KLANKE VAN OORWINNING

David Wilkerson

Toe ons Times Square Church in 1987 begin het, het ons vinnig agtergekom dat ons bedien het in ‘n hedendaagse Korinthe, een van die mees vleeslike gebiede in Nuwe Testamentiese tye. Daarom moes ons ‘n oortuigende boodskap verkondig wat harte sou aanraak. Toe ons aanvanklik ons deure geopen het, was ons eredienste bygewoon deur baie mense betrokke in die vermaaklikheidsindustrie, in die teater, televisie en film. Sommige het gekies om te bly in loopbane wat God duidelik oneer aandoen.

Ons het gewonder of ons ongeredde verhoogkunstenaars kon evangeliseer as ons eie gemeentelede steeds in die ongure aspekte van die besigheid betrokke was. Daarom het ons ‘n boodskap van “afsondering” begin preek en die Here het met mense begin deel. Talle het winsgewende beroepe in die vermaaklikheidsindustrie prysgegee en God het hulle wonderlik geseën. “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die HERE” (2 Korinthiërs 6:17).

Ons het ontdek dat God vir Homself ‘n goddelike oorblyfsel in Time Square Kerk bewaar het, mense wat sy Woord liefgehad het. In elke diens het hierdie mense soos honger voëltjies gesit met hulle monde wyd oop vir kos. Na die tyd het hulle klankopnames van die preek huistoe geneem om daarna te luister. Ons kerk het ‘n gees van bekering beleef, ‘n ywer om gehoorsaam te wees en ‘n gretigheid om aan God se Woord te voldoen.

Namate ons almal onder die krag en beheer van God se Woord gekom het, beide bedienaars en gemeentelede, was ons eredienste met meer as net trane van bekering gevul. Die heiligdom is gevul met klanke van oorwinning, vreugde en blydskap. Daar was groot gejuig omdat ons begin het om die groot waarheid van God se Woord te verstaan.

Ons het geleer dat om die blydskap van die Here tussen sy mense te handhaaf, God vir ‘n selfs dieper werk in ons lewens vra.