JOU OË TOESLUIT VIR DIE BEHOEFTIGES

David Wilkerson (1931-2011)

Wanneer die Here iemand aanraak en hy op sy knieë gedryf word, word Hy intiem met Christus. Hy betree ‘n plek van rus en begin om Christus te dien met nuwe passie en groter liefde.

Die dienskneg word ook meer bewus van die naderende Oordeelsdag want hy weet dat God hom dan een groot vraag sal vra: “Hoe het jy Christus voorgestel aan ‘n verlore wêreld?”

Dit is die enkele maatstaf van hoe ons geoordeel sal word op daardie dag. Dit maak nie saak of ons afgesonder het met God soos Moses, groot openbarings ontvang het soos Daniël, geheilig is soos Paulus, of met vrymoedigheid gepreek het soos Petrus nie. Almal sal geoordeel word deur hierdie een maatstaf: hoe het jou lewe weerspieël wie Jesus is en hoe Hy is?

Een van die laaste boodskappe wat Jesus verkondig het aan sy dissipels voor sy kruisiging, word gevind in Matthéüs 25. Christus se woorde het hulle ‘n nuwe gesindheid van liefde en besorgdheid vir die armes gegee en dieselfde boodskap het my veranderings in my lewe en bediening laat maak. Daardie gedeelte van die Skrif is:

“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom” (Matthew 25:34-36).

Natuurlik kan niemand gered word deur goeie werke alleen nie, maar ons sal geoordeel word of ons net vir onsself lewe en ons oë toesluit vir die behoeftes van die armes en hulpeloses. Die Here verwag nie van jou om dit alles te doen nie, maar Hy verwag van jou om jou persoonlik te verbind tot direkte betrokkenheid by ten minste een gebied van nood. As jy ‘n begeerte het om sy gebod te onderhou, sal die Heilige Gees vir jou die weg wys.