HY KAN NIE WANKEL NIE

David Wilkerson

Dawid het in ‘n Psalm geskryf dat die Here “bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name” (Psalm 147:4). Dink daaraan: Dawid sê vir ons, “Wanneer jy pyn het, stop en kyk op. Jy sal besef, ‘As God dít kan doen, kan Hy sekerlik my behoefte ook aanspreek.’” Ek stem saam. As jy in jou pyn jou fokus op die majesteit van God kan hou, sal jy meer ontvang as wat enige prediker jou kan gee.

Jy mag dink dat God jou gefaal het omdat Hy nog nie verhoor het nie. Ek sê vir jou, jou wonderwerkwoord is op pad. Hy is nou besig om te werk aan jou verlossing en het daarmee begin toe jy die eerste keer gebid het. Hy het belowe om jou nooit te verlaat nie. Die see mag bruis, die berge mag in die see val en alles wat kan wankel, sal bewe. Maar Hy kan nie wankel nie en ook nie Sy doel vir Sy kerk nie.

Wanneer jy Jesus aanraak – wanneer jy die soom van Sy kleed aanraak – ontvang jy Sy krag. Toe die vrou met bloedvloeiing Hom aangeraak het, word vir ons vertel dat “krag... van Hom uitgegaan het” (Markus 5:30). Sommige vertalings gebruik die woord “deug” hier, wat “mag” beteken.  Die mag wat van Hom uitgegaan het, dui op die mag oor alle onreinheid, sonde en dood.

Onthou, Hy is die God wat alle dinge gemaak het – dit sluit vir jou en my in. As daardie God ‘n rein hart in Dawid, ‘n moordenaar en egbreker, kon skep, kan Hy dieselfde in jou doen. Hy kan jou lewe omkeer.

Liewe heilige, Jesus is op hierdie oomblik saam met jou in jou stryd. Jy kan indring en Hom aanraak so seker as wat daardie vrou met bloedvloeiing dit gedoen het. Jy kan die genesende opstandingskrag van Christus beleef, maak nie saak waardeur jy gaan nie. Hy stap langs jou daardeur en Hy het ‘n plan om jou uit die dood tot in die lewe te bring. Moenie vrees nie – Glo net!