JOU VADER KOM SY BELOFTES NA

David Wilkerson (1931-2011)

Getsémané was die tuin waar Jesus gaan bid het toe sy beproewing verpletterend geword het en sy beker Hom oorweldig het. Dit was waar Hy sy diepste smarte voor die Vader uitgehuil het. En dit was ook waar Hy die stryd oor elke bose owerheid en mag gewen het.

Sommige Christene sê vandag: “Ons is nie 'n geslag van trane nie. Ons is geroep om fees te vier en is beveel om alles deur geloof in besit te neem. Ons kan die Woord spreek en elke berg sal verskuif word. Ons moet net God se goedheid bepeins.” Dit is die houding van die voorspoedige hedendaagse kerk.

Ek stem saam dat ons God ‘n God van liefde is, en ja, ons moet voor Hom feesvier. Maar daar kom ‘n tyd wanneer ons beproewings so oorweldigend is dat ons niks anders kan doen as om voor sy troon te huil nie. Dit het met Jesus gebeur, maar Hy het nie in ongeloof gesondig toe Hy in Getsémané gebid het nie. Inteendeel, Jesus het aan sy volk gewys hoe om mag en gesag oor alle sataniese magte te verkry.

Beskou Jesus se gebede in Getsémané:

  •  “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). Sy uitspraak sê in wese: “Dit is onbegryplik en as dit voortgaan, sal dit My doodmaak.”
  • Jesus het verder gegaan, “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” (26:39). Het jy al ooit in soveel angs gebid dat warm trane strepe oor jou gesig getrek het?

Jesus het die “uiteindelike gebed” gebid in Getsémané, wat die laaste gebed beteken wat berge sou skuif en die hel sou skud. Dit was eenvoudig die volgende: “Nie soos ek wil nie, maar soos U wil.” Jy mag dalk in gebed oor ‘n situasie geworstel het. Jy vertel vir God hoe jy gevas en gebid, geklop, gesoek en geglo het, en tog gebeur dit wat jy wil hê nie. Dit het ‘n regte stryd in jou gees geskep.

Ek moedig jou aan om alles in sy hande oor te gee en na die rusplek te gaan wat Hy gereed gemaak het (Hebreërs 4:1). Hy het belowe: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees” (2 Korintiërs 6:18). En jou Vader kom sy beloftes na!