KYK NA ONS GLORIERYKE KONING

David Wilkerson (1931-2011)

Dit lyk asof die hele wêreld tans bewe oor die huidige gebeur. Amper elke dag lyk dit of ons wakker word met nóg ‘n ontwikkeling wat ons in ons fondamente skud. Binne die afgelope jaar het die aarde rekordbrekende vloede, verwoestende brande wat hele dorpies uitgewis het, orkane en aardbewings beleef. En dan hoor ons van die vinnige, onbetwisbare sedelike verval van ons samelewing.

Vir die sekulêre wêreld moet dit lyk of niemand in beheer is nie. Nie-gelowiges word oortuig dat geen oplossing oor is nie, dat alles in chaos verval – maar God se kinders weet dit is nie waar nie. Ons weet daar is geen rede om te vrees nie, omdat die Bybel ons keer op keer herinner dat die Here alles onder beheer het. Nie een enkele ding gebeur in die wêreld sonder sy kennis en bestuur daaroor nie.

Die psalmis skryf, “Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies...” (Psalm 22:28). Net so sê die profeet Jesaja vir die wêreld, “Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom” (Jesaja 34:1). Hy sê in wese, “Luister, volke, en gee My julle ore. Ek wil vir julle iets belangriks sê oor die Skepper van die wêreld.”

Jesaja sê dat wanneer God se toorn opgewek is teen nasies en hulle leërs, is dit die Here self wat hulle verlos. “Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken … Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken … Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane” (Jesaja 40: 15, 17, 22).

Jesaja gee raad aan God se kinders wat vuisvoos en bekommerd is oor wêreldse gebeure, “Kyk op in die lug, na die glorieryke hemele. Sien die miljoene sterre wat daar geplaas is en onthou dat God elkeen geskep en ‘n naam gegee het. Is julle nie vir Hom meer kosbaar as hulle nie? So, moenie vrees nie!”

Hoe kan jy twyfel oor God se besorgdheid oor jou in jou krisistye? Sy Woord is vol beloftes en hoop, so hou vas aan Hom, maak nie saak wat nie.