IETS KOSBAARS VIR GOD

David Wilkerson (1931-2011)

“Jy, ellendige, deur storms gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes. En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 54:11-13).

Wat ‘n ontsaglike profesie! Die “edelgesteentes” wat in vers 12 genoem word is juwele. Amper almal weet dat ‘n diamant eers ‘n stuk houtskool was wat jarelank deur die elemente bewerk is. God se Woord sê vir ons: “Jou verdrukkinge is bedoel om jou te verander in iets pragtigs – iets wat vir My kosbaar is.”

Die “ringmuur [venster] van edelgesteentes” word deurskynend gemaak deur vuur. Die “ringmuur [venster]” aspek het te doen met oë of visie. God sê, dat as jy Hom vertrou deur al jou verdrukkinge heen, sal jy duidelike visie en onderskeiding ontvang. Dit sal jou toelaat om in die onsienlike in te sien – met kristalhelderheid!

Die meeste kenners glo die frase “poorte van karbonkels” lees meer akkuraat as “poorte van pêrel.” Pêrels vorm uit ‘n sandkorrel in die ingewande van ‘n oester. Die sandkorrel word saam met vloeistof ingespuit, dan geskuur en geïrriteer totdat dit ‘n pêrel word.

As jy dink aan al die geskuur, irritasies en wrywing in jou lewe, kan jy ‘n pêrel wat vorm visualiseer? Die meeste van ons kan slegs die pyn en irritasie van verkeerd opgevryf word voel; dit verg ware vertroue om ‘n pêrel deur God gevorm te visualiseer. Nietemin, elke pêrel is ‘n herinnering aan lyding, pyn, wrywing en tyd.

Ek glo Jesaja praat van die heerlikheid van Jesus Christus in hierdie gedeelte. Met ander woorde, wanneer verdrukking toegelaat word om sy werk te volbring, bring dit mense voort wat die heerlikheid van Christus se karakter uitstraal. Ons word omskep in kosbare juwele wat Sy heilige stad, wat uit die hemel kom, sal versier.