JOU STRYD IS NIE GROTER AS GOD SE GENADE NIE

Gary Wilkerson

Ons kan nie die evangelie verstaan tensy ons die glorieryke natuur van ons ontsagwekkende God ken nie. “Verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet” (Efésiërs 1:18).

Die evangelie begin nie deur te erken dat jy ‘n sondaar is of besef dat God ‘n wonderlike plan met jou lewe het nie. Dit begin met begrip van die genade van ons glorieryke Vader.

Deur in die Here se teenwoordigheid te wees, word ons begrip verhelder maar nogtans is ons harte gebroke voor ons kragtige, ontsagwekkende God. Paulus sê hier, “Ek wil jou oë oopmaak vir die werklikheid van die karakter van hierdie manjifieke God wat ons dien. Hy is nie klein, kleinlik of onbelangrik nie. Hy is die een, ware God en Hy wil hê ons oë moet oopgaan vir die openbaring van sy natuur.”

Moses het ‘n honger en ‘n dors gehad om te weet wie God was – hoe sy natuur en karakter was – en hy het uitgeroep, “Laat my tog u heerlikheid sien!” (Exodus 33:18). Maar Moses kon nie God se gesig sien nie, omdat Hy ver te glorieryk was. God het eerder na hom gekom met ‘n eenvoudige openbaring: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartig en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierendheid en trou, wat goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6-7).

Bid dat God jou oë sal oopmaak sodat jy kan weet “wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is” (Efésiërs 1:18-19).

Beskou die uitnemende grootheid van God. Moet nooit dink dat jou probleme groter is as God se vermoë om dit op te los nie. Moet ook nie dink jou stryd met die vlees is groter as sy krag om dit te oorwin nie. En terwyl jy sy grootheid erken, dank en maak groot die Naam van die Here vir alles wat Hy vir jou gedoen het deur sy wonderlike genade.