JOU BESTE WERK LÊ VOOR

David Wilkerson (1931-2011)

As ek nou so terugkyk oor die jare, staan ek verstom as ek onthou van die hartseer, diepe waters en vuurvlamme wat ek beleef het. Selfs die herinneringe aan sommige van hierdie beproewings is pynlik. Tog, kan ek met sekerheid sê, “God se woord is waar. Hy het my deur elke beproewing gedra en ek loof Hom daarvoor!”

Ek is seker dat baie van julle wat hier lees, baie ontberings kan beskryf in jou verlede en dat jy ‘n storie het om te vertel. Hoe sal jou storie klink? As jy Jesus liefhet met jou hele hart, sal jou getuienis waarskynlik wees, “God het my nog altyd deurgedra. Ek het nog nooit heeltemal ondergegaan nie en al daardie dinge is nou iets van die verlede. Ek is steeds hier en ek prys steeds die Here!”

God is egter nie tevrede met 'n innige “dankie” van ons kant af nie. Hy sê, “Wag ‘n bietjie, my kind. Ek het jou nie deur al hierdie probleme en beproewings gedra net om van jou ‘n dankbare oorwinnaar te maak nie. Nee, Ek het ‘n groot belegging in jou gemaak en Ek sal nie toelaat dat jy jou ervarings mors nie. Jou beste werk lê nog voor!”

Toe Paulus ‘n ouer man was met jare van ervaring, het hy uit sy hart uit met sy vriende gepraat, “Op hierdie oomblik, sou dit vir my die wonderlikste ding gewees het as ek kon huistoe gaan en by my Vader kon wees. Dit is my innigste begeerte. Maar ek is 'n veteraan en ek weet ek is nou hier nodig. Hierdie geslag moet sien hoedat iemand wat so baie gely het, nog steeds kan jubel in alle beproewinge. Ander sal al hierdie dinge beleef wat ek beleef het en hulle moet weet dat God hulle deur dit alles sal dra. Ek het nie net oorleef nie, maar ek het met ware hoop oorleef. Ek jubel en loof die Here vir alles wat Hy vir my gedoen het” (sien Filippense 1:21-26).

Moenie dat jou lyding nutteloos wees nie. Wees vasbeslote om meer van God se liefde en getrouheid te leer te midde daarvan.