JESUS IS LIEFLIK

Gary Wilkerson

“Jesus is lieflik.” Ek huiwer om hierdie frase te gebruik, omdat dit so min krag dra om die ontsaglike werklikheid van Sy heerlikheid oor te dra. En ek gebruik nie “lieflik” op die manier wat ons gewoonlik gebruik as ons sou sê, “Is sy nie lieflik nie?” of “Is hy nie aantreklik nie?” Ons kan nie al die dieptes van Jesus se skoonheid peil nie – hoe heerlik, asemrowend, wonderlik, afgesonder, uniek en besonders Hy is.

Al hierdie eienskappe verdien om weer en weer en weer gesê te word. Jesus is teer, vriendelik, kosbaar. Hy is vol majesteit en grootsheid. Hy is wonderbaar, sterk, magtig, kragtig. Hy is briljant, wys, voortreflik. En Hy stel nooit teleur nie!

Hy struikel nooit, Hy is nooit swak nie en Hy word nooit vir een oomblik neergevel nie. Hy luister altyd na ons en Hy pleit altyd vir ons. Hy neem nooit ‘n ruskans om Satan vir ons te bestry nie en hou nooit op om ons lief te hê nie, selfs al struikel ons.

Die Bybel beskryf Jesus op maniere wat dit óns nooit sou beskryf nie. Jesaja sê daar was geen bedrog in Hom nie, wat beteken, Hy het geen valse motiewe gehad nie. Hy het nie gepreek om skares te lok of genees om mense te beïndruk nie. Dit sê ook Hy was op allerhande maniere versoek, wat beteken, Hy was onderwerp aan elke soort stryd wat ek en jy beleef. Hy is egter so lieflik dat Hy selfs tydens daardie versoekings sonder sonde was. Hy het in der waarheid van die Vader gesê, “Dit behaag My om U wil te doen.”

So, hoe het Jesus Homself beskryf? Hy sê Hy is sag en nederig van aard. Sy gebruik van die woord “nederig” beteken nie om Homself in die skaduwee te stel nie; Sy bedoeling is baie sterker en stel voor Hy het Homself gewillig verneder uit Sy regmatige posisie in die hemel om menslike vlees te word. Hy het sy heerskappy uit die hoogte eenkant toe geskuif om ‘n afhanklike vorm van goddelikheid aan te neem, sodat Hy as ‘n mens op sy Vader vertrou het om Hom te bemagtig om al Sy goddelike aktiwiteite op die aarde uit te voer. Praat van ware nederigheid! Wie gee mag prys wanneer hulle dit eers het? En niemand het die soort mag wat Jesus gehad het nie. Wat Hy gedoen het, was lieflik!