Jy Het ‘n Trooster!

Ek is besig om iets baie wonderlik oor die Heilige Gees te leer. Hy het ‘n baie unieke eienskap: Hy hou nie daarvan oor om Homself te praat nie. Hy maak Homself nie die belangrikste onderwerp van ons aandag nie.

Ek het ernstig probeer om die Heilige Gees te bestudeer en het gedelf in hele volumes oor Hom geskryf deur gerespekteerde outeurs. Sommige van hierdie boeke is baie diepsinnig en dikwels moeilik om te verstaan – boeke oor Sy natuur en persoonlikheid. Dit is alles baie interessant...maar nie altyd geestelik opbouend nie. Dit kan in werklikheid nie geestelik opbouend wees nie. Omdat jy net van die Gees kan verstaan wat die Gees Self openbaar – en Hy sal nie oor homself praat nie!

Ek het probeer delf in die betekenis van die Heilige Gees se name – Parakletos, Advokaat, Voorbidder – en gekyk vir een of ander insig in wie Hy is. Maar ek het uiteindelik besef, ons Christene hoef nie die persoon van die Heilige Gees te verstaan nie – omdat Hy nie vir ons die verborge dinge oor Homself wil vertel nie. Al wat ons hoef te weet, is dat Hy een van die Godheid is: ewig, die ware Gees van Christus, afgestuur na die aarde om te leef in ons wat glo. En Sy oë is altyd op Christus!

Jy sien, die Heilige Gees wil nie hê ons moet van Homself so baie weet as van Sy sending nie – en daardie sending is om ons na Jesus te bring en ons te bewaar in reinheid en heiligheid. Hy is altyd aan die werk en maak Christus in ons harte bekend, en Hy verbly Hom in ons soeke na wysheid oor waarom Hy gekom het.

Jesus het gesê, “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:13-14).

Jesus het gesê, "Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:18).

Toe Christus dit gesê het, het Hy voor Sy dissipels op die Berg van Verheerliking gestaan. Hy het Sy uitverkorens vir ‘n laaste oomblik van gemeenskap bymekaar gekry, voor Hy in die hemel opgeneem sou word. En wat ‘n treurige spul was hulle nie!

Hulle enigste bron van vertroosting op die aarde sou van hulle af weggeneem word. Jesus was hulle Leidsman, hulle Meester, hulle vreugde, vrede, hoop en liefde. En Hy sou hulle fisies verlaat, en ek is seker hulle het gedink:

Wie gaan ons nou lei? Waarheen sal ons gaan vir die woorde van die ewige lewe? Hy is God in die vlees – en Hy verlaat ons! Hy het ons beveel om in die wêreld in te gaan en die evangelie in sy Naam te verkondig. Maar waar sal die krag en gesag vandaan kom? Hy is al wat ons nog ooit geken het. Ons het ons hele wêreld rondom Hom gebou.”

Jesus het hulle gedagtes gelees. En Hy het geweet wat hulle sou beleef: vervolging, swaarkry, armoede, verlies van alles, die verwoesting van hulle aardse goed, om voor regters gesleep te word en om gemartel te word ter wille van Sy Naam.

Tog twyfel ek of baie – indien enige – van daardie dissipels Jesus se onsterflike woorde begryp het: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Jesus het in wese gesê: “Ek sal  julle nooit oorgee aan die kloue van Satan nie! Ek sal nooit toelaat dat julle julle stryd alleen stry nie. Ek weet wat julle gaan beleef – maar Ek ken die Vader se wonderlike plan vir julle. As julle dit verstaan het, sou julle harte gejuig het. Julle sou spring van vreugde omdat Ek na my Vader gaan.”

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid...omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16-17). Jesus het in wese gesê, “Ek verlaat julle as een mens – God in die vlees – en Ek sal na julle toe terugkeer as Gees.” En die Heilige Gees is inderdaad, in wese, die ware Gees van Christus.

Jy mag dalk vra, is die Heilige Gees nie aan die hele mensdom gestuur nie? Sê die Bybel nie dat die Gees op alle vlees uitgestort sal word in die laaste dae nie?”

Ja, die Heilige Gees is na die wêreld en sondaars gestuur vir een doel: om te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. “En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Johannes 16:8).

Eerstens, Hy oortuig van sonde: “Van sonde, omdat hulle in My nie glo nie” (Johannes 16:9). Die Gees openbaar alles wat sonde is, gebaseer op een basis: ongeloof. Dit beteken bloot ongeloof in die krag en die bloed van Jesus Christus om te red en te verlos van sonde.

Tweendens, Hy oortuig van geregtigheid: “En van ongeregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie” (Johannes 16:10). Terwyl Jesus na Sy dissipels gekyk het, het Hy gesê, “Julle wat my sien opvaar na die hemel is getuies van my geregtigheid – want God sou nie ‘n onheilige man na die hemel laat opvaar nie. Die Heilige Gees sal deur julle vir die wêreld sê, ‘Julle het Hom ‘n duiwel, ‘n vraat, ‘n wynsuiper en ‘n indringer genoem. Maar hoe verduidelik julle dat Hy in die hemel opgeneem is deur die Vader?’”

Derdens, Hy oortuig van oordeel: “En van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld  geoordeel is” (Johannes 16:11). Die Heilige Gees getuig aan die wêreld dat daar nou vryheid vir alle mense is – omdat Jesus Christus die mag van Satan geoordeel en vernietig het deur die Kruis.

Hoewel die Heilige Gees egter uitgestort is op alle mense op hierdie manier, leef en woon Hy tans nie in die hele wêreld nie. Nee, tans woon Hy slegs in diegene wat waarlik weergebore is, wat deur geloof in sy volmaakte werk aan die Kruis wandel. En Hy verlang daarna om Hom ten volle beide in hulle en aan hulle bekend te maak.

Die Gees was nie na ons gestuur as ‘n passiewe, swak invloed nie. Baie Christene dink aan die Heilige Gees as een of ander dierbare, onskuldige mis wat oor die aarde gespuit is – ‘n vertroostende, goddelike atmosfeer wat hulle lewens vul. Sommige glo al wat hulle hoef te doen, is bloot om “Hom in te asem”!

 Nee – die Heilige Gees is ‘n persoon, met ‘n persoonlikheid. Hy is so werklik in die Gees soos wat jy in die vlees is. Hy het ‘n verstand, oë, ore en gevoelens. Jy kan nie aan Hom dink in ‘n menslike vorm nie – maar Hy hoor en praat.

As Jesus skielik langs jou moes verskyn en saam met jou wandel, sou jy met Hom praat? Sou jy vrae aan Hom stel of versoeke aan Hom rig? Sou jy jou hart vir Hom oopmaak en aan Hom vertel waardeur jy alles gaan? Natuurlik sou jy!  En God het sy Heilige Gees aan ons op aarde gestuur om so persoonlik vir ons te wees!

Ek het onlangs vir die Heilige Gees gesê, “Ek lees in die lewens van die dissipels dat U duidelik met hulle gepraat het. Heilige Gees, as U ooit met iemand ná die Kruisiging gepraat het, praat dan met my ook!” Hy het my geantwoord, “Ek sal, David, as jy sal erken hoe persoonlik Ek vir jou is.”

Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, het hierdie hartseer waarheid in my hart ontplof: Ons glo die Heilige Gees is na die wêreld gestuur. Maar dit is vir ons moeiliker om te glo dat Hy vir ons as individue gestuur is – dat ons kan sê, “Hy is myne!”

Wanneer die Heilige Gees ons harte binnekom, maak Hy ons verhouding met die Vader en met Jesus persoonlik.

Die Heilige Gees het ‘n manier om ons verhouding met God die Vader en met Jesus te vereenvoudig. Hy is die Een wat ons leer om te sê, “Abba, Vader.”

Hierdie frase verwys na ‘n oosterse gewoonte van Bybelse dae, met betrekking tot die aanneming van ‘n kind. Totdat die aannemingspapiere geteken en geseël is deur die aanneem pa, het die kind hierdie man slegs as ‘n vader gesien. Hy het geen reg gehad om hom Abba, wat “my vader” beteken te noem nie.

Sodra daardie papiere egter geteken, geregistreer en geseël was, het die kind se leermeester hom aan die aanneempa voorgestel - En vir die eerste keer kon daardie kind “Abba, Vader!” sê. Terwyl die vader hom omhels het, het die kind geroep, “My vader! Hierdie man is nie meer ‘n vader nie. Hy is myne.”

Dit is die werk en bediening van die Heilige Gees. Hy leer jou van Christus. Hy stel jou aan die Vader voor. En Hy hou aan om jou te herinner, “Ek het die dokumente verseël. Jy is nie meer ‘n weeskind nie – jy is wettig ‘n seun van God! Jy het nou ‘n baie liefdevolle, ryk, magtige Vader. Omhels Hom – noem Hom ‘my Vader.’ Ek het gekom om vir jou te wys hoe baie lief Hy vir jou is! Hy sou jou nie aangeneem het toe jy wild, sondig en rebels was nie, tensy Hy jou liefgehad het en jou wou hê!”

Dink aan die miljoene wat elke dag hel toe gaan. Maar God het jóú gekies. En nie net het Hy jou gekies nie – Hy het jou ook aangeneem! Hy het die dokumente geteken en verseël deur die Heilige Gees, sodat jy die Vader joune kon noem – sodat jy kon uitroep, “Abba Vader!”

Hierdie uitroep moet een wees van oorvloedige blydskap en danksegging. Die gees in ons roep letterlik uit, “Jy is ‘n erfgenaam, een wat alles beërwe wat Jesus gewen het. En wat ‘n erfenis het jy, omdat jou Vader die rykste in die hele heelal is! Moenie van Hom af wegskram nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Hou op om op te tree soos ‘n weeskind wat armoedig en sonder blydskap en geestelike oorwinning is. Jy is nie alleen gelaat nie – so geniet Hom!

“Hy is jóú Vader. Jesus is jóú Here, jóú broer, jóú vriend, jóú Bruidegom. En Ek is ook gestuur net vir jou, om jou te lei, te verdedig en te bewaar. Ek is joune! Ek leef in jou hart, en Ek wil intiem met jou wees. Ons moet saam stap en gesels!”

Geliefde, ek het agtergekom dat ek nie langer my gebedskamer veroordeeld hoef binne te gaan nie, omdat ek hierdie kennis het. Ek weet my sonde is onder die bloed. Ek weet die Heilige Gees het vir my krag gegee om in Sy heiligheid en geregtigheid te wandel. En ek kan Sy teenwoordigheid binnegaan en sê, “Heilige Gees, ek weet U vul die hele wêreld – maar U is ook myne. U leef in my! Jesus het gesterf vir die hele wêreld – maar Hy is ook mý Redder!”

“Want julle het nie ‘n ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is...erfgename van God...mede-erfgename van Christus” (Romeine 8:15-17).

Het jy ‘n kykie gehad in jou eie “aannemingsdokumente”? Hulle is reg voor jou – in jou Bybel. En die Heilige Gees is die seël wat verklaar, “Jy is deur die hemelse Vader aangeneem!”

Die Heilige Gees is op ‘n liefdesending aan ons gestuur.

Die Gees se taak is om Christus se bruid te troos in die afwesigheid van die Bruidegom, Christus. “Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16). “Die Trooster, die Heilige Gees” (Johannes 14:26). “Maar as die Trooster gekom het” (Johannes 15:26).

“Trooster” beteken een wat troos in ‘n tyd van pyn of smart – een wat pyn en hartseer verlig, verligting bring, vertroos en bemoedig. Maar ek hou van die volgende definisie uit die Grieks: “Een wat jou op ‘n warm bed van veiligheid neerlê.” Gedurende die koue, donker nag van jou siel, lê die Hy jou neer op die sagte bed van Sy vertroosting, en vertroos jou met sy sagte hand.

Deur die Heilge Gees die Trooster te noem, het Jesus ‘n onfeilbare voorspelling gemaak. Hy het voorspel dat Sy mense sekerlik ongemak sou ly en vertroosting nodig sou hê – dat daar baie pyn en lyding sou wees onder Sy kinders in die laaste dae.

Voor Christus, het die Gees aarde toe gekom op goddelik bepaalde tye – as Skepper, as Openbaarder van goddelike waarheid, as Werker van groot wonderwerke. Maar slegs aan ons wat in hierdie laaste dae leef, is Hy gestuur as die Trooster.

Jy mag moontlik sê, “Ek het my hele lewe lank gehoor dat die Heilige Gees my vertroos. Maar hoe vertroos Hy my? Ek het dit nou nodig, omdat ek probleme en moeilikhede het.” Sy antwoord aan jou word bevat in twee eenvoudige sinne:

“Jy is geliefd. En jy is op pad!”

Eerstens, bring die Heilige Gees vertroosting deur jou te herinner dat Hy in jou lewe met al die krag van God wat inherent in Sy wese is. En dit is waarom jy kan sê, “Groter is Hy wat in my is as al die magte van die wêreld saam – insluitende alle demoniese magte.” God het die Gees gestuur om al Sy krag te gebruik om jou uit die kloue van Satan te hou – om jou gees op te lig, om alle wanhoop weg te dryf en jou siel te vul met die liefde van jou Vader.

“Maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk...en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:3,5).

Die New American Standard Bybel sê God se liefde word “in ons harte uitgestort,” in elke hoekie en skeurtjie van ons wese. Dit beteken, wanneer jy in die moeilikheid is...wanneer verdrukking kom...wanneer jy nie weet waarheen nie...in jou moelikste en mees onstellende oomblikke – stop alles! Praat met die Heilige Gees binne-in jou. Vra Hom, “Wat het U vir my hieroor te sê, op hierdie presiese oomblik?”

Dink jy dat die Heilige Gees sal bystaan sonder om iets daaromtrent te doen? Sal Hy passief staan as jy uitmekaar getrek word – as Hy die Een was wat daar was toe jy in die moederskoot gevorm is?

Nee, nooit. Op sulke tye, sal die Heilige Gees vir jou die volgende sê,  “Drink die Vader se liefde vir jou in!” Die Heilige Gees stort voortdurend die Vader se liefde in jou hart uit. Sal jy dit ontvang?

Dit is ‘n absolute belediging vir die Heilige Gees vir jou om voort te gaan om dag na dag, jaar na jaar, te leef asof jy ‘n magtelose, hulpelose weeskind is. Dit is skrikwekkende ongeloof om vreesagtig en angstig te bly oor môre, en jou te bekommer asof die Heilige Gees binne-in jou weg is op een of ander reis en uit voeling is met jou behoeftes.

Nee, die Heilige Gees gaan nooit op reis nie – Hy het gekom om te bly! Hy bring troos in jou verdrukking, en Hy praat hard en duidelik in jou tye van beproewing: “Moenie skaam wees vir jou beproewings en verdrukkinge nie. Hou aan opstaan! God werk geduld in jou, Hy bou ervaring in jou op. En Hy het jou lief te midde van jou pyn!”

Die Heilige Gees vertroos ons op nog ‘n wonderlike manier. Hy fluister vir ons:

“Terloops, jou tasse is gepak. Jy is ‘n erfgenaam, en jy gaan nie meer hier wees vir baie lank nie. Waarom raak jy so ontsteld oor alles? Jy gaan binnekort al hierdie probleme agterlaat! So, juig – jy het ‘n plek gereed in die hemel. Jy het ‘n afspraak, ‘n ewige doel. En Ek is hier om toe te sien dat jy daar uitkom!

Die Heilige Gees sal jou vul met die wete dat God jou liefhet.

Dit is op hierdie punt dat menigtes gelowiges God teleurstel. Hulle is gewillig om oortuig te word van sonde en mislukking, oor en oor. Maar baie sal nie toelaat dat die Heilige Gees hulle vul met die liefde van die Vader nie.

Die wettiese mens hou daarvan om onder veroordeling te lewe. Hy het nog nooit die liefde van God verstaan of toegelaat dat die Gees daardie liefde aan sy siel bedien nie. Hy sal veroordeling aanvaar, maar hy laat nie toe dat die Gees hom in die liefde van God doop nie. Die gevolg is dat hy nooit geliefd voel nie. Daarom leef hy onder voortdurende slawerny om sy liefde aan die Vader te moet bewys.

Ons by Times Square Church onderrig dat die regverdige mens, die ware liefhebber van Jesus, tugtiging liefhet. Hy leer om die Heilige Gees se openbaring van alle verborge gebiede van sonde en ongeloof in sy lewe te verwelkom – omdat hoe meer hy met sonde afreken, hoe gelukkiger en vryer word hy.

Die gesindheid wat ek egter in talle Christene sien, is, “Hou aan om my te oordeel, Here – veroordeel my, slaan my.” Dit is nie dieselfde ding as ‘n ware oortuiging nie. Byvoorbeeld, ek sien dit in baie reaksies op my nuusbrief boodskappe. Wanneer ek ‘n boodskap skryf wat oordeel uitbasuin, kry ek oorweldigende goedkeurende reaksies.

Maar wanneer ek egter deel oor die lieflikheid en liefde van Christus, ontvang ek briewe wat sê, “Jy preek nie meer die waarheid nie!” Dit is asof hierdie mense sê, “As jy nie teregwys nie, dan kan dit wat jy verkondig, nie die evangelie wees nie? Sulke gelowiges het nog nooit die groot liefdesending van die Heilige Gees betree nie.

My dogter Bonnie is getroud en het twee kinders. Tans beleef sy ‘n tyd van diepe beproewing en beveg kanker met behulp van die Heilige Gees. Dit is waarskynlik die ergste oomblik van droefheid in my verhoudig met haar as ek haar sien ly.

Te midde van al hierdie dinge, het sy vir my gesê, “Pa, ek het nog altyd vir Pa ‘n moeilike tyd gegee, het ek nie? Ek was nooit die soort dogter wat ek moes gewees het nie. Ek het jou soveel pyn veroorsaak.”

O, hoe verkeerd was sy nie! Dit was glad nie waar nie – ek het haar nooit op daardie manier gesien toe sy grootgeword het nie. Ek het die goeie in haar gesien, die liefde. Sy was altyd spesiaal – nooit teleurstellend nie.

Dít is egter die manier waarop so baie kinders van God hulleself sien vandag. Hulle voel soos weeskinders wat nooit regtig hulle Vader kan behaag nie – een wat altyd struikel en Hom teleurstel.

Hoe seer maak dit God! En as jy so voel, is dit ‘n belediging vir die Heilige Gees – omdat jy nie die deel van Sy werk raaksien om vertroosting vir jou hart te bring nie Hy troos jou met die wete dat jy geliefd is, dat jy aangeneem is – en dat Hy met jou is om jou deur al die swaarkry en probleme te dra.

Dit is ‘n area waar ons almal moet leer om in die Gees te wandel – en nie deur gevoelens nie! Ek het in my laaste boodskap geskryf dat om deur die Gees te wandel, beteken om toe te laat dat die Heilige Gees in ons doen waarvoor Hy gestuur was om te doen. En dit beteken om Hom toe te laat om jou hart op hierdie oomblik te vul met die liefde van God! “Omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5).

Miskien is jy beroof van God se liefde as gevolg van wettiesheid. Jy gaan kerk toe, maar is in slawerny en vrees vasgevang, omdat jy soos my dogter Bonnie, dink jy het vuil hande en dat jy die swartskaap is. Jy weet nie hoe om te sê, “My Vader – Abba, Vader” nie.

Mag God jou vandag daarvan verlos! Die Heilige Gees het nie gekom om jou te veroordeel nie – Hy het gekom om die wêreld te oortuig en te oordeel. Hy het gekom om jou te wys dat jy aangeneem is deur die Vader en dat Hy jou baie liefhet!

Die Heilige Gees sal vir jou op hierdie dag sê, “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.”

Jesaja het gesê, “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word” (Jesaja 66:13). Jesaja het hierdie woorde vir ‘n hardnekkige volk van God geskryf wat “afkerig voortgegaan [het] op hulle eie weg” (Jesaja 57:17).

Sê vir my –  hoe lank sal ‘n onderwyser uithou met ‘n hardnekkige, koppige student wat instruksies weier? Hoe lank sal ‘n berader geduldig wees met iemand wat weier om na enige raad te luister?

Nie baie lank nie! Maar die profeet Jesaja neem een van die beste voorbeelde onder die mensdom moontlik – dié van ‘n moeder se liefde vir haar kind – en wys ons iets van die liefde wat die Vader vir ons het.

Ek het al baie foto’s gesien in New York Stad koerante van ‘n moeder wat langs haar beskuldigde seun in die hofsaal inloop. Sy sit getrou dwarsdeur die verhoor en hunker na haar seun. Sy luister na die bewyse wat ophoop – en sy huil. Sy is daar wanneer hy opstaan om gevonnis te word. En wanneer hy weggelei word en omdraai om totsiens te waai, gooi sy vir hom ‘n soentjie en huil terwyl hy tronk toe geneem word. Maar sy gee nooit op op hom nie!

Een moeder in ons kerk neem een hele dag om haar seun in ‘n plattelandse tronk te gaan besoek. Sy klim op ‘n bus en ry vir ure, net om hom vir ‘n kort rukkie te sien. So ‘n moeder sal na haar seun in daardie vaal tronkdrag kyk en die pyn in sy oë sien – en elke besoek sal sy ‘n bietjie meer van binne-af sterf. Maar sy gee nooit moed op met hom nie. Hy is steeds haar seun!

Liewe leser, dit is die soort liefde wat die Heilige Gees wil hê dat jy moet weet God vir jou het. Hy troos ons deur vir ons te sê, “Jy het eens gesê dat jy jou alles vir Jesus gee. Jy het Hom jou liefde gegee, en Hy het jou steeds lief. En nou sal Ek jou ook nie laat staan nie. Ek is deur Hom gestuur om ‘n werk te doen – en Ek sal dit aanhou doen!”

Daar is geen ware troos vir enigeen op aarde, behalwe die troos van die Heilige Gees nie. Mense hardloop na beraders, sielkundiges, vriende, priesters, bandopnames, lesings, seminare en groepsessies toe. Maar hoeveel vertroosting kry hulle? Nie genoeg om tot by die huis te hou nie! Dit is alles verniet; die pyn kom steeds terug. Nee, die wêreld het niks te bied aan ‘n hartseer gees nie: “Die wêreld het Hom nie geken nie” (Johannes 1:10).

Dit is waarom jy nodig het dat die Heilige Gees in jou woon. Hy alleen kan jou in die nag neerlê, soos in ‘n warm bed en jou hart met volmaakte vrede vul. Hy alleen kan jou waarlik troos in jou tye van pyn en droefheid. Hy is die Een wat jou sal verseker, “Hierdie vertroosting is nie net tydelik nie – dit is vir ewig! Jy sal dwarsdeur die ewigheid vertroos word!”

Het jy gevra vir die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees? Moet dan nie vir tekens soek nie – smag net na meer van Jesus. Sê bloot, “Jesus, bring my hart in verrukking; Heilige Gees, kom en neem van my besit. Wees my Trooster en Leidsman.”

Bid eenvoudig in geloof, glo – en vertrou dat jou liefdevolle, hemelse Vader nie vir jou ‘n klip gee as jy vir ‘n brood vra nie. Hy sal vir jou die Trooster stuur!