HY SAL ANTWOORD

David Wilkerson

Oor die jare het ons wat die Here intiem ken baie wonderwerke beleef. Ons is geseënd met Sy verlossing uit groot beproewings en versoekings.

Dekade na dekade het ons God getrou bewys te midde van ellendige omstandighede. Ons ken Hom as ons bron van krag; ons word dikwels aangeraak deur Christus se genesende hand; ons ken die vertroosting en leiding van God se Gees om elke draaie. Ons het groot kennis van die Here se talle kosbare beloftes, omdat ons gesien het hoe Hy dit vir ons in vervulling gebring het oor die jare.

DIE ONAANGERAAKTE JEUG

Ons prediking en belewenisse het in werklikheid egter nie die jong geslag ná ons aangeraak nie. Hierdie jongmense het nog nie verlief geraak op die prag van God se Woord nie, omdat hulle nog nie gehoor het dat dit in reinheid verkondig word nie. In plaas daarvan, word hulle meestal na die kerk gelok met die lokstem van vleesgesentreerde aktiwiteite en vermaak. As hulle eers binne is, is die evangelie wat hulle hoor een wat maklik is en geen oorgawe verg nie. En daardie maklike boodskap het hulle heeltemal in die steek gelaat.

Ek ken ‘n paar kerke wat jongmense in betekenisvolle getalle bereik. Maar die opkomende geslag het grotendeels nog nie God se wonderwerkende krag geken, gesien of beleef nie. Sê vir my, na wie kan hulle hul wend? Vir my, word hulle verknorsing saamgevat in ‘n onlangse koerant hoofopskrif DIE WÊRELD HET AL SY VERTROUE VERLOOR.

GOD HOOR ONS HULPGEROEP

Die profeet Jesaja het gepraat van ‘n naderende dag waarop die wêreld “brood van benoudheid en water van bedruktheid” (Jesaja 30:20) sal eet. Jesaja voorspel dat uit hierdie onheil en verdrukking ‘n hulpgeroep sal ontstaan, En wanneer God daardie hulpgeroep hoor, “sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou” (Jesaja 30:19).