LAAT NIKS JOU TERUGHOU NIE

Carter Conlon

Wanneer jy besluit om saam met God te wandel, dan moet alles wat eens mag gehad het om jou terug te hou, jou laat gaan. Dis goeie nuus! “Toe sê Laban en Betuel vir hom: ‘Hierdie plan kom van die Here. Ons kan nie vir jou ja of nee sê nie. Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan terug, sodat sy die vrou van jou eienaar se seun kan word. Dit is wat die Here gesê het.’” (Genesis 24:50-51).

Laban en Betuel verteenwoordig die vorige magte in Rebekka se lewe wat haar eens teruggehou het. Al wat hulle nou egter kon sê was, “Ons kan nie ja of nee sê nie, want hierdie kom van die Here af.” Met ander woorde, daar is geen mag van die hel, geen tekort, geen vorige ondervinding, geen woorde wat al oor jou lewe gespreek is, wat jou kan keer om alles te wees wat God jou geroep het om in Christus te wees nie! Elke gevangenisdeur moet oopgaan; alle bindinge moet jou laat gaan. Al wat jy moet doen is om op te staan en te luister na die stem van God.

Ek belowe jou een ding: Jy sal ‘n ongelooflike lewe hê wanneer jy besluit om vir God te lewe! Ja, wanneer jy vasbeslote is om Hom geheel en al te volg, sal daar moeilike dae wees. Maar, wanneer jy aan die einde van jou reis kom, sal jy besef jy sou nie een dag daarvan verruil nie, want jy het eer gebring aan die naam van Christus.

Natuurlik, net soos Rebekka, moet elkeen van ons ‘n besluit maak om Christus ten volle te volg. Dit is ‘n persoonlike keuse om in reinheid te wandel, om beskikbaar te wees vir die behoeftes van ander, om die Vader se vrygewigheid te ken en om ander daarvan te kan vertel. En so vra die boodskapper wat voor jou staan, die Heilige Gees vandag, “Wil jy ‘n bruid wees wat geskik is vir my Meester se Seun?” 

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.