KEER TERUG EN SOEK SY AANGESIG

Gary Wilkerson

Sommige gelowiges bid slegs wanneer hulle deur God getugtig word. Hulle voel veroordeel en sleg, en begin dan om te bid maar, geleidelik vergeet hulle weer om te bid. Die Bybel sê, “Maar my volk het My vergeet, dae sonder tal” (Jeremia 2:32).

In jou geval, is dit dalk nie omdat jy nie bid nie, dit is net dat jy nie ‘n formele gebedstyd het nie. Dit is nie dat jy nie jou knie buig voor die Here nie, maar dat jy van Hom vergeet. Jy vergeet nie om te bid nie, jy vergeet die Here. Wanneer jy die Here onthou, bid jy. Jy kan nie aan Hom dink sonder om met Hom te praat en Hom te aanbid nie. Jy kan Hom nie aanbid sonder om Hom te soek nie en jy kan Hom nie sonder gebed soek nie.

Gebed kom natuurlik vir mense wat die Here onthou. Wanneer ons Hom vergeet vir ‘n paar dae, herinner Hy ons subtiel en liefdevol. Wanneer ons Hom vir langer tydperke vergeet, begin Hy ons in beroering bring. Wanneer ons Hom vergeet vir “dae sonder tal,” bring Hy sy tugtiging in ons persoonlike lewens in en ook in ons land in. Wanneer ‘n land God begin vergeet, bring Hy daardie land in beroering op so ‘n manier dat dit veroorsaak dat hulle terugkeer na Hom en sy aangesig soek.

Wat God wil hê, is baie eenvoudig. Hy wil toegewyde, doelgerigte aanbidders en voorbidders hê wat sy aangesig dag en nag soek. Hy wil mense hê wat voluit vir Hom lewe.

Laat ons beskou wat God doen om mense in die regte verhoudiging met Hom te kry in die tye waarin ons tans lewe. Hy bring nie net oordeel oor ‘n land nie, maar Hy rig ‘n klein groepie “oorblyfsel voorbidders” op en skyn sy heerlikheid op hulle. Hy openbaar sy hart aan hulle en bemagtig hulle met sy genade en gesag. En dan veroorsaak Hy hulle om uit te beeld wat Hy vir daardie land wil hê.

Ek moedig jou aan om deel van hierdie gemeenskap van gelowiges te word – diegene wat God aanbid, wat sy aangesig soek en wat sy hart vir sy mense verstaan.