LEIDING TYDENS GEBED

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer ons ‘n groot verlossing van God ontvang, dank ons Hom met ons hele hart. En dan maak ons hierdie opregte belofte, “Here, van nou af, ek sal nêrens heen gaan of enigiets doen, totdat ek raad by U gevra het nie. Ek sal oor alles bid.” Maar wanneer ‘n nuwe krisis opduik, dink ons ons kan staatmaak op ons ou planne en suksesse en op die ou end neem ons sake in ons eie hande.

Ons redeneer, “God het vir my ‘n goeie verstand gegee en ek is veronderstel om dit te gebruik. Hy wil hê ek moet dinge self uitwerk.” Wel, dit is waar, maar slegs nadat jy sy leiding in gebed gesoek het. Ons kan nooit die gedagtes van God verkry deur op ons eie redenasie staat te maak nie. Die Here kan toelaat dat ons selfgemaakte planne tydelik werk, maar uiteindelik beland ons in totale verwarring.

Die apostel Paulus sê vir ons dat die vleeslike denke nie die geestelike denke kan verstaan nie: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:5-7).

Dit is moontlik dat, ten spyte van jou regverdige wandel, jou toewyding en aanbidding, jy jou eie ding doen. As dit waar is, rig jou oë weer op God vir sy onderskeiding en leiding. Roep uit tot Hom en vertrou op sy getrouheid. “Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand” (Psalm 121:5). Jou Vader smag daarna om die een te wees wat oor jou waak, jou oppas en jou beskerm.

Hoe wonderlik om te weet dat ons Here waaksaam en beskermend is en dat Hy groot blydskap het om sy kinders te bewaar en te behoed.