JY IS OP DIE PUNT OM VRYGEMAAK TE WORD!

David Wilkerson (1931-2011)

Die Bybel maak dit duidelik dat demoniese magte aan die werk is om strikke vir Christene te stel. Satan is absoluut vasbeslote om elke gelowige wat in heiligheid en algehele toewyding aan Jesus Christus lewe, omver te werp. Verstaan asseblief, Satan is nie alomteenwoordig nie – hy kan nie oral wees op dieselfde tyd nie – en hy weet ook nie alles nie. Maar hy het menigtes van demoniese wesens, owerhede en magte van die duisternis onder sy bevel. En hierdie magte stel vir jou strikke. “Die goddelose het vir my ‘n vangnet gespan” (Psalm 119:110).

“Op die pad wat ek moet gaan, het hulle ‘n vangnet vir my gespan” (Psalm 142:3).

Geliefde, die duiwel stel vir jou ‘n strik wat jy nie kan sien nie. Daarom moet jy die hele tyd waaksaam wees. Hy kan goddelose mense, of versoekings van die vlees, of selfs ander Christene gebruik, maar jy kan seker wees dat Satan daarop uit is om jou in sonde te verstrik.

As jy in sy strik getrap het en jy nou in slawerny lewe, moet jy besef dat jou val heel moontlik nie met voorbedagte rade was nie. Die duiwel het geweet van ‘n swakheid in jou en hy het jou daarin vasgevang. Jy mag dalk jouself heeltyd blameer en dink, “Hoe kon ek so ‘n ding gedoen het?” Maar om jouself te straf, is ‘n absolute mors van tyd! Jy sal nooit kan uitpluis hoe jy so dwaas, blind en roekeloos kon wees nie, so rig jou gedagtes weer op Jesus, omdat ek ontsaglike nuus vir jou het. Jy is op die punt om vrygemaak te word!

As jy op enige manier deur die vyand gevang is en in sy strik getrap het, maar jy weet jy het God lief met jou hele hart, sal die Here nie toelaat dat jy die vyand se slagoffer bly nie. Lees die Woord van God met hernude toewyding en vra die Heilige Gees om jou onderskeiding te gee. Daar is krag in die Naam van Jesus en Hy sal jou verlos en jou beskerm!