JY IS ‘N LEWENDE BOODSKAP VIR ALMAL OM TE SIEN

David Wilkerson (1931-2011)

“Daarom…gee ons nie moed op nie...maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (2 Korinthiërs 4:1-2). Die apostel Paulus het gesê dat ons geroep is om die waarheid aan die lig te bring. Natuurlik weet ons Jesus is hierdie waarheid. So, wat bedoel Paulus deur te sê dat ons Jesus aan die lig moet bring?

“Aan die lig bring,” beteken om iets duidelik en verstaanbaar te maak. So, kortliks, sê Paulus ons is geroep om Jesus openlik bekend en verstaanbaar te maak aan alle mense. In elkeen van ons lewens, behoort daar ‘n uitstraling te wees van die natuur en gelykenis van Christus.

Paulus neem hierdie begrip van Christus uitstraal baie verder. Hy sê ons is in werklikheid God se brief aan die wêreld: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense...’n brief van Christus...geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart” (2 Corinthiërs 3:2-3).

Die vleeslike mens kan eenvoudig nie geestelike dinge verstaan nie. Hy beskou dit as dwaasheid. So, in plaas daarvan, het God gekies om sy Seun bekend te maak aan sondaars op ‘n mees effektiewe manier: deur Hom te openbaar met vlees en bloed sendbriewe, lewende boodskappe wat deur almal gelees kan word. Dit geskied slegs deur die werk van die Gees. Die oomblik waarop ons gered word, stempel die Heilige Gees die beeld van Jesus in ons en Hy hou aan om hierdie beeld in ons te vorm. Die Gees se sending is om binne-in ons ’n beeld van Christus te vorm wat so betroubaar en akkuraat is dat dit werklik mense se gewetens sal deurdring.

Die Heilige Gees doen dit deur van ons verloste harte en oorgegewe liggame besit te neem en ons voortdurend te trek tot in Jesus se teenwoordigheid. Daar word ons gedring tot ‘n heilige lewe.

As jy meer tyd met Hom deurbring, sal sy beeld in jou groei en jou lewe sal so ‘n kragtige openbaring word van Jesus dat diegene rondom jou aangeraak en in beroering gebring sal word.