Liefde, Vrees, Gehoorsaamheid

David Wilkerson

“Deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6).

“Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13).

“Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet”  (John 14:21).

“En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie” (2 John 6).

Liefde, vrees en gehoorsaamheid – wanneer dit daarby kom om met God te wandel, beteken hierdie drie dieselfde ding. In die verlede het ek gepreek oor liefde vir God, die vrees van God en gehoorsaamheid aan God, asof hulle drie verskillende aspekte van ons verhouding met die Here is. Maar ek leer nou dat hierdie drie onafskeidbaar is – dat jy nie een sonder die ander kan doen nie:

Jy kan nie die Here liefhê sonder om die vrees van God in jou te hê nie.

Jy kan Hom nie liefhê sonder om Sy Woord te gehoorsaam nie.

En jy kan nie God waarlik vrees tensy jy Hom liefhet en gehoorsaam nie.

Vra jouself af: Wat is jou motivering om oorwinning oor begeertes, passies en boesemsondes te kry? Om heligheid, goddelikheid en reinheid van hart te bereik?

Sommige onderrig dat slegs die vrees van God gelowiges aanmoedig om van begeertes te vlug. Hulle haal die volgende Bybelgedeeltes aan:

“Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:16-18). “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). “Die vrees van die HERE is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spreuke 14:27).

Die Skrif sê dat die vroeë kerk “gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees” (Handelinge 9:31). En Jeremia het gesê sondige Israel het God nie gevolg met hulle hele hart nie, omdat hulle Hom nie gevrees het nie: “My vrees [is] nie by jou...nie” (Jeremia 2:19).

Maar ander bedienaars onderrig dat die enigste behoorlike motivering teen sonde die liefde is. Ek het onlangs ‘n Baptiste pastoor oor die radio gehoor uitbulder: “Vrees is nie vir die Christen nie – dit is marteling! Jy kan nie met God wandel as jy Hom vrees nie. Liefde is die enigste reaksie op genade wat jy ooit sal nodig hê. As jy God waarlik liefhet, sal jy Hom gehoorsaam.”

Hierdie pastoor het die vrees van God as enige motivering vir gehoorsaamheid aan die Here heeltemal uitgeskakel! Die blote idee om mense die heilige vrees van God te leer, lyk vir hom afstootlik.

Vandag oral van kansels af, hoor jy inderdaad meestal boodskappe van liefde. Daar is min preke oor die vrees van God – amper geen kragtige profetiese preke wat oortuiging van sonde en kompromie bring nie. In plaas daarvan, onderrig herders: “Wees net lief vir Jesus met jou hele hart en alles sal reg wees. Ons is nie onder die wet nie – ons is geroep tot vryheid! Ons almal misluk, maar liefde bedek alle sonde. So, leer net om lief te hê. Wees lief vir Jesus en die broeders, en jy is die hemel gewaarborg.”

Dit klink goed – maar dit is nie wat die Woord van God sê nie! Jy sal moontlik antwoord, “Maar het Jesus nie gesê die twee belangrikste gebooie hang van liefde af nie – dat ons God en ons naaste moet liefhê?”

Ja, Hy het! Ek verskil met diegene wat onderrig dat liefde ons belangrikste motivering as gelowiges moet wees. My probleem is die verskil tussen die hedendaagse kerk se definisie van liefde – en wat Jesus liefde noem!

Liefde is nie bloot ‘n emosie of ‘n toegeneëntheid tot Christus nie. Dit kan nie ten volle gewys word net deur aanbidding of prediking nie. En dit kan nie gemeet word aan emosies nie. Talle Christene kan in die kerk sit en hewige emosie ervaar, tot God uitroep en ween – en dan reguit by die deur uitloop en aan God ongehoorsaam wees. Jesus het gesê dit is nie hoe om Hom lief te hê nie!

Niks kan duideliker in God se Woord wees nie: Liefde beteken om die gebooie van die Here Jesus Christus te gehoorsaam!

Jesus sê die enigste soort liefde wat vir Hom aanvaarbaar is, is gehoorsaamheid aan al Sy gebooie – om Sy Woord in alle dinge te alle tye te gehoorsaam!

“As julle my liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:0). “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Christus kon dit nie eenvoudiger gemaak het nie: Liefde vir Hom beteken om al Sy gebooie te gehoorsaam!

Maar wat veroorsaak ‘n voortdurende, blywende gehoorsaamheid? Ek is oortuig dat goddelike, liefdevolle gehoorsaamheid van een bron af kom: die vrees van die lewende God!

Gehoorsaamheid, gebore deur ware en opregte vrees van God, is liefde vervolmaak. Ek bied die volgende Skrifverse as bewyse:

“En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly” (1 Johannes 2:3-5).

“Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur” (Hebreërs 12:28-29).

Jy hoor nie vandag hierdie Skrifte vanaf baie kansels verkondig word nie. In plaas daarvan, word Jesus uitgebeeld as ‘n liefdevolle oupa wat sonde oorsien! Hy weet natuurlik ons is almal swak, en dat ons met tye gaan fouteer. Maar die Skrif sê iets baie anders hier: Dit sê, gehoorsaamheid aan Sy gebooie is liefde vervolmaak – en die vrees van God is wat ons motiveer om te gehoorsaam!

Eenvoudig gestel, dit kom alles neer op die volgende: As jy waarlik die vrees van God in jou het, dan sal jy al Sy woorde gehoorsaam. En deur dit te doen, sal jy Hom liefhê op die manier wat vir Hom aanvaarbaar is.

As jy Here vrees en Sy Woord gehoorsaam in alles, sal jy nie hoef aan te hou om jou hart te ondersoek of jy Hom werklik liefhet nie. Jy sal nie probeer om jou liefde te meet deur jou trane of gebrek aan trane nie. Jy kan bloot rus in Sy Woord – Christus se eie Woord – dat jou gehoorsaamheid aan Hom liefde is!

Daarteenoor egter, is al die maniere waarop ons dink ons druk ons liefde uit vir Jesus. Byvoorbeeld, ons kan in Sy heilige teenwoordigheid sit en tranerig sing: “O, hoe lief het ek Jesus...” “U is die liefde van my lewe” “Jesus, U is die middelpunt van my blydskap...” Maar as ons nie God se Woord in ons daaglikse lewe gehoorsaam nie, dan is al ons gepraat, gepreek en gesing oor Jesus liefhê niks anders as sentimentele sielsheid nie. Dit is alles oëverblindery!

God het jou beveel om die wêreld te laat staan, jouself van goddelose metgeselle af te skei, en jou vlees met al sy begeertes en passies te kruisig. Gehoorsaam jy Hom in hierdie dinge? Indien nie – as jy voortdurend die Woord wat Hy vir jou gegee het ongehoorsaam is – dan is jou aanbidding heeltemal onaanvaarbaar vir Hom. Dit klink soos brons, klinkende simbale – betekenislose geraas!

Talle Christene neem God se Woord nie ernstig op nie – hulle glo nie God bedoel regtig wat Hy sê nie!

Het Jesus regtig bedoel wat Hy vir sy eie dierbare vriende gesê het? Hy het vir die dissipels gesê, “Moenie vrees vir dit wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom” (Lukas 12:4-5).

Bedoel God dit regtig wanneer Hy sê, “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15)? Of, “Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jakobus 1:15).

Ek het onlangs een prediker hoor sê, “Jy kan nie al die gebooie in die Bybel gehoorsaam nie. En selfs al het jy dit alles gehoorsaam, sal dit jou steeds nie red nie. Dit sou wettiesheid wees!”

Nee! In teendeel, ons probeer Christus se gebooie vernietig deur dit die wet te noem! Die wonderlike gebooie wat Hy vir ons gegee het, was vir ons eie beswil, om ons van onsself en van ons sondes te red! Hy het ons beveel om ons te bekeer. Hy beveel ons om in Hom en in die hemelse Vader te glo. En Hy beveel ons om ons broer lief te hê soos onsself – om ander te vergewe, en op Sy beurt sal Hy ons vergewe.

As jy hierdie gebooie alleen gehoorsaam – om van jou van jou sondes te bekeer, om te glo dat die Vader Jesus gestuur het, en om jou broer te lief te hê en te vergewe – dan is jy gered! Jy wandel in die lig soos wat jy dit ontvang het.

Wanneer Jesus sê ons word nie deur die wet gered nie, praat Hy van iets heeltemal anders. Hy praat van ons pogings om saligheid te “verdien” – op die manier wat die Joodse leiers probeer het om al die godsdienstige gewoontes te onderhou: die was van potte en panne, die noukeurig berekende tiendes, en die res van die 660 werke van die vlees.

Niemand kan ooit deur werke gered word nie. Maar ek vra jou: Watter van die Tien Gebooie kan jy breek en hemel toe gaan? Egbreek? Leuens? Die Nuwe Testament sê self: “God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4), en “al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Openbaring 21:8).

Geliefde, ons het nie die reg om enige van hierdie gebooie te breek nie! Jesus het gesê Hy kom nie om die wet te vernietig nie, maar om dit te vervul – en as iemand iets anders leer, moet ‘n meulsteun om sy nek gebind word en in die see gegooi word!

Ek gaan ‘n baie dapper stelling maak: Ek glo dit is onmoontlik om aanhoudend in gehoorsaamheid en heiligheid te wandel, tensy jy die vrees van God in jou hart het.

As jy nie die vrees van God het nie, sal jy uiteindelik glo dat God sag is met sonde. Jy sal dink omdat Hy jou liefdevolle Vader is, sal Hy jou nooit verwerp nie – dat jy net soveel as wat jy wil kan sondig en aanhou opstaan. Jy sal op ‘n mallemeule van “sondig, bely, sondig, bely” klim – en jy sal vir jouself sê, “Ek kan doen net wat ek wil. Ek sal net terughardloop na Jesus toe en dit regmaak. Hy sal my enige oomblik vergewe!”

Nee! Dit is waar dat die dief wat langs Jesus aan die kruis gehang het, gered was in sy sterwensuur – maar ware bekering het reeds in hom plaasgevind! Talle dink vandag hulle kan tot God uitroep net voor hulle sterf – maar hulle sal in der waarheid te verhard wees deur hulle sonde!

Op hierdie oomblik mag jy vra, “Hoe kan ek die vrees van God verkry? As die vrees van die Here die fondament is van gehoorsaamheid, en gehoorsaamheid is volmaakte liefde – wys my dan hoe om besit te neem van ‘n heilige vrees.”

Jy verkry die vrees van God net soos Israel: Jy leer dit!

Die Here is gereed om Sy vrees te leer aan almal wat dit begeer: “Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer” (Psalm 3:12).

God leer ons die Sy vrees deur Sy Woord! Hy het Moses gebruik om vir ons twee voorbeeld te gee van hoe ons moet leer om Hom te vrees:

1. Voor hy gesterf het, het Moses vir konings van Israel voorgeskryf hoe om in gehoorsaamheid te wandel. Moses kon profeties sien dat die kinders van Israel konings sou maak na hulle eie begeerte. Daarom het hy geprofeteer oor die toekomstige konings:

“En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe...en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insetting te hou, om dit te doen” (Deuteronómium 17:18-19).

Elke koning moet voortdurend sy siel en gedagtes voed met God se gedenkskrif van vorige handelinge met Israel. Hy sou leer om God te vrees deur te sien hoe die Here Jehova die gehoorsames geseën het – en hoe hy almal wat Sy Woord ongehoorsaam was, heeltemal vernietig en vervloek het.

Geliefde, dit is hoe ek die vrees van God geleer het! Ek het weer en weer deur die Eerste en Tweede Samuel, Konings en Kronieke gesoek – en elke keer was God se handelinge duidelik: “En die koning het gedoen wat reg voor die Here was, soos sy vader, en hy het in die vrees van die Here gewandel. En die Here was met hom en het hom geseën en voorspoedig gemaak, en Sy vrees in al sy vyande geplaas....”

Oor en oor, egter, het dieselfde Bybelse rekord van ander konings gesê: “En die koning het gedoen was verkeerd was in die oë van die Here, en het die weë van God vergeet en volgens sy eie wil opgetree. En die Here het hom verlaat, en daar was hongersnood en verwoesting en vernietiging....”

Dit was baie eenvoudig: Diegene wat gedoen het wat reg was, was deur God geseën. En diegene wat gedoen het wat verkeerd was, was deur God verlaat.

God sê deur Sy rekord, “Ek het sonde nooit oorgesien nie, en Ek sal nooit nie. En as jy voortgaan om ‘n kompromie te maak en met sonde te flankeer, sal Ek met jou afreken soos ek met Dawid afgereken het! Ek is nie ‘n aannemer van persoon nie. Dink jy Ek sal op een of ander manier jou goddelose dade oorsien, as ek hóm geoordeel het – ‘n man na My eie hart?”

2. Moses het Israel ook beveel om weer die gebooie van die Here vir elke geslag te lees. Die volk moes ‘n spesiale byeenkoms saamroep elke sewe jaar, om al God se regverdige handelinge met hulle vaders in herinnering te roep. Moses het vir hulle geprofeteer:

“Dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En julle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem” (Deuteronómium 31:12-13).

Moses het geprofeteer, “Nuwe geslagte kinders sal opstaan wat niks weet van die vrees van God nie! Hulle sal glad geen motivering hoegenaamd hê om Hom te gehoorsaam en in heiligheid te wandel nie. Mans en vroue van God moet hulle onderrig in die gedenkskrif van God se weë in Sy Woord – hoe Hy almal seën wat Hom gehoorsaam en almal wat hom ongehoorsaam is, vervloek!”

Geliefde, Moses het van ons dag gepraat! Is dit nie wat huidiglik in ons land gebeur nie? ‘n Nuwe geslag van jeug het opgestaan en hulle weet niks van verantwoordelikheid en sedelikheid nie. Luister na die gesprekke van enige tiener op die straat – jy sal die vuilste, lelikste taal op die aarde hoor! Dit is reguit uit die hel – en ons kinders is daarin gedoop deur musiek, films en televisie!

Hierdie geslag is verlore – hulle weet niks van God af nie! En as kerke en Sondagskole nie gaan uitroep en jongmense van hulle sondes oortuig nie, wie gaan dit doen?

Dit sal nie die onderwysers wees nie! Skoolkinders leer nou “VIGS onderrig” – wat beteken, hoe om kondome te gebruik en seksuele dade uit te voer! Tans word ‘n traktaatjie gesirkuleer onder New York Stad se graad sewes, genaamd, “Jou Regte.” Dit sê, “Jy het ‘n reg om seks te hê met enigeen van enige geslag, net wanneer jy wil.” Die traktaatjie word geborg deur skoolverwante organisasies – en hulle doel is om ‘n halfmiljoen van die boekies in elke skool in die stad te versprei!

God sê vir die kerk, “Jou kinders gaan niks van My af weet of van My heiligheid nie. Jy moet hulle onderrig in die vrees van God – leer hulle die gedenkskrif van My handelinge!”

As jy gewillig is om God se Woord te ondersoek om te leer hoe Hy teen sonde en ongehoorsaamheid optree, beskou dan bloot hoe Hy sonde geoordeel het in Sy huis die afgelope laaste vyf jaar:

* Hy het die PTL bediening laat val. Die wêreld het gesien dat ‘n bedienaar van die evangelie geboei word soos ‘n gewone straatboef – en na die tronk gesleep word vir baie jare!

God het Sy kerk wakker geskud deur toe te laat dat al die vuil besonderhede geopenbaar word. Ek het die voorbladfoto gesien en gesê, “Here, as niks anders wat U in die geskiedenis gesê het U vrees in elke prediker in Amerika ingeboesem het nie, beter hierdie gebeurtenis dit doen!”

* God het die mees gekykte TV bediening op die aarde neergefel! Skande en bestraffing neergekom op Amerika se heel bekendste prediker, ‘n man wat meer op televisie gesien is as iemand anders in die geskiedenis. En dit het alles neergekom weens sonde!

God het Sy kerk gewys dat ‘n man op die kansel kan staan en preek oor ‘n liefdevolle Jesus – maar as hy nie daardie woorde lewe nie, het hy Christus nie lief nie. Hy kan huil en pleit net soveel hy wil!

Ek het beide hierdie mans lief – en ek verhef myself nie bokant een van hulle nie, of bokant iemand anders nie. Maar ek weet dat as ek nie in die vrees van God wandel nie, sal ek ook val!

Is jy iemand so spesiaal of belangrik dat God jou sonde, jou geheime begeertes, jou ongehoorsaamheid sal oorsien? Nee – jy kan seker wees jou sonde sal jou uitvind! As jy al hierdie openbare optredes van God teen verborge sonde in Sy kerk gesien het, en jy steeds nie geleer het om God te vrees nie – dan is jy ‘n slaaf van jou ongeregtigheid en op pad na dieselfde einde!

Dierbare heilige, jy moet die vrees van God wil hê – jy moet dit met jou hele hart soek! God gee nie Sy vrees vir diegene wat traag of geestelik lui is nie: “As jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind” (Spreuke 2:4-5).

Maar om die vrees van God te kry, is eintlik baie eenvoudig: Dit begin deur jou gehoorsaamheid aan Hom in dit wat jy reeds weet.

Wanneer ek praat van God gehoorsaam, bedoel ek nie om elke rooiletter woord in die evangelies te memoriseer net die doel om dit alles te doen nie. Liewer, as jy bloot getrou is om die lig wat jy reeds het te gehoorsaam – om die gebooie wat jy ken te gehoorsaam – sal God jou lei, tree vir tree, in verdere gehoorsaamheid en in Sy heilige vrees. Jy sal nie een of ander wettiese manier uitdink om Hom te gehoorsaam nie. Gehoorsaamheid sal na jou kom op ‘n baie liefdevolle, natuurlike manier!

Laat my met jou die heerlike voordele van gehoorsaamheid deel!

Jesus het ontsaglike seën beloof aan almal wat “die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1). Daar is talle sulke voordele, maar ek sal slegs drie opnoem:

1. Jy sal geseënd wees met ‘n openbaring van Jesus Christus in jou innerlike mens. “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ék sal hom liefhê My aan hom openbaar” (Johannes 14:21).

Dit is een van die kragtigste beloftes in die Woord van God! Eerstens, Jesus sê: “wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê.” Met ander woorde, “God sal ‘n spesiale liefde vir jou hê omdat jy My gehoorsaam!”

Ons weet God het ‘n algemene liefde vir die hele wêreld. Maar Jesus praat van iets anders. Hy sê die Vader het ‘n spesiale liefde in Sy hart vir jou wanneer jy wandel in gehoorsaamheid aan Sy Seun. Hy begin om jou lief te hê op ‘n baie spesiale manier!

“En Ék sal hom liefhê My aan hom openbaar” (Johannes 14:21). Jesus sê ook dat as jy Hom gehoorsaam, sal Hy Homself aan jou openbaar! Dit is so ontsaglik, ek kan dit nie begryp nie. Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, het ek ‘n hele week op hierdie een onderwerp deurgebring: “Here, wat bedoel U – as ek U gehoorsaam, sal U Uself aan my openbaar?”

Ek weet nog steeds nie hoe Hy dit sal doen nie. Maar ek kan in gebed na Hom gaan en sê, “Jesus, U het my laat glo ek kan op hierdie belofte staatmaak. U het vir my gesê ek ken nie net ‘n historiese Jesus nie – maar dat in elke dag van my lewe, maak nie saak hoe oud ek word nie, U meer werklik vir my sal word tot op my heel laaste dag!”

Laastens het Jesus gesê, “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

Dink jouself in: Jesus het vir jou Sy persoonlike belofte gegee. As jy Hom bloot liefhet deur jou gehoorsaamheid aan Hom, sal Hy op Homself die verpligting neem om al hierdie dinge vir jou te doen! Hy sal vir jou die spesiale liefde wys wat die Vader vir jou het; Hy sal Homself aan jou openbaar; en Hy en die Vader sal werklik kom en in jou woon – en heeltemal van jou besit neem, en jou begrip open van Wie God is, en jou liggaam, siel en gees vul met die heerlikheid van Sy teenwoordigheid!

2. Jy sal geseënd wees met ‘n spesiale drang en salwing om Sy stem te hoor en te ken. “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie, maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly” (1 Johannes 2:27).

Wanneer die vrees van God in jou siel instroom – wanneer jy Hom gehoorsaam, die duiwel weerstaan, van begeertes af wegvlug, die sonde aflê wat jou so maklik omring – begin jy om die salwing van die Heilige Gees te hoor en te ken. Jy sal geestelike ore hê om te hoor! Jysal nie een of ander profeet of leraar nodig hê om vir jou “’n woord te gee” van God af nie. Jy sal geleer wees deur die inwonende Gees van God!

Enige Christen wat egter in sonde leef – wat in wellus, hoerery, gierigheid of ongehoorsaamheid van enige aard wandel – kan nie die ware stem van God hoor nie. Niks wat hy hoor is in werklikheid van God af nie – maar is óf van die vlees óf van die duiwel!

Ek ken Christene, insluitend bedienaars, wat in sonde leef – wellus-gevulde, sensueel verslaaf aan een of ander bose vesting. Hulle het begin om kalm, sagte stemme te hoor – lieflike stemme, wat hulle gelei het en goeie dinge aan hulle beloof het. Hierdie stemme het gesê, “My dierbare, geliefde kind – God is met jou! Jy sal wonders, wonderwerke en seëninge orals sien.”

Maar hierdie dinge het nooit gebeur nie – omdat die stemme nie van God af was nie! Dit was óf die stem van hulle eie vleeslike begeerlikhede óf die magte van duisternis, wat gekom het om hulle te mislei!

O, die verblindende mag van begeertes! Jesus het vir die Jode gesê wat Hom gevolg het: “Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Johannes 8:43-44). Jesus het in wese vir hulle gesê, “Ek praat prontuit met julle, maar julle hoor nie wat Ek sê nie. Dit is omdat julle harte vol van begeerte is en julle nie in staat is om die waarheid te hoor nie!”

Wil jy van God hoor? Wees dan eerlik met Hom oor jou sonde! Lê jou begeerte neer, laat God daarmee afreken – en die klankdig muur wat jou verhoed om Sy stem te hoor sal afgebreek word.

3. Jy sal geseënd wees met verhoorde gebede en volheid van blydskap! “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry...Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word” (Johannes 15:7,11). Geliefde, volkome blydskap kom van om Sy stem duidelik te hoor!

Niks gee my groter blydskap om te weet dat die Here waarlik met my gepraat het nie. Wanneer ek gehoorsaam was en alles gedoen het wat Hy van my gevra het, kom ek die binnekamer binne om met Hom gemeenskap te hou – en Hy begin praat. En dit is so naby aan hemel op aarde as moontlik!

As jy vir Jesus sal sê, “Here, ek wil wandel in U geregtigheid, om U waarlik lief te hê deur gehoorsaamheid,’ beloof God:

“En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl julle nog spreek, verhoor Ek” (Jesaja 65:24). “Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spreuke 15:29). “Die gebed van die opregtes is Hom welgevallig” (Spreuke 15:8).

Vra God om ‘n heilige vrees in jou hart in te boesem, begin om in volle gehoorsaamheid te wandel in alles wat jy van Sy gebooie af weet – en jy sal volmaak word in jou liefde vir Jesus!