IS JOU STRYD UNIEK?

David Wilkerson

Word jy van alle kante af verdruk en getoets bo dit wat jy kan verdra? Is jou krag amper gedaan en laat dit jou op die rand van moed verloor? As dit die geval is, wat is jou pad na oorwinning? Ek kan vir jou vertel hoe God aanhou om my deur te dra.

Eerstens, moenie dink jy beleef een of ander vreemde, unieke stryd nie. In teendeel! Jy is in goeie geselskap. Onthou jy Job, Jeremia, Elia, Dawid en Paulus? Wat jy deurgaan, was alledaags vir gelowiges deur die eeue heen.

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

Tweedens, wanneer jy dink jy kan nie een tree verder of een uur langer verduur nie, roep dan met alles wat in jou is uit na God, “Here, help!” Bepeins dan die raad van die psalmis:

“Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos. Saans, smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem. Hy verlos my siel in vrede van die stryd teen my, want met menigtes is hulle teen my ” (Psalm 55:17-19).

“Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos. . . Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom” (Psalm 18:4,7).

HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak” (Psalm 30:3).

En hier is ‘n sleutelvers: “Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie” (Psalm 72:12).

Jesus het die Heilige Gees gestuur om jou helper te wees en Hy sal nie jou hulpgeroep op dowe ore laat val nie!