LEER ONS OM TE BID

Gary Wilkerson

Terwyl die dissipels saam met Jesus gereis het, het hulle opgelet dat Hy dikwels gebid het. Dit was nie vir Hom ongewoon om vir lang tye smôrens voor die son opkom te bid nie. Soms het Hy die hele dag in gebed deurgebring; ander tye het Hy die hele nag gebid.

Jesus was wat die Skrif noem, “’n middelaar.” Hy het voorspraak gedoen, wat beteken Hy het tussen God en die mens gestaan om aardse seëninge uit die hemel te bring. Terwyl Hy op aarde was, het die Goddelike Middelaar, God onder ons, om ons onthalwe voorbidding gedoen. Hy was lief daarvoor om voorbidding te doen.

Terwyl hulle gekyk het hoe Jesus bid, was die dissipels uitgedaag en geïnspireer en hulle het met vrymoedigheid vir Hom gevra om hulle te leer bid. Hulle het Jesus gehoor onderrig, maar hulle het Hom nie gevra om hulle te leer onderrig nie; hulle het Hom gesien wonderwerke doen, maar hulle het Hom nie gevra om hulle te leer om te genees nie – hulle het Hom gevra om hulle te leer bid.

Toe Jesus se dissipels Hom hoor bid het, het hulle emosies en geestelike passies in beroering gekom binne-in hulle. Hulle was almal grootgemaak met die godsdienstige gewoontes van die tyd en het gebid sedert hulle klein kindertjies was. Met ander woorde, hulle was mense gekonfyt in die tradisie van gebed. Maar nadat hulle Jesus gehoor bid het, het hulle heeltemal ontoereikend gevoel in gebed. Die uitroep van hulle harte was, “In vergelyking met U, Jesus, weet ons niks van gebed af nie. Jesus, leer ons bid” (sien Lukas 11:1).

Ek nooi jou uit na die teenwoordigheid van Jesus vandag. Kom sit by sy voete en bring tyd deur in sy teenwoordigheid. Jy kan eerlik wees met Hom: “Here Jesus, ek weet nie hoe om te bid nie, maar hier is ek. Ek wil leer en ek gee my lewe aan U.” As julle seuns en dogters van Jesus Christus is, is julle “deelgenote van die goddelike natuur [van God]” (2 Petrus 1:4). Die gees van die Goddelike Middelaar woon in elke gelowige wat verlang om gevul te wees met sy krag.