LAAT GOD DIT ORKESTREER

David Wilkerson

As ons eerlik is, sal ons erken dat ons dikwels ons vertroue in ander plaas tydens ons groot uur van beproewing. Ons kyk na pastore, beraders, vriende en huweliksmaats vir antwoorde. Ons bring ure, dae en weke deur om te probeer dink hoe om ons probleem op te los. En as ons oplossing nie vinnig genoeg kom nie, hou ons aan om te manipuleer, uit alle hoeke uit, totdat al ons menslike hulpbronne uitgeput is.

Dank God vir al die hulp wat ons kry van ander, maar ons moenie wag dat ‘n engel verskyn of ‘n skip kom nie. Paulus verklaar, “(Ons) wat in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (Filippense 3:3). Dit is vir ons siel se onthalwe, dat God wag totdat ons verder kyk as menslike hulpbronne en Hom alleen vir hulp vra. Hy gebruik wel mense in ons lewens, maar ons moet Hóm dit laat orkestreer.

“Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou” (Psalm 118:8). “Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie. . . Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor” (Miga 7:5,7).

Paulus het die magteloosheid van die vlees goed geken. Hy het erken dat hy nie slim was nie. Sy kritici het sy prediking veragtelik genoem en sy teenwoordigheid onvanpas – kortliks, hulle het gesê hy was vervelig. Maar Paulus het geen probleem met sulke kritiek gehad nie, omdat hy nie op sy vlees vertrou het nie. Hy het geweet dat Jesus nie sy stryd met skranderheid, vermoëns of charisma gestry het nie, maar met alle vertroue op die Vader (sien 1 Korinthiërs 1:27-29).

Daar is ‘n heerlike belofte in Hebreërs 3:14 vir almal wat onwrikbaar vashou aan hulle vertroue in Jesus: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou.” Dit beteken dat wanneer ons ‘n onwrikbare vertroue in die Here het, word Hy ons enigste ware bron van voorsiening. Ons hoef nêrens anders te gaan soek nie.