HY HET DIE NEGE-EN-NEGENTIG VERLAAT

David Wilkerson (1931-2011)

“Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?” (Lukas 15:4). Jesus praat hier van ‘n skaap wat in die kraal was. Dit verteenwoordig duidelik ‘n lid van Christus se trop, een wat goed gevoed en gelei was deur ‘n liefdevolle herder. Maar hierdie skaap het afgedwaal sodat die herder daarna gaan soek het.

Let op wat Jesus hier sê oor die herder: “[Hy] gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry. God gee nooit moed op met iemand wat aan Hom behoort en afgedwaal het nie. In plaas daarvan, gaan die Herder uit om daardie skaap te vind, dit te omhels en terug te bring in die skuiling.

Dawid het getuig, “Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar” (Psalm 139:8). Eenvoudig gestel, jy kan sover in sonde verval dat jy op die randjie van die hel beland en Hy sal jou steeds kom soek.

Ons het almal al die uitdrukking “hel op aarde” gehoor. Dit is hoe die lewe is vir diegene wat van God af weghardloop; hulle “bed in die hel” is ‘n verskriklike toestand. Dit beteken om vasgevang te wees in sonde, verder en verder van die Here af te dwaal en uiteindelik in ‘n knaende vrees te verval om vir altyd verlore te wees.

Jy mag dalk jou bed in die hel gemaak het, maar jy is nie te diep in sonde vir Jesus om jou te bereik en met ope arms te ontvang nie. “En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers” (Lukas 15:5). Wanneer die herder die verlore, beseerde skaap kry, neem Hy dit nie direk terug na die kraal nie. Volgens die gelykenis, dra Hy die gewonde skepsel in sy huis in. Dan roep Hy al sy vriende en bure byeen, en roep uit, “Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was” (15:6).

Dit maak nie saak wat jy gedoen het nie, hoe ver jy mag afgedwaal het nie. Wanneer die Herder jou terugbring, is jy ten volle gered en Hy juig oor jou!