LAAT JOU LOFPRYSINGE OPSTYG NA DIE HEMEL

David Wilkerson

In Tweede Kronieke 20 lees ons dat Koning Jósafat ‘n angswekkende boodskap ontvang het: “Daar kom ‘n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af. . . .(toe) het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep” (2 Kronieke 20:2-3).

Angsbevange het Koning Jósafat ‘n biduur byeengeroep: “En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek” (20:4). Toe die volk bymekaargekom het om God te soek, het Jósafat gebid, “Onse God. . . ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë us op U!” (20:12)

Dit was miskien een van die donkerste ure vir Israel. Hulle het verdelging in die gesig gestaar en het geen manier gehad om die invallende vyand te keer nie. Wat was God se antwoord aan Sy volk in daardie uur? “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie maar die saak van God” (2 Kronieke 20:15).

Toe die volk hierdie woord gehoor het, het iets binne-in hulle in beroering gekom. Hulle het ‘n woord van die Here gehoor. Nou, gedurende hulle donkerste uur, het geloof in hulle harte opgestaan – en hulle het God begin prys (2 Kronieke 20:18-19).

Die Gees van die Here het te midde van die gemeente verskyn. En terwyl die volk se lofprysinge na die hemel opgestyg het, het die Here ‘n magtige engel gestuur om die aankomende vyand in ‘n hinderlaag te lei. Stel jou voor hoe een engel van God daardie hele leër verslaan het!

In ‘n enkele, oomblik, was die oorwinning hulle s’n. Wat gelyk het na ‘n donker uur vir God se volk, het vir hulle God se uur van verlossing geword.