JOU UITROEP BEWEEG GOD SE HART

David Wilkerson (1931-2011)

Die Woord van God is getuie tot die feit dat verdrukkings ons leer om ons knieë te buig en tot die Here uit te roep in al ons probleme en moeilikhede.

“Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Psalm 119:67).

“Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat u my uit getrouheid verdruk het” (Psalm 119:75).

In die laaste vers, sê Dawid, “Here, ek weet waarom U my verdruk het. U het gesien dat toe alles goed gegaan het, het ek weggedwaal en roekeloos geword. Daarom het U toegelaat dat swaarkry oor my kom. U het geweet dit sou my na my knieë dryf en my terugbring na gebrokenheid. My verdrukking was ‘n bewys van U getrouheid aan my!”

Ons moet iets begryp oor die hart van God – dat God seer het wanneer ons seer het! Hy voel ons verdrukking saam met ons, maak nie saak wat dit is nie. “In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd” (Jesaja 63:9).

Die Here het medelye wanneer Sy kinders ook al tot Hom roep uit hulle verdrukking. “[Israel se] geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor” (Exodus 2:23-24). Israel se uitroep het God se medelye opgewek. Elk keer wanneer Israel verdruk was, het God saam met hulle gely. Die Bybel leer ons dat selfs toe Israel teen die Here gesondig het en ellende oor hulle gekom het, “het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel” (Rigters 10:16).

Baie mense stry teen verskriklike verslawings in hulle lewens en versoekings woed daagliks binne-in hulle. Ek sê egter vir al sulke mense, “God gee om!” Ja, Hy ken die smart waardeur jy gaan en Hy alleen het die mag om jou te verlos. In elke stryd, leer Hy jou om tot die kruis te wend en om tot Hom uit te roep om verlossing!