LUISTER NA DIE VADER SE STEM

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het sy lewe op aarde geleef volkome afhanklik van die hemelse Vader. Ons Saligmaker het niks gedoen en gesê totdat Hy eers sy Vader in die hemel geraadpleeg het nie. En Hy het geen wonderwerke verrig nie, behalwe dié wat die Vader Hom beveel het. Hy het gesê, “Net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek...die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:28-29).

Christus maak dit baie duidelik dat die beoefening van totale afhanklikheid, om altyd na sy Vader se stem luister, deel was van sy daaglikse wandel. Ons sien dit in ‘n toneel uit die Evangelie van Johannes waar Jesus ‘n kreupel man sien lê het naby die bad van Betésda. Jesus het na die man gedraai en Hom beveel om sy bed op te neem en te loop – en onmiddellik was die man volkome herstel en het gesond weggeloop.

Die Joodse leiers was woedend omdat, volgens hulle, Jesus die Sabbat gebreek het deur die man te genees. Maar Jesus het geantwoord, “Ek het slegs gedoen wat my Vader My beveel het om te doen.” Hy het verduidelik, “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen” (Johannes 5:19-20).

Jesus het dit baie eenvoudig gestel, “My Vader leer My alles wat Ek moet doen.” Jesus, in sy vlees, moes vertrou op ‘n daaglikse innerlike werking van die Vader se stem om Hom te lei. Hy moes sy Vader se stem hoor, uur vir uur, wonderwerk vir wonderwerk, een dag op ‘n slag.

Hoe was Jesus in staat om die sagte, rustige stem van sy Vader te hoor? Die Bybel wys ons wat gebeur deur gebed. Weer en weer het Jesus na ‘n eensame plek gegaan om te bid. Hy het geleer om die Vader se stem te hoor terwyl op sy knieë was.

Ek moedig jou aan om jou tyd met Jesus deur te bring in ‘n afgesonderde plek van gebed. Sit stil in sy teenwoordigheid en jy sal die waarheid ontvang wat slegs Christus kan oordra deur sy geseënde Heilige Gees.