doen as om jou net uit nog ‘n gemors te red? Wat Hy doen is van ewigheidswaarde! Sy doel is dat dit vir jou moontlik sal wees om soos Dawid te sê, “Hy het my van die leeu gered, en Hy sal hierdie reus in my hande gee. Ek weet ek sal nog baie probleme ondervind. Maar in alles sal ek meer as oorwinnaar wees, deur Jesus!”

God haat teorieë, oor sy leiding. Al wat ons moet verstaan, is dat alle toetse verwant is, dat ons reg deur ons lewe dit in een of ander vorm sal ondervind; maar dat die Here deur dit alles vir ons uitkoms wil skenk. Hy wil in ons ‘n diepe, vaste vertroue werk wat ons deur alles sal help.

Dink maar hoe die ouer Israeliete hulle kinders bymekaar gemaak en al die skrikwekkende stories vertel het van die dinge wat God met hulle laat gebeur het. Verhale oor seë wat oopgaan, donderende stemme, water wat uit rotste stroom. Dink julle hulle het dit alles net gesien as onverwante gebeurtenisse wat hulle hoog en droog in die woestyn gelos het? Nee! Alles was nodig om hulle in Kanaän te kry!

Ek kan julle van baie verhale vertel hoe die Here my in die laaste dertig jaar gelei het: hoedat Hy my herhaaldelik gered het, net voor ek ondergegaan het… hoe Hy ‘n pad gemaak het waar geen pad was nie … hoe Hy wonderwerke gedoen het, honderde kere, om in ons behoeftes te voorsien!

Tot watter voordeel sou dit alles gewees het, as ek niks van my Heer geleer het nie? Tot watter nut sou dit wees as ek wanneer ek die volgende toets die hoof moet bied, bekommerd sou word en sou wonder of die Here my sou help?

As ek nie sy paaie van getrouheid geleer het nie – as hierdie ervarings my nie in die plek van rus en vertroue in Hom, gebring het nie, dan was ek ‘n muil sonder begrip!

God se doel met sy goddelike leiding in ons lewe, is ver wyer as net om ons geloof en sekerheid op te bou. Sy sekôndere doel is om ‘n platform te voorsien, sodat die verslaan van die Vyand, ten aanskoue van die hele wêreld sal wees. Hy wil hê dat sy verheerliking sal plaasvind waar sy opponente verplig sal wees om toe te kyk!

Ek wil vir julle hierdie kragtige waarheid laat sien, sodat julle nooit weer die aanvalle van Satan sal vrees nie. Dit is eenvoudig net: Die vyand is op jou hakke omdat God besig is om hom in ‘n lokval te lok, vir ‘n vernietigende slag waarin hy grondig verwoes sal word. Sien julle, God is nie net met ons besig nie, maar veral met ons vyand!

Dit word duidelik geïllustreer in Eksodus 14. Die Here lei Israel in ‘n oënskynlik hopelose situasie. God sê duidelik vir Moses: “… en laer opslaan voor Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon” (Eksodus 14:2). Met breedvoerige instruksies van die Here, lei Moses die Israeliete tot aan die rand van die Rooi See.

Die Here het Moses vooraf gewaarsku dat Hy Farao se hart weer sal verhard en hom nader sal trek vir ‘n beslissende konfrontasie. God sê: “En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg” (Eksodus 14:4).

Hoe sal jy op sulke leiding reageer? Stel jou voor dat God kom en jou waarsku: “Ek gaan jou in ‘n situasie bring waar net ‘n wonderwerk jou kan red. Jy sal geen ander uitweg hê as om na My op te kyk in verwagting nie. Ek gaan die vyand toelaat om op julle af te kom asof hulle julle gaan uitroei. Maar dit is nie julle stryd nie, maar Myne. Ek sal myself vereer deur wat met die vyand gebeur, sodat almal sal weet dat Ek die Here is.”

‘n Mens kan duidelik in hierdie voorbeeld sien dat God ‘n tweërlei doel het. Eerstens wil Hy ‘n volk oprig wat in sy vrees sal wandel, heilig, onwankelbaar, deur hulle nie weg van so ‘n desperate situasie te lei nie. Ten tweede wil Hy hierdie moeilike plek gebruik om ‘n uitklophou toe te dien aan al die helse vyande. Dit is God se geveg met die duiwel, met jou reg in die middel!

Waardeur gaan jy op hierdie oomblik? Is jy met jou rug teen die muur? Storm die vyand op jou af? Hoor jy die pote van die demoniese magte dreun? Kan jy in jou gedagtes allerlei vreeslike dinge sien wat met jou en jou familie gaan gebeur? Lyk jou posisie hopeloos?

Geliefde, as jy die Here liefhet, gaan jy nie ondergaan nie. In werklikheid staan jy op die vooraand van twee oorwinnings – jou wonderlike verlossing, en die eer wat hierdie oorwinning aan God gaan bring. Jou vyand gaan begrawe word in die proses van jou verlossing! Mense sal verstom staan. Hulle sal sê, “Die duiwel kon hulle nie oorwin nie. Hulle het gewen – want hulle God het vir hulle geveg!”

Die Skrif sê vir ons dat die Israeliete eers moedig voortgestap het. Maar dit was nie lank nie, toe het hulle toegelaat dat hulle omstandighede hulle vrees aangejaag het. “Maar die kinders van Israel het deur ‘n hoë hand uitgetrek. En die Egiptenaars het hulle agtervolg… en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see … toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die Here geroep:” (Eksodus 14:8-10).

Israel het net soos ons dikwels doen, soos muile gereageer! Hulle het ongelooflike wonders in Egipte gesien, maar vinnig vergeet. Hulle skreeu vir Moses, “Wat se soort verlossing is dit? Het jy ons hierheen gebring om te sterf? Ons het al die tyd geweet dit was beter op die ou manier. Nou is dit absoluut hopeloos!”

Geliefde, miskien is jy nou in vertwyfeling. Jy mag bang wees omdat jy geen uitweg sien nie. Jy twyfel oor God se leiding, en jy wonder oor sy getrouheid, - want al wat jy kan sien is die duiwel wat jou agterna sit, met sy swaard glinsterend in die nag.

Maar skep moed: God het Israel nie betig toe hulle paniekerig geraak het nie. Hy het vir hulle hierdie boodskap van hoop gebring: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk: want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees” (Eksodus 14:13-14). Jy is nie alleen nie! God veg vir jou!

Selfs al was die Israeliete bevrees, word hulle volhardende opmars, vir hulle as geloof gereken: “Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond” (Hebreërs 11:29).

Hulle moes nogtans bang gewees het. Dawid beskryf dit so: “U rollende donder het weerklink, bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe” (Psalm 77:18).

Daar staan hulle, met die vyand wat al nader kom, die wind huil met orkaan sterkte, die weerlig slaan, donderweer skud die aarde en die magtige water rol terug. Maar toe God sê, “Hou aan loop,” toe luister hulle. Ja, hulle was nog bang en bewende – maar hulle het bly loop!

Wat was die gevolg van hulle gehoorsaamheid aan God se bevel? Hulle het ‘n oomblik gekry van God se krag teen alle vyande wat hulle ooit kon aanval. “Ook het Israel die magtige daad gesien wat die Here aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk van die Here gevrees en geglo in die Here en aan Moses, sy kneg” (Eksodus 14:31).

Dit is vandag so tragies dat so baie Christene maklik beswyk as hulle by ‘n dooie punt uitkom. Hulle dink dat as alles verkeerd loop, met geen uitkoms in sig nie, het God hulle verlaat. Dan gaan lê hulle, gereed om te sterf, en laat die duiwel se strydwaens oor hulle ry.

Min weet hulle dat as hulle net “aanhou loop” het, biddende, vasklouende aan God se Woord, bang ofte nie, sou die see oopgegaan het en ‘n uitweg sou gekom het. Hulle vyande sou vernietig gewees het.

Die Israeliete kon so maklik oorgegee het. Hulle kon gesê het, “Dis genoeg. Dis die einde. Wat sal wees, sal wees. Ons gee op – ons gaan sterf.” Maar hulle het dit nie laat gebeur nie. Hulle het aangehou.

Ons het vandag ‘n groter belofte as wat Israel gehad het. Kolossense 2:15 sê: “nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.”

Hou aan loop met God! Moenie uitval nie, druk aan in die geloof dat Hy jou sal verlos. Vertrou Hom, dat in elke omstandigheid Hy jou anker sal wees. En sien hoe Hy die vyand totaal verslaan!

As jy dit doen, sal jy weet hoe Hy sy heerlike werk ter wille van ons doen: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13).