Jy Het die Heilige Gees Nodig

David Wilkerson

Sommige van julle is al ‘n hele paar jaar gered, sommige miskien ‘n jaar, en sommige net  ‘n paar maande of weke. Om gered te wees van sonde is wonderlik! Ou dinge vervaag – en alles word nuut. Ek is so bly jy is gered!

Maar om ‘n goeie soldaat in diens van ons Here Jesus Christus te wees, is dit nie genoeg om net gered te wees nie. Daar is baie meer vir jou! Jy moet gedoop word met die Heilige Gees!

In Paulus se tyd, het sommige gelowiges nie eens geweet daar was ‘n Heilige Gees nie. “En hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie” (Handelinge 19:2). Hierdie mense was gered, maar dit is duidelik dat hulle nie gevul of gedoop was met die Heilige Gees nie.

Ek glo ons is gered deur die krag en bediening van die Heilige Gees. Maar die Skrif sê ook dat bykomstig hierby, is daar ook ‘n doping, ‘n invulling, ‘n besitneming wat die Heilige Gees in ons doen!

Jesus self het nie Sy dissipels en volgelinge in die wêreld uitgestuur voor hulle gedoop was met die Heilige Gees nie. Sy dissipels het sekerlik rein harte gehad. Hulle het geloof gehad om die siekes te genees en om duiwels uit te dryf. Hulle het die woord van die Here gehad en het reeds Christus verkondig en bekeerlinge ingewin. Hulle was getuies tot Sy opstanding. Wat meer kon daar wees? Hulle was gewillig om te sterf vir Jesus! Was hulle liefde vir Hom genoeg om hulle in die wêreld in te stuur om Sy werk te doen?

Geliefde, niks daarvan was genoeg nie! Dit is duidelik daar was meer: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8).

Hierdie groot apostels – hierdie binnekring van volgelinge wat Hom so innig geken het, wat sulke magtige dade gedoen het, wat gedoop was in water en volledig onderrig is deur Christus – moes steeds gedoop word met die Heilige Gees!

“En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind...En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Handelinge 2:1-4).

Die behoefte vir die Heilige Gees was duidelik nadat Filippus na Samaria gegaan het. Hy het ‘n groot beweging van God daar gesien plaasvind: “En Filippus het...Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen...En daar was groot blydskap in daardie stad...En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes soontoe gestuur” (Handelinge 8:5-7,14).

God se “Heilige Gees Afdeling” het gekom! Daar was tekens en wonders, wonderwerke, onrein geeste wat gevlug het, mense wat uitgeroep het na God. Die stad was vol blydskap weens al hierdie dinge! Daar was egter steeds meer! “Want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 8:16-17).

Ons het nog ‘n voorbeeld in Cornelius. Hy was ‘n toegewyde gelowige, “Hy met sy hele huis was vroom en godvresend...en was altyddeur in die gebed tot God,” en hy was ook ‘n vriendelike en vrygewige man. Hy en sy familie was rein en heilig, met hulle harte heeltemal aan die Here oorgegee. Sy vroom hart het egter vir hom gesê daar was meer.

Cornelius het deur die leiding van ‘n engel vir Petrus laat haal. Toe Petrus opgedaag het, het hy vir ‘n rukkie gepreek – en skielik het die Heilige Gees op hierdie mense geval: “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis...was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is...Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word” (Handelinge 10:44-48).

[Hierdie Skrif maak dit duidelik dat waterdoop nie die doop van die Heilige Gees is nie. “Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word” (Handelinge 11:16).]

Selfs ná sy dramatiese bekeringsbelewenis met Christus op die pad na Damaskus, het Saul die Heilige Gees nodig gehad. Hy was versteek in ‘n kamer in die stad, gebroke in gees en het ‘n heerlike openbaring van Jesus Christus ontvang! God het Ananías na hom gestuur met die boodskap dat Saulus ‘n spesiale, uitverkore werktuig vir die Here was. Saul het egter die Heilige Gees nodig gehad om op hom te val:

“En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop” (Handelinge 9:17-18).

Jy het die Heilige Gees nodig om jou te help om vir eens en vir altyd met die wêreld te breek!

Wanneer die Heilige Gees jou doop, neem Hy oor! “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” (1 Korinthiërs 6:19).

Die Heilige Gees kom om al die oorblywende aansprake van die ou sondige lewe uit te dryf! Hy reinig ons van alle bose magte. Hy verbreek alle heerskappy en gesag van die vyand. Hy hys ‘n heilige vlag en Hy stel Satan en sy hordes demone in kennis dat hierdie tempel volkome aan Jesus behoort! “Alle owerhede en magte van die duisternis, luister: Julle aansprake is nietig! Hierdie is my huis en Ek het ingetrek om Jesus, Here van hierdie liggaam, siel en gees te maak!”

As jy die Gees van Waarheid het, sal jy gou in lyn kom met God se Woord en lief wees om dit te doen! Hy begin die gedagtes van Christus aan jou openbaar. En wanneer jy die Woord lees en hoor, sal jy sidder en die mag hê om te gehoorsaam!

Die eerste boodskap wat Hy openbaar is die volgende: “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26).

Ek het dikwels gewonder hoe diegene, wat hulleself Christene noem, die Woord van God kan verdraai – hoe kan hulle duidelike waarskuwings uit die Bybel lees en dit tog ignoreer. Hulle lei ‘n dubbele lewe! Hulle het hulle eie standaarde uitgedink en meng vrylik met die wêreld. Hulle is twee mense – gesplete persoonlikhede. Een gedeelte gaan voort om alles wat sondig en goddeloos is te doen, terwyl die ander deel sê, “Maar dit is nie ek nie. Die ware ek het Jesus lief!”

Die Skrif maak hierdie skeiding duidelik: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial...Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?...Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die HERE; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees” (2 Korinthiërs 6:14-18). Hoe kan enige liefhebber van Jesus dit nie verstaan nie of verdraai?

Hoe kan ‘n akteur en aktrise speel in vulgêre, seks-en-geweld films en eerlikwaar sê, “God het vir my gesê om dit te doen”? Hoe kan Christene goddelose films huur of na smerige plekke gaan en sê, “Ek is ‘n getuienis vir Jesus”? Dit is omdat die Gees van waarheid nie binne-in hulle is nie! Hulle het die Heilige Gees nodig om in te kom en hulle blinde oë oop te maak!

Jesus het gesê, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16-17).

Al die gepreek, berading en Bybellees wat jy kan inneem, sal dood wees, tensy jy die Heilige Gees het wat in jou lewe! Hy maak dat jy God verstaan en weet dit is God wat praat! Sommige mense in ons kerk hier in New York het hierdie woorde en waarskuwing al oor en oor gehoor. Na ‘n jaar of twee, is hulle egter steeds baba’s – steeds nie afgeskei nie, steeds half in die wêreld. Waarom? Dit is omdat hulle nie die Heilige Gees het nie! Daar is nog nie ‘n beroep op Hom gedoen om die tempel van hulle liggame in besit te neem nie! Hulle het steeds beheer oor hulle liggaam – en hulle wil nie beheer aan Hom oorgee nie!

Jy het die Heilige Gees nodig, want Hy is die Gees van die Waarheid wat jou “in alles sal onderrig.” Jy sal nie op ‘n dwaalweg gelei word deur ‘n verdraaide, gekompromitteerde evangelie nie.

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:13-14).

Heilige Gees Doping is vir jou!

Wil jy regtig die Heilige Gees hê? Wil jy Hy moet op jou val en jou met vuur doop? Jy moet oortuig wees dit is vir jou. Jy moet kom by die plek, waar jy weet jy is niks, het niks en kan niks doen sonder die krag en leiding van die Heilige Gees nie.

Jy moet weet Hy doop steeds, val steeds op gelowiges – en neem hulle liggame in besit! “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).

Elke uur van elke dag, word menigtes wêreldwyd gedoop met die Heilige Gees! Hulle het gelees van hierdie belofte in die Bybel of het dit gehoor verkondig word. Daarom het hulle uitgeroep en die belofte in besit geneem, en hulle is gedoop!

Hierdie doop is veral vir diegene wat in hierdie laaste dae lewe. “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees...En ook...sal Ek in dié dae van my Gees uitstort” (Handelinge 2:17-18).

Jesus het ‘n gelykenis vertel van ‘n sekere man wat teen middernag opgestaan het, na ‘n vriend se huis gegaan en gevra het vir drie brode (Lukas 11:5-13). Hierdie gelykenis gaan oor die noodsaaklikheid van die Heilige Gees – oor soek, vra en klop!

Hierdie man was in sy huis toe ‘n vriend aangekom het van ‘n lang reis en honger was. Maar die man het niks gehad om vir hom te gee nie. Dit verteenwoordig ‘n gebrek aan krag en geestelike swakheid! Daarom het die man wat niks gehad het nie, gegaan na die een wat wel brood gehad het.

Hierdie man wat niks gehad het om te gee nie, het die krag van die Heilige Gees nodig gehad. Hy was desperaat!

Geliefde, dit is middernag en jy het ‘n familie en vriende wat honger en behoeftig is – maar in jouself het jy niks om te gee nie. Jy het die Heilige Gees nodig! En Hy is beskikbaar om voor gevra te word: “Hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).

God wil hê jy moet lewe en wandel in die Gees. Jy hoef nie rond te hardloop om iemand anders te kry om iemand se behoefte aan te spreek nie. Jy is geroep om die Woord van God te spreek soos die Gees jou lei, en om hande op die siekes te lê en duiwels uit te dryf soos die apostels gedoen het. Ons is almal geroep om getuies te wees wat vol van die Heilige Gees en krag is!

Jy moet besef jy het nie alles wat Jesus wil hê jy moet besit nie, tensy jy gedoop is met die Heilige Gees!

Johannes die Doper het gepreek, “Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie – Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Lukas 3:16).

Geliefde, die Bybel maak dit baie duidelik: Wanneer Jesus na jou toe kom, begeer Hy om jou te doop met die Heilige Gees en met vuur! Die Heilige Gees bring vuur – ‘n rooi-warm, verterende liefde vir Jesus. Waarom is so baie gelowiges dan warm die een oomblik en koud die volgende, nooit heetemal oorgegee nie, nooit uitverkoop nie? Is dit omdat hulle weier dat Jesus hulle doop met die Heilige Gees?

“En as Hy (die Heilige Gees) kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde...” (Johannes 16:8). Kan dit wees dat hierdie gelowiges nie oortuig is van sonde nie, omdat die Heilige Gees nog nie intrek geneem het nie – dat Hy nog nooit ingenooi is om Sy regmatige plek in hulle in te neem nie? As die Heilige Gees inwonend was, sou Hy oortuigend, deursoekend wees – en hulle by die Woord hou. Hy is God se loodlyn. Enigiets wat nie opweeg met Christus nie, openbaar Hy – en Hy oortuig ons van sonde en bemagtig ons om in ooreenstemming met Sy Woord te kom! Hy word waarlik ons Trooster hierin omdat, wanneer Hy ons van sonde oortuig, Hy ons bemagtig om daarvan ontslae te raak. Dit is ware troos!

Jy moet gewillig wees om van fatsoenlikheid ontslae te raak! Dit is jou trots: etiket – vroomheid – styfheid!

In beide die Ou en Nuwe Testamente, het die Heilige Gees geval op mense op die mees ongewone maniere! Hy het geboue geskud. Mense se tonge het Hom begin prys – in nuwe tale. Die Heilige Gees het volle beheer oorgeneem!

By Pinkster het Hy gekom met ‘n magtige, rukwind! Vuur het geval! “En hulle almal is vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Handelinge 2:4). Kan jy jou indink hoe hierdie skare vir verbygangers gelyk het – 120 mense, wat tegelykertyd almal God verkondig en Hom prys in verskillende tale? Dit moet soos ‘n dronk chaos gelyk het!

Wanneer die Heilige Gees val, word dinge in beroering gebring. “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Handelinge 4:31).

Sommige sê, “Die Gees het geval by Pinkster. Ons hoef nie meer te bid dat Hy nóú op ons val nie.” Maar dwarsdeur die Boek van Handelinge, ná Pinkster, het die Heilige Gees steeds op gelowiges geval!

Hy het op die huis van Cornelius geval: “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het” (Handelinge 10:4). Weereens het hulle in tale gepraat!

Hy het by Éfese geval: “En die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer” (Handelinge 19:6).

Die Heilige Gees sal jou nooit iets dwaas laat doen nie. Maar Hy sal op so ‘n manier op jou kom dat sondaars mag dink jy is dronk! Hy is nie welkom in baie kerke nie, omdat Hy kamtig te lawaaierig, te ontstellend en te onvoorspelbaar is!

Die Heilige Gees word deur geloof ontvang!

“Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Galásiërs 3:2). Gelowiges, hierdie boodskap behoort jou geloof aan die brand te steek, - en deur geloof moet jy besit neem van God se wonderlike beloftes! “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).

Die Here het gesê, “Maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul” (Psalm 81:11). Deur te bid vir die gawe van tale behoort nie ons fokus te wees nie; ons moet bid om gedoop te word in die Heilige Gees – en in tale praat is ‘n uitdrukking van Sy inwoning.

Het jy al vir God hierdie gawe gevra? Soek jy die Heilige Gees? Klop jy voortdurend?” “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan dié wat Hom bid?” (Lukas 11:13).

Vra bloot en jy sal ontvang! Soek jou hemelse Vader vir die doping van die Heilige Gees, en Hy sal dit vir jou gee!

Hier in New York Stad het ons ons desperate behoefte besef om voortdurend gevul te wees met die Heilige Gees, altyd afhanklik van Sy krag en teenwoordigheid te wees, en ten volle te vertrou op Sy vermoë om die onmoontlike te doen. Byvoorbeeld, ons is gelei om te bid vir MOEILIKE GEVALLE – bid in die Heilige Gees vir die saligheid van diegene wat beskou word as te ver heen om gered te word: die pornograwe, die dwelmhandelaars – die goddeloosgesindes, groot besigheidsmanne wat alle sin van sedelikheid verloor het.

Ons sien groot wonderwerke as gevolg daarvan. Die boosste, goddeloosgesinde sondaars word vreemd oortuig van die Heilige Gees: en hulle maak reg met God.

Die Heilige Gees is die SNUFFELHOND VAN DIE HEMEL, en Hy jag oral sondaars en die afvalliges. Hulle verval in ‘n verskriklike “ellende” en begin om vir die eerste keer hulle sonde te haat. Hulle voel ‘n drang om geestelike hulp te soek. Dit, my vriende, is die kragtige bediening van die Heilige Gees.

Ons beleef ‘n woedende duiwel wat los rondloop in ons wêreld vandag. Hy stel al die mag vry op sy bevel; en legioene van bose magte grawe hulself in vir die laaste konflik teen die hemel. Dit gaan meer verg as die dooie, magtelose godsdiens, wat beoefen word deur die meeste denominasies. Ons hedendaagse kerkprogramme is dwaas – vleeslik – en lagwekkend vir die hel. Demoniese hordes sal bloot oor afvallige, afgedwaalde Christene en herders loop. Onrein, onheilige Christene is swak, magteloos en bang vir Satan se mag. Hulle kan net so min Satan se aanvalle keer as wat ‘n mier ‘n gepantserde tenk kan keer.

Maar Satan kan nie opstaan teen ‘n regverdige, Heilige Gees-vervulde kind van God wat in geloof en gehoorsaamheid wandel nie. Wys vir my ‘n gelowige wat waarlik die Heilige Gees besit, en ek sal vir jou een wys wat die legioene van die hel op die vlug laat slaan.

Ons het nie groter kerke of meer Christen TV of meer gesofistikeerde godsdienstige metodes nodig nie! Ons het meer Heilige Gees-gedoopte heiliges nodig – afgesonder en geheilig – wat sal lewe en wandel en spreek in die krag wat aan hulle gegee is! Ons moet op ons aangesigte wees en uitroep tot God vir ‘n nuwe Pinkster: dat die Heilige Gees weer op ons, ons kerke, ons herders en evangeliste sal val – en ons eens en vir altyd sal reinig van alles wat onrein en vleeslik is.

God, stuur die Heilige Gees! Val op ons! Doop ons magtiglik. En stuur ons uit teen sataniese vestings met ‘n ongekompromitteerde geloof dat Hy sal seëvier in ons tyd!