LAAT VAAR JOU WORSTELING

David Wilkerson

“Wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie” (1 Petrus 2:23).

‘n Wonderlike waarheid wat verbind is met Christus se lyding, is dat Hy nooit een keer Homself verdedig het teen diegene wat Hom mishandel het nie. Hy het niemand bestraf nie en op geen manier teruggekap nie.

Hoe anders as ons! Wanneer ons lyding ondraaglik word, verdedig ons onsself en beskerm ons ons regte en reputasie. Soms dreig ons God selfs sonder om te weet wat ons werklik doen. Maar wanneer ons gebede onbeantwoord bly of rampe toeslaan en dit lyk asof die Here ons teleurgestel het, trek ons terug van Hom af. Wanneer ons pyn ly of eensaam en hartseer is, begin ons wegdryf. Ons raak slap met Bybel lees en gebed en ons geloof word traag en onaktief.

Elke keer wat ons terugtrek van om die Here te soek met ons hele hart, dreig ons Hom. Op ‘n manier sê ons, “Here, ek het my beste gedoen en U het my teleurgestel.” Hy het ons so lief en Hy het oneindige geduld met ons wanneer ons ly. Hy wag liefdevol vir ons totdat ons terugkeer na Sy liefdevolle sorg.

Ons moet versigtig wees dat ons nie toelaat dat ons gesindhede ons van Hom af weglei nie. As ons weier om wakker te word en ons geloof en hoop in Hom te vernuwe, kan ons so ontnugter word dat ons toegee aan ons begeertes en passies. Ons sê, “Wat is die nut? Ek probeer so hard, maar dit lyk nie of ek in oorwinning kan bly nie. Ek roep uit na God vir hulp en verlossing, maar niks gebeur ooit nie.”

Wanneer ons onsself op hierdie manier laat toegee, dreig ons God. Dit is ons manier van op Hom “wraak te neem” omdat Hy nie gebed verhoor volgens ons skedule nie.

Die Here alleen is ons bewaarder en Hy sal nie toelaat dat sy kinders struikel nie. Laat ons doen soos Christus gedoen het toe Hy “oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). Om oor te gee beteken om jou lewe volkome in sy hande oor te gee.

Dierbare geliefde, daar is hoop! Laat vaar jou worsteling om enigiets in jou eie krag te doen en gee die bewaring van jou liggaam en siel oor aan die Here van die leërskare!