HY SAL ONS NOOIT VERLAAT NIE

David Wilkerson

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efésiërs 6:11).

Gelowiges in oorloggeteisterde Irak sê vir ons, “Moeilike tye is nie aan die kom nie – vir ons is moelike tye reeds jarelank hier.” Hulle ken swaarkry al vir geslagte lank en hulle het geleer om aan hulle geloof vas te hou. Omdat hulle die volle wapenrusting van God opgeneem het, is hulle toegerus om boosheid te weerstaan en om die evangelie te verkondig aan diegene rondom hulle.  

Ek glo waarlik die oorgrote meerderheid van goddelike mense in die wêreld vandag, word aangeval deur die hel en ly duiwelse, skynbare hopelose situasies. Wat van jou? As jy nie huidiglik ‘n toets van geloof beleef nie, dring ek by jou aan om baie dankbaar te wees. Maar bly nederig en wees versigtig dat jy nie roem oor jou eie krag of geloof nie.

Satan wag totdat die een wat beproef word, moeg is, getap is van alle krag en deursettingsvermoë. Hy wag totdat alle gebede skynbaar onverhoor bly, totdat alles hopeloos lyk en ons aan die einde van onsself kom. Dit het met Petrus gebeur toe hy gekyk het hoe sy Meester verneder word voor die Joodse Raad (sien Matthéüs 26:57-58). En dit het met Job gebeur toe hy gedwing was om te dink aan die verlies van alles wat vir hom kosbaar was.

Vrae onstaan: “God, waar is U? Waarom word my gebede nie verhoor nie?” Wees versigtig, want presies op daardie punt sal Satan sy aaklige leuen plant: “God het jou verlaat. Hy hoor jou nie.”

God het jou nie verlaat nie – en Hy sal nooit nie. Hy het ons beveel om gereed te wees deur die volle wapenrusting van God op te neem, en toe het Hy ons verseker dat Hy ons nooit sal verlaat nie. “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Matthéüs 28:20). Op hierdie oomblik sê Hy vir jou, “Ek sal jou nooit verlaat nie.”