LEEF ‘N LEWE ONDERSOEK DEUR GOD SE WOORD

David Wilkerson (1931-2011)

As ek van die heldedade van die goddelike manne in die Ou Testament lees, brand my hart. Hierdie dienaars was so belas met die saak van God se Naam, dat hulle kragtige werke, wat vandag die verstand van die meeste Christene verbyster, gedoen het.

Een so ‘n heilige man was Esra, ‘n man van God wat sy hele nasie laat ontwaak het tot God. Die Skrif sê dat God se hand op Esra was, en Esra het getuig, “Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die HERE my God oor my was” (Esra 7:28). God het sy hand uitgestrek, Esra omring en hom in ‘n ander mens verander.

Waarom sou God dit doen? Daar was honderde skrifgeleerdes in Israel op daardie tydstip en hulle het almal dieselfde roeping gehad om God se Woord te bestudeer en dit aan die mense te verduidelik. Die Skrif gee ons die antwoord: “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag” (Esra 7:10). Esra het ‘n doelbewuste besluit geneem om God se Woord te soek en te gehoorsaam. En hy het nie van daardie besluit afgewyk nie.

Esra het nie een of ander bonatuurlike belewenis gehad wat hom ‘n liefde vir die Skrif gegee het nie. God het nie vir hom gesê, “Jy gaan 50,000 tot bekering lei en my werk doen, maar om dit te doen, gaan jy krag, dapperheid, reinheid en geestelike gesag nodig hê. Dit kom egter slegs deur my Woord te ken en te gehoorsaam. Môre sal jy opstaan met ‘n groeiende honger om my Woord te bestudeer en te gehoorsaam.”

Nee, dit is glad nie hoe dit gebeur het nie. Esra was pligsgetrou om die Skrifte te ondersoek lank voordat God sy hand op hom geplaas het. Hy het toegelaat dat hy self daardeur ondersoek en daardeur gewas is, met die gevolg dat God hom gesalf het.

Sekerlik, God se salwing is bonatuurlik, maar Hy lê slegs sy hand op diegene wat heeltemal oorgee is om sy Woord te ken en te gehoorsaam. Dit is waar alle salwing begin. Niemand kan God se aanraking in sy lewe verwag as hy nie passievol oor die Skrif is nie.