JOU STILLE VERTROUE

David Wilkerson

“Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jeremia 17:7-8).

Ons sien in vers agt dat die een wat God vertrou gedurende moeilike tye, is “geplant.” Hy is diep gewortel, stabiel en vrugbaar, altyd groen met nuwe lewe. Wanneer dinge in sy lewe droog en moeilik word, sal hy nie bang wees nie.

Herdie mens sê, “Jesus, ek hou op om te kyk na enige mens om my uit hierdie beproewing te verlos. Ek wend my na U alleen! U is my enigste bewaarder, my enigste hoop en ek kyk na U om my sterk te hou en deur te dra tot by oorwinning.”

Die Here begeer hierdie soort geloof van ons in ons alledaagse lewens. Jy mag sê, “Maar, Broer Dave, ek is steeds werkloos en dinge gaan regtig broekskeur.” Ek moet egter glo wat ons in God se Woord lees: “Vertrou My en jy sal geseën wees.”

Jy mag antwoord, “Maar ek weet nie wat ek gaan doen nie. Die storm woed rondom my en alles lyk heeltemal hopeloos. Ek sien geen teken van verlossing nie.” En oor dit alles sê God steeds, “Vertrou My, My kind, en jy sal geseënd wees.”

Jou beproewing mag wees met jou familie, jou besigheid, of jou voorsiening. Maar as jy aanhou om jou algehele vertroue in Sy Woord en Sy getrouheid te plaas, beloof God om jou te seën. En Hy kan nie lieg nie!

Wanneer die hitte kom, sal jy nie omgee nie. Wanneer die wind waai, sal jy sterk staan. Waarom? Omdat jy sou geleer het om Hom te vertrou ten spyte van al jou ontstellende omstandighede. Jy sal ‘n groen boom wees en oorvloedige vrugte van vertroue dra, en almal rondom jou sal hoop en bemoediging gegee word as hulle jou stille vertroue sien.