HY WAS STERK IN GELOOF

David Wilkerson

“En hy [Abraham] het nie in ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het” (Romeine 4:20-21, kursief myne). Deur sy geloof, het Abraham “aan God die eer gegee.” En soos Abraham, gee ons aan God eer wanneer ons al Sy beloftes ten volle omhels.

Wanneer alles in die lewe goed gaan, dan is dit vir ons maklik om te getuig, “God kan enigiets doen!” Ons kan ander maklik verseker dat God hulle gebede sal beantwoord en met oortuiging verklaar dat die Here altyd sy Woord hou. Maar wanneer alles rondom ons teen die vervulling van God se beloftes saamspan – wanneer alle fisiese bewyse meer soos God se toorn lyk as sy beloning – dan kom die Heilige Gees in ons na vore met woorde van ware vertroosting: “Hou vas. Vertrou Hom! Jy is nie van God se liefde geskei nie. Hy werk aan jou situasie, so moenie weifel nie. In plaas daarvan, staan op en stry die goeie stryd van die geloof.”

Ek laat jou met hierdie magtige gedeelte van die apostel Paulus. Hy herinner ons aan God se oneindige getrouheid in alle omstandighede en in elke oomblik van ons beproewing:

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:35-39).