JESUS KOM WEER

David Wilkerson (1931-2011)

“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matthéüs 24:44).

Die Bruid van Christus moet in voortdurende, blye verwagting van sy naderende koms lewe, omdat Hy op enige tyd mag kom. Jesus het egter gewaarsku dat in die laaste dae, goddelose bedienaars die Kerk sal infiltreer om die Bruid aan die slaap te sus. Hulle sal probeer om haar hart van liefde vir haar Bruidegom weg te neem deur te beweer, “[Die] Heer talm om te kom” (24:48).

Hierdie evangelie word verkondig deur mense wat nie die prys wil betaal om Christus se gebooie te gehoorsaam nie. Hulle het sondige gewoontes en lei dubbele lewens, sodat hulle natuurlik nie wil hê Jesus moet weer kom nie. Daarom het hulle hule eie leerstelling saamgeflans om hulle voortgesette sonde te regverdig. Die Bybel sê dat diegene wat beweer dat Jesus sy koms vertraag, “slegte diensknegte” (sien 24:8) is.

Geliefde, moenie dat sulke leringe jou oortuig nie. Dit lei tot verskriklike wêreldsheid, met die gevolg dat enige motivering om heilig te lewe en enige passie vir Jesus vervaag. Sommige Christene maak ‘n kompromie en sê, “Waarom moet ek lewe in die verwagting dat Hy kom wanneer ek ‘n normale dood gaan sterf? Ek kan maak soos ek wil en dit voluit nastreef – partytjie hou en fuif! En, soos die dief aan die kruis, sal ek uitroep na Hom net voor ek sterf, ‘Here, wees my genadig!’”

Ek moedig jou aan sy koms te verwag! As jy deel is van die Bruid van Christus, sal jy só verlang na jou Here, dat jy nie sal kan wag om Hom te sien nie! Jy sal uitroep, “Here, ek is gereed vir U koms. Ek weet U is naby – ek kan dit voel – en ek kan skaars wag om U te sien. My hart roep uit binne-in my, ‘Kyk, die Bruidegom kom.’ Kom Here Jesus!”