LEEF OP DIE BELOFTES

David Wilkerson

“En julle moet alles onthou wat julle God die Here met julle laat gebeur het toe julle 40 jaar in die woestyn was. … Hy het julle verneder en honger laat word en toe het Hy vir julle die manna gegee om te eet. Julle en julle voorvaders het voorheen nie manna geken nie. Die Here wou hê dat julle moet verstaan dat ’n mens nie net van brood kan lewe nie, ’n mens lewe van elke woord wat uit die mond van die Here kom” (Deuteronómium 8:2-3).

Ek herhaal hierdie woorde reg deur die dag: “Ek lewe deur elke woord wat uit die mond van God kom.”

As ons nie God se Woord kan vertrou nie – as die Bybel nie die inspirerende Woord van God is nie – dan is die lewe tevergeefs. Daar kan geen hoop op die aardbodem wees nie.

Toe hierdie woord in Deuteronómium tot Israel gekom het, was toestande in die woestyn vir hulle baie angswekkend. God het toegelaat dat hulle dors en hongerpyne ondervind, en nou hoor ons uit die mond van die Here dié woorde: “Ek het julle verneder en honger en dors laat word. Hoekom? Alles omdat Ek wou hê dat julle weet julle kan My vertrou. Julle kan leef op My beloftes.”

God was nie van plan om Sy volk te laat verhonger of sterf van dors nie. Hy het presies geweet wat Hy gaan doen om hulle te verlos. En, geliefdes, God het ook ‘n plan vir jou verlossing.

O, hoe nodig het ons die Heilige Gees om ons te lei en te troos in ons tyd van nood. Sonder Sy teenwoordigheid, Sy leiding, Sy daaglikse uitstorting van krag, sal nie een van ons dit maak nie. Geen menslike vasbeslotenheid kan die daaglikse toetse wat ons op die pad moet verduur, oorleef nie.

Ons moet ons daagliks neerwerp voor God se oopgemaakte Woord en Sy Heilige Gees vertrou om dit lewend vir ons te maak. “Die Here het gesê die lug en die sterre moet daar wees, en toe was hulle daar…want wanneer Hy praat, dan gebeur dinge, wanneer Hy sê iets moet daar wees, dan is dit daar” (Psalm 33:6,9).